BLOGAANKONDIGING 10 TOT 16 MAART 2025 NUWE REEKS DAGSTUKKIES

Home » blog » legacy » BLOGAANKONDIGING 10 TOT 16 MAART 2025 NUWE REEKS DAGSTUKKIES

10 – 16/3/2025 NUWE REEKS DAGSTUKKIES – WAT IS JOU NALATENSKAP?

Noudat ek ouer word, bring die gedagte aan die kortstondigheid van die lewe en die sekerheid van die dood ’n nadenke of besinning oor hoe ek onthou sal word. Ek het baie dinge in my lewe gedoen waarvoor ek spyt is en wat ek graag anders sou wou doen. Het jy ook daai gevoel? Tog is daar ook dinge waarop ek trots is en wat ek enige tyd weer sou doen. Jongmense werk noual aan jou legacy, dis nooit te vroeg om te begin nie. Dit is verrassend dat diegene wat die grootste nalatenskap laat, dikwels nie bekende of prominente figure is nie, maar nederige en vriendelike diensknegte wat tot eer van God geleef het. Deur die nalatenskap van mans en vroue wat óf ‘n positiewe óf ‘n negatiewe invloed op Paulus se bediening gehad het, moedig ek, julle aan om só te leef dat ons gemis sal word en toekomstige geslagte geseën sal wees.

Definisie van Nalatenskap (LEGACY)

‘Nalatenskap is nie net die rykdom of besittings wat ons agterlaat nie, maar ook die impak van ons karakter, geloof en verhoudings. Dit is die geestelike, emosionele en morele erfenis wat ons nalaat vir dié wat ná ons kom.

Daaglikse Temas & Besinninge

MAANDAG 10/3/2025 – Die Betekenis van die Woord Nalatenskap

Nalatenskap is nie net materiële rykdom nie, maar ook die waardes, geloof en wysheid wat aan toekomstige geslagte oorgedra word. Ons lewens is soos ‘n kunstenaar se doek, en elke daad verf ‘n prentjie wat ná ons dood sal bly.

DINSDAG, 11/3/2025 – Die Vooruitsig van die Nadering van die Dood

Jakobus sê vir ons dat ons lewens soos ‘n mis is wat vir ‘n kort rukkie verskyn en dan verdwyn. Die realiteit van die dood bring duidelikheid aan die lewe en dwing ons om te besin oor watter nalatenskap ons agterlaat.

WOENSDAG 12/3/2025- Beelde Bring Herinneringe

Elke prentjie vertel ‘n storie. Wanneer ons ou foto’s sien van geliefdes, onthou ons hul vriendelikheid, bemoediging en invloed. Die Bybel bied ons ook literêre portrette van mense wie se lewens óf positiewe óf negatiewe nalatenskappe gelaat het.

DONDERDAG 13/3/2025- Skadelike Nalatenskappe

Paulus noem in 2 Timoteus mense wat ‘n skadelike nalatenskap gelaat het, soos Fygelus en Hermogenes, wat hom in tye van beproewing verlaat het. Hul impak dien as ‘n waarskuwing om getrou en toegewyd te bly.

VRYDAG 14/3/2025 – Helpende Nalatenskappe

In teenstelling met skadelike nalatenskappe, praat Paulus ook oor Onesiforus, wat hom verkwik het en nie skaam was vir sy boeie nie. Hierdie mense se vriendelikheid en getrouheid maak ‘n blywende impak.

SATERDAG 15/3/2025- Wat van Ons?

Ons moet besluit om só te lewe dat ons gemis sal word om die regte redes. Ons nalatenskap word gevorm deur die klein dade van vriendelikheid, getrouheid en liefde wat ons elke dag toon.

PREEK SONDAG 16/3/2025 – LEGACY

Met God se krag kan ons lewens leef wat Hom eer en ‘n betekenisvolle nalatenskap laat. Ons weet nooit wanneer ons laaste deposito in die lewens van ander gemaak is nie, daarom moet ons elke dag met doelbewustheid leef.

OPROEP TOT AKSIE: DEEL EN BETREK

Hierdie week moedig ek jou aan om te besin oor jou eie nalatenskap. Watter storie skryf jy met jou lewe? Hoe sal jy onthou word? Deel hierdie dagstukkies met jou familie, vriende, sosiale groepe en kerk gemeenskappe. Laat ons mekaar inspireer om tot God se eer te leef en ‘n nalatenskap te laat wat geslagte lank sal voortduur!

Mag God jou seën op hierdie reis van geloof!