PREEK SONDAG 19 JULIE 2026 – WANNEER CHRISTUS ONTWAPEN: VAN BENDEGEWELD NA ’N GEMEENSKAP VAN HOOP

Home » blog » Preke » PREEK SONDAG 19 JULIE 2026 – WANNEER CHRISTUS ONTWAPEN: VAN BENDEGEWELD NA ’N GEMEENSKAP VAN HOOP

PREEK 19/7/’26  BENDEGEWELD CHRISTUS SE PAD VAN VREDE VIR GEWONDE STRATE

Gebed voor Skriflesing

Here ons God, maak ons harte stil voor U Woord. Ons bring ons strate, huise, jongmense en gewonde gemeenskappe na U. Ontwapen ons vrees, woede en haat. Wys ons hoe Christus harte nuut maak, wapens in ploegskare verander, en u vrede laat groei waar geweld regeer. Spreek, Here; u kinders luister. AMEN

SKRIFLESING: Jesaja 2:2–5 en 2 Korintiërs 5:17 “ … Hulle sal van hulle swaarde ploegskare smee en van hulle spiese snoeiskêre. Die een nasie sal nie meer die swaard teen die ander opneem nie, en hulle sal nie meer leer om oorlog te maak nie…”

PREEK

Inleiding

Wanneer ons vandag die koerante oopmaak of na die daaglikse nuus kyk, word ons oorweldig deur berigte van gebrokenheid. Ons lees van huishoudelike geweld, dwelmmisbruik, amptenare gierigheid en veral die bloedige spoor van bendegeweld op ons strate. Die natuurlike menslike reaksie op hierdie geweld is om bloot die uiterlike simptome te probeer veg. Die wêreld spandeer miljoene rande aan sekuriteit, meer polisie, verhoogde tegnologie en uiterlike herstrukturering van omgewings, in die hoop dat mense sal floreer as hul omstandighede verander.

Bendegeweld begin nie eers wanneer ’n sneller getrek word nie. Dit begin vroeër: in ’n hart wat seergemaak is, in ’n kind wat nie veilig voel nie, in ’n jongmens wat glo niemand sien hom raak nie, in ’n huis waar trauma lankal ingetrek het. Die wapen in die hand is dikwels die sigbare teken van ’n hartswond. Elke bende oorlog en elke skietery op ’n straathoek is die uiterlike vrug van die dodelike sosiale siekte wat die binneste Opgaardam van die mens besmet het.

Ons gemeenskappe ken die pyn: skote in die nag, moeders wat wag, kinders wat onder beddens wegkruip, skole wat met vrees oopmaak, begrafnisse wat te gereeld kom.

Ons vra: Hoe kan ons dit verander? Meer polisie kan help. Beter wetstoepassing is nodig. Onderwys, werk, sport en veilige ruimtes is belangrik. Maar die Bybel herinner ons: die probleem is nie net buite ons nie; dit lê ook binne-in ons.

Jesaja sien ’n ander wêreld: swaarde word ploegskare, spiese word snoeiskêre. Dit is nie net minder wapens nie; dit is nuwe harte. God verander instrumente van dood in werktuie van lewe. Christus begin nie net by die straat nie. Hy begin by die mens.

Wapenkultuur belowe beskerming, maar bring gevangenskap

Wapenkultuur fluister vir jongmense: “Met ’n wapen sal hulle jou respekteer. Met ’n bende sal jy ook ‘behoort aan’. As ander jou vrees sal jy veilig wees.” Dit klink soos beskerming, maar dit word ’n tronk. Die wapen wat glo veiligheid gee, bring dikwels meer vyande, meer vrees, meer bloed en meer verlies.

Bendes bied soms iets wat families, skole en samelewings nie kan voorsien het nie: ’n naam, ’n groep, ’n plek, ’n gevoel dat jy saak maak. Vir ’n jongmens wat verwaarloos, verwerp of verneder voel, kan dit soos familie lyk. Maar dit is ’n familie gebou op sand.

Dit vra uiteindelik jou gewete, jou liggaam, jou vryheid en soms jou lewe. Gister se vriende word vandag se verraaiers, en die bende kan jou nooit beskerm teen die diep emosionele en fisiese pyn van die straatlewe nie.

Dit is ’n misleidende aksieplan wat uiteindelik net twee dinge waarborg: ’n lang gevangenisstraf of ’n vroeë graf. Die wapen wat bedoel was om jou te verdedig, word die tralies van jou eie sel.

Die Here roep ons om die leuen te ontmasker. Geweld gee nie ware waardigheid nie. ’n Wapen kan nie die diep pyn van verwerping genees nie. ’n Bende kan nie ’n siel veilig maak nie. Daarom moet ons nie net vra: “Waar kom die wapens vandaan?” nie. Ons moet ook vra: “Watter pyn maak dat ’n kind ’n wapen soos ’n identiteit vashou?”

Christus gee ’n nuwe identiteit en ’n nuwe doel

2 Korintiërs 5 sê: “Iemand wat aan Christus behoort, is ’n nuwe mens. Die oue is verby, die nuwe het gekom.” Dit is ’n evangeliewoord vir elke mens wat glo sy storie is klaar geskryf. Vir die jongmens wat dink: “Ek is net ’n gangster.” Vir die pa wat sê: “Ek het te veel verkeerd gedoen.” Vir die ma wat huil: “My kind is verlore.”

