PREEK 12 APRIL 2026 WANNEER JY JOU SKULD BELY, ONTVANG JY GOD SE GENADE

Home » blog » Preke » PREEK 12 APRIL 2026 WANNEER JY JOU SKULD BELY, ONTVANG JY GOD SE GENADE

PREEK 12/04/’26 UIT DIE SKADU VAN SKULD NA DIE LIG VAN GENADE

GEBED VOOR SKRIFLESING

Here ons God, ons word stil voor U. Maak ons harte oop vir u Woord. Laat die lig van u waarheid oor ons skyn, sodat ons onsself eerlik sal sien en U duideliker sal ken. Gee dat Esra 9 in ons binneste sal groei. Leer ons dat U genade groter is as ons skuld. Spreek, Here, want ons luister. AMEN

SKRIFLESING:  ESRA 9 verse 1 tot 15 : “ ….  En nou was daar vir ‘n klein oomblik genade van die kant van die Here onse God, om vrygeraaktes vir ons te laat oorbly en ons ‘n pen te gee in sy heilige plek, sodat onse God ons oë verhelder het en ons ‘n bietjie verademing geskenk het in ons diensbaarheid. … “

PREEK

Inleiding

Geliefde Bloglesers van ons Here Jesus Christus, daar was eendag twee seuns wat agter ’n ou skuur met droë takke en papier gespeel het. Wat soos ’n speletjie begin het, het gou gevaarlik geword. Hulle het die vuur aangesteek, gelag oor die vlammetjies, en toe ’n stuk plastiek ook daarop gegooi. Skielik het ’n dik, swart rookwolk begin opstyg. Die reuk was skerp en verstikkend. Die rook het oor die fietspad gehang. Die seuns het groot geskrik en toe weggehardloop. Hulle het bo in ’n kamer gaan sit, stil, benoud, bang vir die gevolge. Niemand hoef dit tog te weet nie, het hulle gedink. Maar die rookreuk het aan hulle klere en hande vasgesit.

Later het die ma ingestap. Sy het die rook geruik en gevra: “Wat het gebeur? Hoekom ruik julle so na rook?” Toe bars die waarheid uit. Hulle het alles vertel. Sy het nie gemaak asof dit niks is nie. Sy het gesê dit was verkeerd. Maar sy het ook gesê: “Kom, ons maak dit reg. Kom ons gaan blus die smeulende vuur” Meteens het die verstikkende gevoel in hulle harte ligter geword.

Só werk dit ook met sonde. Wat ons probeer wegsteek, hou aan smeul en rook. Maar wanneer dit bely word, begin genade ons opruim, skoonmaak, nuutmaak …..

God se genade laat ons ons skuld raaksien

Esra 9 vers 8 laat ’n helder straal lig oor ’n donker toneel val: “Maar nou het die Here ons God vir ’n kort tydjie genade betoon.” Voordat Esra die volk se sonde uitspel, sien sy eers God se genade raak. Die Here het ’n oorblyfsel laat gelos om ’n nuwe begin te maak. Hy het vir haar volk weer ’n vastrapplek gegee. God het hulle oë laat ophelder. Hy het nuwe lewe gegee weg van slawerny. Die Here het nie Sy volk weggegooi nie. Hy het hulle vasgehou.

Juis dít maak sonde so ernstig. Sonde is nie net die oortreding van ’n reël nie; dit is ondankbaarheid teenoor ’n genadige God. Wanneer die lig van God se goedheid oor ons lewe val, begin ons sien waar ons verkeerd geloop het. Dan besef ons: ek het nie net foute gemaak nie; ek het die liefde van God verwerp!

Dit gebeur vandag nog. God dra ons, beskerm ons, voorsien vir ons, gee families, ’n gemeente, die evangelie, en bowenal Sy Seun. Tog kan ons koud word, koppig raak, hard praat, onrein leef, bitterheid dra, of ons eie wil kies. Daarom begin ware belydenis by verwondering oor genade. Wie God se goedheid sien, kan nie ligtelik oor skuld dink nie.

Skuldbelydenis moet eerlik en konkreet wees

Esra staan nie op ’n afstand en praat oor “hulle” sonde nie. Sy bid as deel van die volk. Sy sê eintlik: “Ons het verkeerd gedoen.” Dit is ware skuldbelydenis. Nie verskonings nie. Nie mooi woorde sonder gevoel nie. Word nie gesê: “As ek dalk iemand seergemaak het…” soos ons so dikwels sê. Maar: “Here, ek hét verkeerd gedoen.” Belydenis noem dinge op hulle naam. Hoogmoed moet hoogmoed genoem word. Ontrou moet ontrou genoem word. Leuens moet leuens genoem word. ’n Vuil vloekerige tong, vuil gedagtes, geheime sondes, liefdeloosheid, jaloesie, nalatigheid in gebed — dit moet voor God gebring word.

