BOEKBEKENDSTELLING REISVERSLAG – Deel 2

Home » Reisverslag » BOEKBEKENDSTELLING REISVERSLAG – Deel 2

REISVERSLAG Upington, Springbok & Piketberg: DIE DOOD – SLAAP MET HOOP

 Ná ons besoek aan Kimberley het die reis verder deur die Noord-Kaap voortgegaan. Die pad verder deur Upington en Springbok na Piketberg was veel meer as ’n roete tussen boekbekendstellings. Dit was ’n reis van herontmoetings, eerlike gesprekke en mense wat mekaar se stories met oop harte ontvang het. Altesaam negentig mense het hierdie drie geleenthede bygewoon, en tagtig boeke is verkoop. Elke besoek het my opnuut herinner waarom ek hierdie boek wou deel.

By die VGK Rainbow in Upington het die aand met ’n klein groepie begin, maar die kring belangstellendes het geleidelik gegroei. Daar was ongelukkig geen boeke op die tafel nie, aangesien die koerier nie die nuwe voorraad betyds kon aflewer nie. Die afwesigheid van boeke het egter nie die warmte van die ontmoeting geskaad nie en ook nie mense verhinder om tog boeke te bestel nie. Veral die weersiens met vriende uit my grootwordjare in Griekwastad het my diep geraak.

Een vriendin, wat twee maande lank in ’n koma was, se positiewe lewensbeskouing het my besonder beïndruk. Rolien Brits het die onderhoud met bedagsaamheid gevoer. Haar uitstekende vrae het ruimte vir nadenke en eerlike antwoorde geskep, terwyl die gehoor aandagtig geluister het. Die gesprek word tot ‘n mate ‘n katarsis en het weereens uitgelig hoeveel betekenis daarin lê wanneer mense kans kry om oor hul ervarings te praat en met begrip aangehoor word.

Heerlike etes saam met vriende het ons tyd in Upington veels te kort laat voel. Hul gasvryheid het ook vergoed vir die gasteverblyf, wat veel te wense oorgelaat het. Die stad het ons nietemin met ’n geliefde herinnering gelaat: die sonsondergang langs die Garieprivier. Vir my is daar min dinge wat by daardie skoonheid kan kers vashou. Dit was ’n rustige teenwig vir die emosionele intensiteit van die gesprekke.

Onderweg na Springbok het die weer ’n onverwagte en verrassende belewenis gebring. Van Pofadder af het dit emmers vol gereën, en ek het elke oomblik daarvan geniet. In Springbok, tussen my geliefde Namakwalandse mense, waar klasmaat Basil en sy vrou Lin, alles gereël het, het die gesprek ’n besonder persoonlike wending geneem. By die boekbekendstelling het die gesprekke gehandel oor ernstige siekte, verlies en die rougolwe wat lank ná ’n afskeid steeds kan opwel. Mense het hul ervarings gedeel en met deernis na mekaar geluister.

My kollega en goeie vriend, Rafle Cloete, wat steeds ná ’n ernstige hartaandoening oppad na herstel is, het by my diepe medelye gewek. Ná die byeenkoms het sy vrou, Paula, nog lank haar hart teenoor my uitgestort. Willie Engelbrecht het die aand, twee dae voor sy emeritaat, professioneel gelei en die onderhoud met vrae uit die gehoor verweef. Dit het aan die gesprek ’n natuurlike verloop gegee en mense aangemoedig om deel te neem.

Die Saterdagaand se hoogtepunt was Willie se skaapstertjies: vir my die lekkerste smulhappie van die hele reis. Ek het ook wors by die plaaslike Springbok slaghuis gekoop wat, volgens my smaak, selfs Grabouw-wors oortref het. Sulke eenvoudige genietinge het hul eie plek in die reis gevind. Tussen gesprekke oor swaarkry was daar telkens ook geleenthede om saam te eet, te lag en die vreugde van ou vriendskappe te beleef. Te veel om elkeen by die naam te noem.

Piketberg was die vyfde stop en ’n gepaste plek om die gesprek voort te sit. Om daar ’n boekbekendstelling te hou, was terselfdertyd ’n geleentheid om met kollegas te vergader. Die aanbieding was knus en hartlik, met talle kollegas en vriende teenwoordig. Dit het goed aangesluit by die dorp se rustige atmosfeer en sterk gemeenskapsgees. Die vertroudheid tussen die mense het ’n aangename ruimte vir die gesprek geskep.

Die volgende dag het ek en Nanine na St. Helenabaai gereis, waar ons langs die strand vars vis geniet het. Daarna het ons by Gawie Farmer gaan kuier, ’n vriend wat ek veertig jaar tevore laas by Sasol in Secunda gesien het. Die Maandagaand het nog ’n herontmoeting gevolg: ’n braai saam met Tokkie-klasgenote aan huis van Walter Philander. Die reis het telkens nuwe geleenthede gebied om ou bande weer op te neem. Die boekbekendstellingsreis was ook ‘n wonderlike reis deur so baie fasette van my lewe.

Van die Garieprivier tot aan die Weskus het elke ontmoeting nog ’n herinnering by die reis gevoeg. Die gesprekke oor siekte en verlies, afgewissel met die vreugde van saamwees, het my opnuut laat besef hoeveel ons vir mekaar kan beteken. Nou het Kaapstad voorgelê, met verdere herontmoetings en geleenthede om die boek se boodskap te deel.

Vervolg in Deel 3

Leave a Comment