PREEK 26 APRIL 2026: PASOP VIR DIE GAT WAT JY GRAWE – GOD SE BOEMERANG GEREGTIGHEID

Home » blog » Preke » PREEK 26 APRIL 2026: PASOP VIR DIE GAT WAT JY GRAWE – GOD SE BOEMERANG GEREGTIGHEID

PREEK 26/04/26 KARMA GEREGTIGHEID – GRAWE ’N GAT VIR ’N ANDER — VAL SELF DAARIN

GEBED VOOR SKRIFLESING

Almagtige en regverdige God, ons buig voor U as die Een wat die harte en gedagtes van alle mense deurgrond. Waar ons met slinkse planne speel, keer ons om. Leer ons om die pad van waarheid en vrede te kies, en om ons naaste lief te hê soos onsself. Laat hierdie Skrif vir ons ’n spieël wees en ’n lamp op ons pad. Help ons om nie net die woorde te hoor nie, maar om die waarheid daarvan in ons daaglikse handel en wandel te integreer. Laat ons vandag leer wat dit beteken om in opregtheid voor U te lewe, en bewaar ons van die strikke van die bose. AMEN

SKRIFLESING: Psalm 7:15-16 “Kyk, die bose is swanger van onreg, hy is vol kwaad en bring leuens voort. Hy grawe ’n gat, diep en wyd, maar val self in die gat wat hy gemaak het.”

PREEK

Inleiding

Psalm 7 is ’n gebed uit die hitte van konflik. Dawid word beskuldig, gejaag, en hy voel die druk van mense wat hom wil breek. Dan gebruik hy ’n beeld wat elkeen van ons verstaan: iemand grawe ’n gat vir ’n ander—maar val self daarin – “poëtiese geregtigheid”. Dis nie net ’n spreekwoord nie; dit is ’n geestelike wet wat die Here keer op keer in die lewe laat sien: kwaad wat beplan word teen jou medemens, draai dikwels om en tref die beplanner.

Die Psalmis gebruik die beeld van ’n jagter wat met groot moeite ’n lokval voorberei. Hy grawe ’n diep gat, bedek dit sorgvuldig met takke en gras, en wag dat sy prooi daarin moet trap. Maar dan, in ’n onverwagse wending van die lot, vergeet hy van sy eie strik en bevind homself onder in die donker diepte van sy eie skepping.

Vandag staan ons stil by hierdie ernstige waarskuwing. Dit gaan oor die vrugteloosheid en die gevaar van kwaadwilligheid. Dawid, die skrywer van hierdie Psalm, het geweet wat dit is om deur onregverdige vyande agtervolg te word. Hy het geweet hoe dit voel wanneer mense leuens oor jou versprei en jou ondergang beplan. Tog herinner hy ons daaraan dat God nie ’n passiewe toeskouer is nie. God is die regverdige Regter wat toesien dat die bose planne van mense dikwels soos ’n boemerang terugkeer na die een wat dit gegooi het.

DIE SWANGERSKAP VAN DIE BOSE

Dawid gebruik in vers 15 ’n baie grafiese beeld: hy praat van iemand wat “swanger is van onreg”. Hierdie beeld herinner ons dat sonde en kwaadwilligheid selde ’n impulsiewe ongeluk is. Dit is ’n proses. Dit kos beplanning. Dit begin met ’n gedagte, n idee, ’n saadjie van jaloesie of wraak wat in die hart geplant word. Daardie gedagte word vertroetel, dit groei soos ‘n embrio, en uiteindelik “gee dit geboorte” aan ’n daad of ’n leuen. Die teks sê hy is “vol kwaad”. Dit beteken sy hele binneste is oorgeneem deur die begeerte om iemand anders skade aan te doen.

In ons moderne konteks sien ons dit dikwels in die manier waarop ons oor mekaar praat of mekaar ondermyn by die werk of in families. Ons dink ons is slim wanneer ons ’n leuen fabriseer om onsself beter te laat lyk of om iemand anders se reputasie te beskadig. Maar die Bybel waarsku ons: wat jy binne-in jou dra en pamperlang, gaan uiteindelik jou eie ondergang wees. Die “geboorte” van hierdie leuens bring nie lewe voort nie, maar dood. Dit vergiftig eers die hart van die een wat dit bedink voordat dit ooit die ander persoon tref. Wanneer ons iets boos of afbrekend beplan teen ander, word ons gevangenes van ons eie bose planne.

DIE HARDE WERK VAN GAT-GRAWE

“Hy grawe ’n gat, diep en wyd.” Dit is belangrik om te besef dat dit harde werk is om ’n gat te grawe. Om wraak te beplan, om strikke vir ander te stel, of om ’n web van bedrog te weef, verg energie, tyd en fokus. Die wraaksugtige persoon is so gefokus op die ondergang van sy naaste dat hy al sy energie daarin insit. Hy grawe dit “diep en wyd”—hy wil seker maak die ander persoon kan nie ontsnap nie.

Ja, ons leef in ’n wêreld waar “gatte” nie altyd met ’n graaf gegrawe word nie. Party gatte word gegrawe met woorde, met gerugte, met geheime komplot vergaderings, met manipulasie, met “strategie”, met ’n stille veldtog teen iemand se naam. Party grawe ’n gat deur iemand te verneder, te isoleer, te kanselleer, of agteraf te ondermyn. En ons dink: “Hulle sal nie agterkom nie. Ek sal wegkom. Ek sal wen.”