Dit is seer om eerlik te wees. Ons vlees soek altyd versagting. Ons sê: almal doen dit; ek was moeg; ek was kwaad; ek het dit nie só bedoel nie. Maar genesing begin wanneer die wond oopgemaak word. ’n Mens kan nie vuil water skoonmaak deur ’n deksel daarop te sit nie. Jy moet dit uitgooi. So moet die hart voor God ontbloot word.

In huwelike, gesinne en gemeentes is dit net so. Baie konflikte bly lank aan die smeul omdat niemand eerste wil sê: “Ek was verkeerd” nie. As iemand werklik bely, begin die Here mense se harte sag maak om te vergewe. Om skuld te bely, verootmoedig jou sodat Hy jou kan genees.

In Christus word belyde skuld vergewe

Die goeie nuus van die evangelie is nie net dat ons skuld mag erken nie, maar dat as ons ons oortedings bely word dit vergewe. God roep ons nie om ons sonde te bely sodat Hy ons verder kan verneder nie. Hy roep ons sodat Hy ons kan herstel. In die Ou Testament sien ons trane en gebede; in die Nuwe Testament sien ons die volkome antwoord: Jesus Christus, die Lam van God. Hy het die las gedra wat ons nie kon dra nie. Hy het aan die kruis die vuur-rook van ons skuld gedra en die donker van ons sonde op Hom geneem.

Daarom is belydenis nie ’n hopelose daad nie. Dit is om met leë hande na die kruis te kom. Wanneer jy sê: “Here, wees my sondaar siel genadig,” antwoord die evangelie: “Daar is vergifnis by God.” Nie goedkoop vergifnis nie, maar duur genade.

Miskien dra iemand vandag ’n ou sonde soos ’n swaar klip op die bors. Hoor dan die troos: as jy met waarheid bely en in Christus skuil, hou God jou sonde nie teen jou nie. Hy vergewe werklik. En waar Hy vergewe, begin nuwe gehoorsaamheid groei. Vergifnis maak nie sonde klein nie; dit maak God GROOT en die hart nuut.

Samevatting

Bloglesers, die boodskap is eenvoudig, maar betekenisvol: as jy bely, word skuld vergewe. Nie omdat belydenis op sigself verdienstelik is nie, maar omdat God genadig is in Jesus Christus. Soos die seuns by die vuur moes erken wat gebeur het voordat daar vrede kon kom, so vra die Here dat ons nie met rook in ons harte moet rondloop nie. Hy wil hê ons moet na Hom toe kom. Nie môre nie. Nou.

Dalk moet jy vandag by die Here bely dat jou hart koud geword het. Dalk moet jy erken dat jy al lank in die kerk sit, maar min bid. Dalk moet jy jou trots, jou humeur, jou geheime sonde, jou onversoenlikheid, of jou dubbele lewe voor Hom neerlê. Dalk moet jy ook na ’n mens toe gaan en sê: “Vergewe my.” Dit is die begin van genesing.

Luister mooi: God se genade is nie ’n klein druppel vir klein sondes nie. Dit is ’n stroom vir skuldiges. Hy gee weer lig vir dowwe oë. Hy gee weer ’n vastrapplek vir wankeles. Kom dan uit die skaduwee. Bring jou skuld na die kruis. Bely dit eerlik. Glo opreg in die evangelie. En loop vandag hier weg met die vars wind van God se vergifnis in jou siel. AMEN

GEBED

Here ons Vader, dankie vir u Woord wat ons wakker skud en ook troos. Dankie dat U nie wegdraai van mense wat met gebroke harte na U toe kom nie. Ons bely voor U dat ons dikwels probeer wegsteek, versag, uitstel en verskoon. Vergewe ons. Was ons skoon deur die bloed van Jesus Christus. Gee vir ons eerlike harte, sagte gewetens en die moed om te bely waar ons verkeerd gedoen het. Bring herstel in huise, genesing in verhoudings en vrede in onrustige gemoedere. Laat u Heilige Gees ons lei om nie net vergifnis te ontvang nie, maar ook nuut te leef. Laat u genade ons oë ophelder en ons voete op u pad hou. In Jesus se Naam. Amen.

SEËNBEDE

Mag die Here jou oë verlig met die glans van Sy genade.

Mag Hy jou hart versterk om die pad van waarheid te kies.

Mag die vergifnis van Christus jou bevry van alle vrees.

Mag die Heilige Gees jou lei in elke stap wat jy gee.

Mag die vrede van God, wat alle verstand te bowe gaan, jou belydenis kroon met Sy ewige liefde. AMEN

Leave a Comment