DIE DOOD – SLAAP MET HOOP
Ná die emosionele erediens op Sondag 4 Oktober was dit moeilik om weer kragte te versamel vir die volgende geleentheid: my amptelike boekbekendstelling by die VGK Eersterivier. ‘n Heerlike ete met my eerste bruidspaar (1996) Brent en Tessa Arendse het my laat ontspan waarna ek darem ‘n uur kon ‘skuinslê’. Ek het op ongeveer tweehonderd mense gereken, maar toe vierhonderd mense in die gehoor sit, was ek … moet ek erken, tog nie heeltemal verbaas nie. Eersterivier se mense het my immers al dikwels met hul meelewing en ondersteuning verras.

Die geleentheid is deur mense uit verskillende tydperke van my lewe bygewoon. Hoewel daar talle onbekende gesigte was, was die meeste aanwesiges aan my bekend. Onder hulle was vriende uit my Sasol-jare, kennisse uit die UWK- Tokkiekoshuis, lede van Bellville se kerkraad, dierbare kollegas en Eersterivier se hartsmense. Die aanwesigheid en saamwees van hierdie groepe het die geleentheid besonder betekenisvol gemaak.
Die musiekbydraes het die betekenis van die byeenkoms verder verdiep. The Treble Chefs se pragtige vertolking van “Kom na My toe, almal wat vermoeid en belas is” het aangesluit by VGK Eersterivier se “Steal Away” en Kerugma se “Till the Storm Passes By”. Die onderskeie bydraes het mekaar aangevul en die temas van troos, geloof en hoop beklemtoon. Saam met die bekende gesigte het die musiek die geleentheid vir my onvergeetlik gemaak.

Die aangrypendste oomblik van die dag was toe ek ’n boek aan my pastorale mentor, Bella Monk, oorhandig het. Sy het stadig, maar met soveel waardigheid, met ’n loophulpmiddel nader gestap. Daar is soveel uitstaande pastorale werkers wie se diens erkenning verdien. Dit was vir my ’n voorreg om ten minste aan een van hulle die verdiende erkenning te kon gee.
Gedurende die toer was ek met uitstekende gespreksvoerders geseën, en Julian Jansen het dié tradisie voortgesit. Sy ervaring was duidelik merkbaar in die manier waarop hy die onderhoud gevoer en my op my gemak gestel het. Die gesprek kon natuurlik vloei, selfs ná die emosionele intensiteit van die oggend.
Teen die tyd van die handtekeningsessie was ek egter só (beroerte) moeg dat my oë byna toegeval het. Ek, wat gewoonlik geredelik glimlag, moes my behoorlik inspan om ;n soort van glimlag vol te hou. Tog was dit kosbaar om elke boek persoonlik te onderteken en mense van nader te groet. Al die beskikbare boeke is verkoop, en tientalle vooruitbestellings vir die tweede druk is geplaas.
Op Dinsdag 6 Oktober het ek die Parakletos-bejaardedienssentrum besoek. Reeds toe ons dié dienssentrum begin het, was ek diep onder die indruk van die vrywilligers se toewyding. Steeds werk hulle onvermoeid om die bejaardes gesond, aktief en gevoed te hou. Om weer daar te wees en hul voortgesette diens te sien, het my met dankbaarheid vervul.

Die bestuur het my tot trane geroer met hul erkenning van my aandeel in die ontstaan van die sentrum en die keuse van die naam Parakletos. Ek het hulle egter daaraan herinner dat die totstandkoming daarvan ’n spanpoging was en dat almal erkenning verdien.

Ek dink veral aan Jean Williams en Dottie Isaacs, wat die aanvanklike idee verder gevoer het. Die eerste byeenkoms van Parakletos het uit gebed, Skriflesing en ’n kort oordenking bestaan, waarna toebroodjies bedien is. Uit daardie eenvoudige begin het ’n diens gegroei wat steeds vir mense omgee. Parakletos sal altyd my gunsteling – organisasie sonder winsoogmerk bly.
Donderdag 8 Oktober het ek en Nanine saam met kollegas by die Allendale Korrektiewe Sentrum in die mooie Paarl ontbyt geniet. Ek was aangenaam verras om Sarel Christians en Barnes Wiese daar raak te loop, en het heel toevallig ook my vriend Christo Joseph teëgekom. Hier kon ek my ervarings uitsluitlik met kollegas deel. Dit het ’n ander karakter as die openbare boekbekendstellings gehad: die vertroudheid van gedeelde roepings en ervarings het aan die gesprek ’n besondere openhartigheid gegee. Ek het hul respek en waardering, veral vir my deursettingsvermoë ná die beroertes, diep waardeer.

Ernstige gesprekke is met jolige lagbuie afgewissel, en ons het die oggend met die gebruiklike Tokkie-groepfoto afgesluit. Ek is lief vir my kollegas en waardeer die liefdevolle manier waarop hulle vir mekaar omgee. Dié samesyn was ’n gepaste afronding van ’n reis waarin mense en verhoudings telkens die grootste geskenk was.
Na ‘n heerlike lughawe afskeidsete (lamtjoppies natuurlik) met Sasol vriende Gilbert en Harold was die kuiers afgerond en die lang en vermoeiende terugreis het voorgelê. Van ons aankoms by Kaapstad se lughawe op Vrydag om 15:00 tot ons vertrek vanaf Schiphol op Saterdag om 21:00 het die reis (30 ure) baie van ons geverg. Uiteindelik kon ek weer in die historiese prentjieagtig mooi Doesburg ’n heerlike nagrus geniet.

Ek het teruggekeer met ’n moeë liggaam, maar ’n hart vol herinneringe en dankbaarheid. Die boekbekendstellingstoer het my oor bekende paaie en deur geliefde landskappe geneem, maar veral terug na mense wat steeds ’n kosbare plek in my lewe inneem. Van Johannesburg tot Kaapstad het vriende, familie, kollegas en nuwe kennisse ons met warmte ontvang. Die aanvanklike vrees het plek gemaak vir dankbaarheid. Ek en Nanine kon saam reis, ons huweliksherdenking vier en kosbare bande hernu. Die boek het gesprekke begin; die mense het daaraan diepte, deernis en blywende betekenis gegee. Hiervoor bly ek opreg dankbaar.

Aan elkeen wat ons hartlik ontvang, met reëlings gehelp, aandagtig geluister, saam geëet en hul verhale gedeel het: my opregte dank en waardering. Julle liefde, gasvryheid en ondersteuning het die boekbekendstellingstoer ’n sukses gemaak en hierdie reis vir my en Nanine onvergeetlik en kosbaar gemaak.
Heilbiddend
Obé




