BOEKBEKENDSTELLING REISVERSLAG – Deel 1

Home » Reisverslag » BOEKBEKENDSTELLING REISVERSLAG – Deel 1

REISVERSLAG BOEK ‘LAUNCH’ JOHANNESBURG & KIMBERLEY (DEEL 1): DIE DOOD – SLAAP MET HOOP

My reis na Suid-Afrika vir my boekbekendstellingstoer, het met teenstrydige emosies begin. Daar was die heerlike afwagting van ’n weersiens met familie, vriende en oudgemeentelede, maar ook ’n diep vrees vir nog ’n beroerte. In 2021 het ek my eerste beroerte gehad, twee dae ná ’n vliegtuigreis uit Suid-Afrika. Dié herinnering het saamgereis, en my dogter, Daphne, was besonder bekommerd dat ’n volgende vlug weer ’n beroerte sou meebring.

Tog het die vreugde van die weersiens gaandeweg die vrese op die agtergrond geskuif. Soos ek vooraf gehoop en gevisualiseer het, het ek op elke plek goeie vriende raakgeloop en nuwe vriendskappe gesluit. Die ontmoetings was dikwels emosioneel. My boek het mense aangemoedig om hul eie gevoelens en herinneringe te deel. Soms kon ek reeds voordat ’n woord geuiter is, aan hul gesigte sien hoe diep die verhale van siekte, verlies en herstel hulle geraak het.

Johannesburg sou vir my die barometer vir die res van die toer wees. By die VGK Coronationville het ’n klein maar entoesiastiese groep mense saamgekom. Hulle het aandagtig na my aanbieding en die onderhoud met Wilma Paulse geluister. Die vraagstellingsessie uit die gehoor, het dikwels oorgegaan in waardering vir my werk en ondersteuning as predikant in Suid-Afrika. Ek het dit opreg waardeer; ek het nie besef dat mense soveel dankbaarheid koester nie.

Van Johannesburg het ons die reis na Kimberley onderneem. Dit is my tuisstad. Dit is hier waar ek ’n groot deel van my vormingsjare deurgebring en lidmaat van die NG Sendingkerk geword het. Hier het dominee Jaco Coetsee my geleer dat ’n predikant mense op hul eie vlak kan ontmoet en elkeen met respek kan behandel, ongeag persoonlikheid of status. Om terug te keer, was dus ook om te reflekteer oor die verlede en om weer  belangrike wortels te herontdek.

Op 20 September 2026 het ek die oggenddiens in Roodepan gelei. Ná ses jaar was dit ’n besondere voorreg om weer in Afrikaans te preek. Die kerkkoor van die VGK Vaalrivier, onder leiding van ’n talentvolle jong dirigent, het die geleentheid nog ryker gemaak. Lionel Smith se vertolking van “Roep Sy Naam” het my tot trane geroer. Taal, sang en bekende gesigte het saam van dié oggend ’n kosbare herinnering gemaak.

Die boekbekendstelling in die kerksaal van die VGK Florianville het my stoutste verwagtinge oortref. Die talle bekendes en nuwe vriende was ’n riem onder die hart. Ethan en Chanel verdien besondere dank vir hul vinnige optrede om die aanbiedingstoerusting gereed te kry en vir die mooi video’s en foto’s. Hul hulp het verseker dat ek op die aanbieding en die mense voor my kon konsentreer.

Hierdie geleentheid het ’n besondere gevoelswaarde gehad. Baie van die aanwesiges het my vóór my emigrasie as ’n gesonde mens geken en het my nou met ’n gestremdheid ontmoet. Robyn Rossouw het die onderhoud met uitnemendheid behartig. Die gesprek het vir my soos ’n herontmoeting met ’n dogter gevoel. Die gehoor het saam met my gelag en gehuil, en hul deelname het die aanbieding in ’n openhartige, emosionele ontmoeting verander.

Die boekverkope het my egter voor ’n onverwagte uitdaging gestel. Ek het honderd boeke vir vier geleenthede begroot, maar dertig is reeds in Johannesburg en sewentig in Kimberley verkoop. My aanvangsvoorraad was daarmee reeds uitverkoop. Tussen die bedrywighede deur was die weersiens met die Phillips-familie en my losiesfamilie, die Petersens van Ottostraat 9, heerlik. Almal wat ons vir ete genooi het, se gul gasvryheid bly vir my onvergeetlik.

Tydens ons verblyf het ek en Nanine ook ons vyf-en-twintigste huweliksherdenking gevier. Ons het dit op ’n gepaste manier gedoen: met een van ons gunstelingontspanningsaktiwiteite, ’n besoek aan ’n natuurreservaat. Ons bestemming was die Mokala (Tswana vir Kameel Doring) Nasionale Park, sowat tagtig kilometer buite Kimberley. Ons vriende, Colette en Meldryck Booysen, het ons met ’n heerlike piekniekmandjie bederf. Dit was ’n welkome geleentheid om tussen die boekbekendstellings deur rustig saam te wees.

Die Noord-Kaapse natuur was, soos altyd, asemrowend. Omdat ek daar grootgeword het, bly dié landskap my gunsteling. Ons het verskeie diere gesien, hoewel die kameelperde, waarvoor ek ’n besondere voorliefde het, ons ontwyk het. ’n Buffelgesin wat in die watergevulde slaggate gebad het, het darem daarvoor vergoed. Te midde van ’n besige reisprogram het hierdie uitstappie ruimte geskep om ons huwelik en die voorreg van ons samesyn en liefde te vier.

Die eerste deel van ons reis het ons met uitverkoopte boekvoorraad en ’n hart vol dankbaarheid gelaat. Ná die kosbare weersiens in Johannesburg en Kimberley, en ons rustige huweliksherdenking in Mokala, het die pad verder noordwes gewink. In Upington, Springbok en Piketberg sou nuwe gesprekke en ou vriendskappe op ons wag.  Vervolg in Deel 2

Screenshot

Leave a Comment