EENSAAMHEID OORDENKINGS: WOENSDAG 10 JULIE 2024
PSALM 22: “My God, my God, waarom het U my verlaat?”
In Psalm 22 vind ons iemand in die diepste ellende, iemand wat voel dat hy deur almal, selfs God, verlaat is. Hierdie woorde kom ooreen (resoneer) met die ervarings van baie wat in groot teëspoed verkeer en God se teenwoordigheid van heel ver voel. Wanneer ons onopgeloste vrae en ellende deurmaak, voel dit soms asof die Here ver weg is. Hierdie woorde het later ‘n eggo gevind in Jesus se uitroep aan die kruis. Hy het Homself verlaat gevoel deur God, wat sy pyn en eensaamheid vererger het. Sommige uitleggers sê dat Jesus hierdie woorde net gesê het omdat dit so gevoel het, maar dit gaan verder as net ‘n gevoel.
Jesus se ervaring aan die kruis toon ‘n werklike verlating deur God. Waar Hy altyd in gemeenskap met sy Vader gelewe het, is hierdie nou verbreek. God het Hom geen moed, geen krag, geen hoop gegee nie. Selfs geen lewenskrag. God het Hom losgelaat, heeltemal. Sy Vader het Hom in die steek gelaat. Hierdie helse diepte van eensaamheid wat Jesus ervaar het, herinner ons daaraan dat Hy ons donkerste oomblikke verstaan. Wanneer ons deur tye van verlatenheid gaan, kan ons troos vind in die wete dat Jesus dieselfde pad geloop het en dat ons nooit werklik alleen is nie. Hy help en onderskraag ons!

GEBED
Here God, U wat ons nooit werklik verlaat nie, ons roep na U in ons tye van verlatenheid en pyn. Net soos die digter van Psalm 22 en Jesus aan die kruis, voel ons soms verlate en alleen. Gee ons die krag en moed om aan U vas te hou, selfs wanneer ons U nie kan aanvoel nie. Help ons om te onthou dat U altyd by ons is, selfs in ons donkerste oomblikke. Laat ons u teenwoordigheid en troos ervaar, en vul ons harte met u vrede. In Jesus se Naam bid ons, AMEN