PREEK 4/09/’26 ROU KOM IN GOLWE – PSALM 42
VOTUM
Ons hulp is in die Naam van die Here,
wat hemel en aarde, die see en alles daarin gemaak het;
die God wat ons trane sien, ons gebede hoor
en ons vashou wanneer golf na golf oor ons slaan. AMEN
SEËNGROET
Genade en vrede vir julle van God ons Vader,
wat elke traan raaksien
en ons nooit in die diep water alleen laat nie;
van Jesus Christus, wat nie op ’n veilige afstand bly staan het nie,
maar ons lyding binnegekom het
en die dood deur sy opstanding oorwin het;
en van die Heilige Gees, ons Trooster,
wat vir ons intree wanneer ons nie kan bid nie
en ons nuwe asem gee tussen die golwe. AMEN

GEBED VOOR DIE SKRIFLESING
Here, ons kom vandag na U toe soos mense wat soms op vaste grond staan en soms voel asof diep water ons meesleur. Party van ons dra ’n vars verlies; ander dra ’n ou seer wat onverwags weer oopgaan. Maak ons nou stil voor u Woord. Gee dat ons nie net die woorde van Psalm 42 sal hoor nie, maar ook die hart van die digter sal verstaan. Help ons om ons eie trane, vrae en verlange daarin te herken. Wanneer ons voel dat golf na golf oor ons slaan, herinner ons dat U steeds naby is. Bewaar ons van maklike antwoorde en haastige troos. Gee eerder eerlikheid, geduld en ’n hoop wat diep genoeg is vir ons pyn. Laat u Gees elke bedroefde hart aanraak en ons oë op U, die God van ons lewe, rig. AMEN
SKRIFLESING: Psalm 42 : “… van die Kleinberg af waar die waters teen mekaar raas en u waterstrome bruis. U het golf na golf oor my laat slaan.”
PREEK
Inleiding
Rou kom in golwe. Wanneer iemand of iets kosbaars uit ons lewe weggeneem word, voel dit dikwels asof ons skip besig om te sink. Rondom ons dryf brokstukke van die lewe wat ons geken het: ’n foto, ’n kledingstuk, ’n tjoppie op die kole, ’n bekende lied of ’n naam wat nie meer hardop genoem word nie. Elke brokstuk herinner ons aan wat mooi en geliefd was—en nou nie meer dieselfde is nie.
Aanvanklik kan die golwe so vinnig kom dat ’n mens skaars asem kry. Jy probeer net deur die dag kom. Jy staan op, trek aan en doen wat noodsaaklik is. Vir ’n tyd lank is dit genoeg om bloot te bly dryf.
Psalm 42 kom nie na ons met ’n maklike verduideliking nie. Die digter sê eerlik dat sy siel dors, dat sy trane dag en nag sy metgesel is en dat God se golwe oor hom slaan. Dit is geloofstaal sonder ’n masker, geloofstaal sonder toneelspel… Die Bybel maak ruimte vir ’n mens wat glo én huil, hoop én worstel. Daarom hoef ons vandag nie voor te gee dat alles reg is nie.
Rou volg nie ’n netjiese roete nie
Ons sou graag wou hê dat rou ’n duidelike pad moes volg: eers skok, dan hartseer, daarna aanvaarding, en uiteindelik herstel. Maar rou is nie ’n lysie waarop ons elke fase kan afmerk nie. Dit beweeg heen en weer, dit kom en gaan…. Vandag kan jy sterk voel; môre kan ’n klein ‘memory’ jou heeltemal oorweldig.
Die digter van Psalm 42 beweeg ook heen en weer. Die een oomblik stort hy sy hart uit; die volgende oomblik praat hy vir homself moed in sy eie siel: “Vertrou op God” sê hy. Daarna kla hy weer. Hierdie beweging beteken nie dat sy geloof klein is nie. Dit wys hoe geloof binne die werklikheid van pyn leef.
Moenie jouself veroordeel wanneer ’n nuwe golf kom nie. Dit beteken nie dat jy agteruitgaan of “nog nie klaar gerou het nie”. Rou is die langsame proses waardeur jy leer om met ’n veranderde werklikheid saam te leef. Jou lewe word nie eenvoudig weer soos voorheen nie. Met God se hulp word dit op ’n nuwe manier saamgevoeg—stukkie vir stukkie, dag vir dag.
Die golwe het verwagte en onverwagte aanstekers
Sommige golwe kan ons sien aankom. ’n Verjaarsdag, sterfdatum, huweliksherdenking, Kersfees of familiebyeenkoms verskyn op die kalender. Reeds dae voor die tyd kan ’n mens rusteloos, moeg of buitengewoon emosioneel voel. Jou liggaam onthou soms voordat jou gedagtes verstaan waarom jy swaarkry.
Ander golwe kom sonder waarskuwing. Jy hoor ’n lied in ’n winkel. Jy ruik koffie soos dit vroeër in die kombuis geruik het. Iemand lag op presies dieselfde manier. Skielik breek die golf oor jou.
Wanneer dit gebeur, wees sag met jouself. Haal asem. Noem wat gebeur: “Ek mis hom. Ek verlang na haar. Hierdie oomblik maak seer.” Indien moontlik, bel iemand wat geduldig kan luister, iemand met ’n simpatieke oor. Maak ruimte in jou agenda. Gee vir rou plek in jou dagboek. Jy hoef nie elke traan weg te steek of elke emosie onmiddellik te beheer nie.