Christus kom nie net om mense bietjie beter te maak nie. Hy maak nuut. Hy verander die verhaal. Hy sê: jy is meer as jou straatnaam, meer as jou rekord, meer as jou wonde, meer as wat mense van jou sê. In Christus kry ’n mens ’n nuwe identiteit: geliefde kind van God. En saam met daardie identiteit kom ’n nuwe doel: om te dien, te bou, te herstel, te getuig.

Jesaja se beeld word dan persoonlik. Die swaard word ’n ploegskare. Die hand wat seergemaak het, kan begin bou. Die mond wat gedreig het, kan begin troos. Die lewe wat vrees versprei het, kan hoop dra.

Geen mens is te krimineel vir God’s genade nie. Geen gemeenskap is te geweldadig vir God’s lig nie.

Die kerk moet ’n alternatiewe familie van hoop wees

As ons sê Christus ontwapen harte, moet die kerk self ’n plek wees waar mense veilig kan ontwapen. Die kerk mag nie net bendegeweld veroordeel van ’n afstand af nie. Ons moet ’n alternatiewe familie van hoop word: ’n plek waar jongmense gesien word voordat bendes hulle sien; waar hulle name geken word voordat straatgroepe hulle nuwe name gee.

Dit beteken die kerk moet nie net bid nie, maar ook teenwoordig wees. Ons moet jongmense begelei, huisgesinne ondersteun, trauma ernstig opneem, vaardighede ontwikkel en mense verbind aan geleenthede. Ons moet vaders en moeders in die geloof wees vir kinders wat te vroeg alleen moes grootword.

Die kerk moet ook profeties praat en protesteer teen onreg. Ons moet as kerk in die strate loop en protesteer teen die faktore wat Bendes laat floreer. Faktore soos: Armoede, werkloosheid, dwelms, Alkohol misbruik, korrupsie, swak behuising en gebroke onderwys vorm die grond waarin geweld groei. Ons mag nie net vir jongmense sê “hou op” nie; ons moet ook help om ’n ander pad oop te maak.

Wanneer die kerk die liggaam van Christus is, word sy huis ’n plek van Protes. Die kerkgebou word ’n alternatief vir ’n bende den! Haar huis word ’n skuilplek. Haar tafel word ’n teken van genade. Haar getuienis sê: Jy hoef nie te sterf om te behoort nie. In Christus is daar lewe.

 Hoe kan die KERK help – Sewe praktiese wenke

  1. Bid by die naam vir jongmense, families, skole, slagoffers en selfs oortreders. Gebed maak ons hande beskikbaar.
  2. Skep veilige ruimtes waar jongmense kan praat sonder om verneder of veroordeel te word.
  3. Begin mentorskap. Een volwassene wat getrou luister, kan ’n jongmens se pad verander. 500 volwassenes kan 500 studente se lewe verander ..
  4. Ondersteun ouers en grootouers wat alleen probeer om kinders deur gevaarlike strate groot te maak.
  5. Help met vaardighede: CV’s, ambagte, huiswerk, sport, musiek, dissipline en lewensbeplanning.
  6. Werk saam met skole, gemeenskapswerkers, beraders, kerke en betroubare organisasies. Geen gemeente kan alleen alles dra nie.
  7. Praat die waarheid met liefde. Moenie geweld romantiseer nie. Moenie bendes helde maak nie. Noem sonde sonde, maar hou altyd die deur van genade oop.

6. Samevatting en fokus-appèl

Gemeente, bendegeweld is nie net ’n probleem van wapens nie. Dit is ’n probleem van harte, huise en gemeenskappe wat verwond is. Daarom het ons meer nodig as vrees en veroordeling. Ons het Christus nodig, wat mense van binne af nuut maak.

Jesaja wys vir ons God se droom: wapens word werktuie van lewe. 2 Korintiërs wys vir ons God se metode: mense word nuwe skepsels in Christus. Die evangelie sê nie dat verandering maklik is nie. Dit sê wel dat verandering moontlik is.

Vir jongmense sê die Here: jou lewe hoef nie aan ’n bende te behoort nie. Jy hoef nie met vrees belangrik te voel nie. Christus ken jou naam.

Vir ouers sê die Here: moenie ophou bid nie. Moenie ophou liefhê nie. Soek hulp. Dra nie alleen nie.

Vir die kerk sê die Here: wees ’n familie van hoop. Bou waar ander breek. Luister waar ander oordeel. Skep ruimte waar kinders weer kan asemhaal.

Laat ons vandag bid: Here, begin by my hart. Ontwapen my woede. Ontwapen ons huise. Ontwapen ons strate. Maak ons werktuie van vrede.

Gebed na die preek

Here Jesus Christus, U ken ons strate, ons kinders en ons trane. Ons bring bendegeweld, wapens, vrees en gebroke families voor U. Ontwapen harte wat deur woede, trauma en sonde vasgevang is. Troos slagoffers en verander oortreders. Maak ons kerk ’n veilige familie van hoop. Gee ons moed om te bid, te help, te praat en te bou. Laat u vrede in ons gemeenskappe begin. AMEN

Seënbede

Mag die Vader jou hart genees van vrees, woede en wanhoop.
Mag Christus jou leer om wapens neer te lê en lewe vas te hou.
Mag die Heilige Gees jou huis vul met vrede en moed.
Mag die Here ons gemeenskap verander van ’n plek van vrees na ’n tuin van hoop.
Mag julle gaan as vredemakers, nuwe mense in Christus, draers van God se lig. AMEN

“Wanneer Christus die hart ontwapen, val wapens uit hande, huise word veiliger, strate kry asem, en gebroke mense ontdek weer hulle naam, waardigheid, roeping en hoop voor God en mekaar.”

Leave a Comment