Dit is die tragiek van ’n lewe wat deur bitterheid gedryf word. In plaas daarvan dat ons ons energie gebruik om op te bou, om lief te hê en om God te dien, mors ons ons kosbare tyd om af te breek, om gatte te grawe vir ons naaste. Ons dink ons is besig om onsself te beskerm of te verbeter, of ons sg. vyande te verslaan, maar eintlik is ons besig om ons eie lewe onveilig te maak. Elke skep grond wat jy uitgooi om iemand anders se pad te bemoeilik, maak die gat waarin jy self kan trap net groter en dieper. Die beeld van die jagter wat sy eie slagoffer word, herinner ons daaraan dat die geregtigheid van God dikwels werk deur die natuurlike gevolge van ons eie optrede.

DIE BOEMERANG-EFFEK VAN GEREGTIGHEID

Die kern van die boodskap lê in die ommekeer van die situasie: “…maar val self in die gat wat hy gemaak het.” Hierdie is nie ’n toeval of ’n gelukskoot nie; dit is God se beskikkende hand. Dis God se boemerang! Die Bybel is vol voorbeelde hiervan. Dink aan Haman in die boek Ester, het ‘n galgpaal laat bou om die opregte en goedgesinde Mordekai op te hang, maar op die ou end was dit Haman self wat aan daardie selfde galg gesterf het. Sy eie plan het was sy vernietigings wapen. Die aanklaers beplan ’n strik vir Daniël; hulle word later self in die leeukuil gewerp. Goliat word met sy eie wapen verneder; Dawid gebruik uiteindelik die reus se eie swaard! 

Dit is ’n universele wet in God se koninkryk: wat jy saai, sal jy maai. As jy geweld saai, sal jy geweld maai. As jy leuens saai, sal jy uiteindelik deur jou eie onwaarhede verstik word. God se geregtigheid is dikwels “Karma”—die einste wapen wat bedoel was om jou medemens te tref, word die instrument van die jou eie ondergang. Ons hoef nie self wraak te neem nie. Vir die gelowige is dit ’n groot troos. Ons hoef nie self gate te begin grawe om terug te kap nie. Ons kan die geregtigheid in die hande van die Here laat, wetende dat Hy die regverdige Regter is wat nie met Hom laat spot nie.

SAMEVATTING

Geliefdes, die waarskuwing van Psalm 7 is vandag vir ons elkeen baie aktueel. Pasop vir die gate wat jy grawe! Dit kan lyk soos skinder wat iemand se reputasie breek.  Dit kan lyk soos passief-aggressiewe stilte wat iemand straf. Dit kan lyk soos manipulasie: mooi woorde voor, maar ’n agenda agter. Dit kan lyk soos wraak in verhoudings: jy hou ’n lys, jy “betaal terug”. Dit kan lyk soos sosiale media: ’n kommentaar, ’n insinuasie, ’n verspreide storie.

Die Here roep ons tot ’n ander manier van lewe. In plaas daarvan om gate te grawe waarin ander moet val, word ons geroep om paaie gelyk te maak sodat ander kan loop. Ondersoek jou hart vandag. Is daar enige “swangerskap (vertroeteling) van onreg” in jou? Is jy besig met planne wat nie die lig van die dag kan verdra nie?

Hou op grawe! Gooi die gat toe met vergifnis, met regstelling en restitusie. Laat ons kies om in die oopte te lewe, in die lig van God se waarheid. Onthou dat ’n reguit pad altyd die veiligste pad is. Wanneer ons ander se belange hoër ag as ons eie en in liefde optree, bou ons op ’n fondament wat nooit sal swig onder die gewig van wraak en jaloesie nie.

Mag ons mense wees wat vrede saai, sodat ons ook vrede kan maai onder die beskerming van ons regverdige God. AMEN

GEBED NA SKRIFLESING

Hemelse Vader, ons dank U vir die ernstige vermaning uit U Woord. Vergewe ons vir die kere wat ons self in ons harte gate gegrawe het vir ander. Vergewe ons vir jaloesie, agterbaksheid en die begeerte om ander te sien val. Here, ons bid dat U ons harte sal suiwer van alle onreg. Help ons om te vertrou op U geregtigheid en nie ons eie wraak te soek nie. Gee vir ons die krag om die gate van bitterheid en wrok toe te gooi en eerder brûe van versoening te bou. Ons bid vir diegene wat tans die slagoffers is van ander se bose planne; beskerm hulle en laat U waarheid oorwin. Laat U koninkryk van geregtigheid en vrede in en deur ons kom. AMEN

SEËNBEDE

Mag die Here jou hart bewaar van wraaksug.
Mag Christus jou leer om waarheid én genade te kies.
Mag die Heilige Gees jou tong tem en jou gewete wakker hou.
Mag God jou lei om vrede te maak waar jy skade gedoen het.
Mag sy vrede jou bewaar—nou en altyd. AMEN

Wraaksug en Jaloesie is nie net ’n minuut of ’n dag lank nie; die BYBEL sê dis ’n swangerskap. Jy dra dit rond, jy voer dit, jy beskerm dit. Dan, wanneer dit  ‘geboorte’ skenk, bring dit nie nuwe lewe nie, maar bedrog, leuens, twis, onvrede. Die ironie is: Die gat wat jy vir iemand anders grawe, word ’n holte in jou eie siel…… ”

Leave a Comment