Psalm 42 leer ons om ons verdriet nie net te voel nie, maar ook om verdriet na God te neem. Gebed kan soms bloot wees: “Here, hier kom die golf weer. Hou my vas.”
God staan nie op ’n veilige afstand nie
Die digter praat van “U waterstrome” en “U golwe”. Hy probeer nie beweer dat hy verstaan waarom alles gebeur het nie. Hy bely eerder dat selfs hierdie golwende waters nie buite God se teenwoordigheid lê nie.
Dit is belangrik: God staan nie op die strand en skree bloot advies na ’n verdrinkende mens nie. Hy kom in Christus tot binne-in ons lyding. Jesus het gehuil by Lasarus se graf. Hy ken afskeid, verlatenheid en dood. Daarom is Sy teenwoordigheid nie koue teorie nie, maar medelye.
Ons mag vra: “Waarom, Here?” Ons mag sê: “Ek voel vergete.” Ware geloof onderdruk nie hierdie vrae nie; dit neem hulle na God toe. Die Here is groot genoeg vir ons eerlikheid.
Wanneer jy nie kan bid nie, kan ander namens jou bid. Wanneer jy nie kan glo nie, kan die geloofsgemeenskap jou dra. Soms is God se hand sigbaar in ’n ete wat gebring word, ’n stil besoek, ’n boodskap of iemand wat sonder verduidelikings langs jou sit.
Tussen die golwe is daar weer lewe
Met verloop van tyd verander die brander golwe dikwels. Hulle verdwyn nie noodwendig nie, maar hulle kom verder uitmekaar. Tussen hulle ontstaan daar weer oomblikke waarin jy kan asemhaal, werk, lag en iets moois raaksien.
Moenie skuldig voel wanneer vreugde terugkeer nie. Om weer te lag beteken nie dat jy vergeet het nie. Om verder te leef, verraai jy nie die een wat gesterf het nie. Die liefde kan bly, selfs wanneer die vorm van die verhouding verander het.
Bewaar herinneringe indien dit help. Skryf verhale neer. Maak ’n foto-album. Plant iets. Steek op besondere dae ’n kers aan. Deel die geliefde se naam en stories. Sulke rituele gee aan die liefde ’n nuwe taal.
Die digter sê: “Tog sal ek weer vir Hom ’n loflied sing.” Die woord “weer” erken dat hy nog nie daar is nie, maar dat hy uitsien na ’n dag waarop lof moontlik sal wees. Christelike hoop ontken nie die storm nie. Dit vertrou dat die storm nie die laaste woord het nie.
Samevatting
Rou kom in golwe. Sommige branders is hoog en genadeloos; ander is kleiner, maar tref ons onverwags. Ons kan nie bepaal wanneer hulle kom nie, maar ons kan leer waarheen om ons te wend wanneer hulle oor ons breek.
Psalm 42 nooi jou vandag tot drie eenvoudige dinge.
Eerstens: wees eerlik. Noem jou pyn en bring dit na God.
Tweedens: wees geduldig met jouself. Jy hoef nie volgens iemand anders se tydlyn te herstel nie.
Derdens: moenie alleen probeer dryf nie. Gryp die hand van iemand wat saam met jou kan bid, luister en onthou.
Dalk kan jy vandag nog net aan ’n klein brokstuk vashou—’n herinnering, ’n belofte of die teenwoordigheid van ’n vriend. Hou vas. God verwag nie dat jy die hele oseaan vandag moet oorsteek nie.
Praat ook met jou eie siel: “Waarom is ek so onrustig? Vertrou op God.” Nie omdat die pyn onbelangrik is nie, maar omdat God groter as die golf is. Die Here wat jou in die storm vashou, sal jou ook deur die volgende golf dra. Tussen die golwe is daar asem. Tussen die golwe is daar genade. Tussen die golwe is daar weer lewe. AMEN
GEBED NA DIE PREEK
Here, God van ons lewe, dankie dat ons nie ons verdriet vir U hoef weg te steek nie. U sien elke traan, ken elke leë plek en hoor selfs die gebede waarvoor ons nie woorde het nie. Ons bid vir elke mens wat vandag deur ’n golf van rou oorval word. Wees naby wanneer herinneringe seermaak, wanneer besondere datums naderkom en wanneer die nag lank en eensaam voel.
Gee ons die genade om sag met onsself en geduldig met ander te wees. Bewaar ons daarvan om mense se pyn met maklike antwoorde stil te maak. Leer ons om teenwoordig te wees, te luister en saam te dra.
Wanneer ons voel dat ons sink, wees ons rots. Wanneer ons nie kan bid nie, laat U Gees vir ons intree. Wanneer ons nie hoop kan vind nie, hou U die hoop namens ons vas. Dankie dat liefde nie deur die dood uitgewis word nie en dat ons in Christus uitsien na die dag wanneer trane afgedroog en alles nuut gemaak sal word. AMEN
Seënbede
Mag die Vader jou vashou wanneer die golwe hoog word.
Mag Christus langs jou wees in elke donker diepte.
Mag die Heilige Gees jou asem en nuwe moed gee.
Mag liefdevolle mense jou omring en jou las help dra.
Mag God se vrede jou tussen elke golf bewaar. AMEN