DIE DOOD – SLAAP MET HOOP Erediens Eersterivier; VGK Acacia Park
Op Dinsdag 29 September het Nanine en ek Kaapstad bereik. Die uitbreiding van woongebiede en nywerhede was vir my duiselingwekkend. Nadat ons deur ’n veranderde Kuilsrivier gery het, het ons uiteindelik ons tydelike tuiste gevind. Ons selfsorgverblyf op ’n pragtige plaas tussen Kuilsrivier en Stellenbosch was ’n aangename verrassing. Ek het die nege nagte daar terdeë geniet. Dit het ’n gerieflike rusplek gebied tussen die talle besoeke en verpligtinge.

Kaapstad was, soos die vorige bestemmings, gevul met kuiers, etes en braaivleis. Ons het reeds die Dinsdagaand met ’n heerlike braai by neef Nico & Peetkind Marilize begin. Tussendeur het ons kans gekry om die pad van Gordonsbaai na Hermanus te ry, volgens my die mooiste roete ter wêreld. Middagete by die Plaaskombuis in die Hemel-en-Aarde-vallei, met sy wonderskone uitsig, het dié uitstappie afgerond (Probeer gerus hul tuisgemaakte Hamburgers). Die asemrowende natuurskoon het opnuut ‘n besondere indruk op ons gemaak.
Donderdag het die nuus van oom Harry Adams aka Smartie se afsterwe my skielik na die tema van my boek teruggebring. Hy was die voormalige koster/tuinier van die VGK Eersterivier, en ons het oor baie jare ’n goeie predikant-en-kosterverhouding opgebou. Ons kon sy huis besoek en met sy kinders en kleinkinders gesels. Soos dit by ’n eerste rou besoek hoort, het ek veral na hul verhale geluister en ruimte vir hul herinneringe probeer maak.
Ek was self hartseer. Ons jarelange samewerking het talle memories opgeroep, en die besoek was ook vir my ’n persoonlike afskeid. Te midde van die vreugde van herontmoetings het hierdie verlies ’n ander werklikheid van terugkeer beklemtoon: ’n mens vind nie almal weer soos jy hulle onthou nie. Die gesprekke met sy familie het my opnuut laat besef hoe kosbaar die verhale is wat ná iemand se dood onder geliefdes bly voortleef.
Op Saterdag 3 Oktober het ons eers by die VGK Eersterivier se jaarlikse dankfeesbasaar ingeloer. Ek kon slegs ’n paar mense groet, maar was dankbaar dat ons tog ’n draai kon maak. Daarna het ons na Parkwood in Kaapstad se suidelike voorstede vertrek vir my voorlaaste boekbekendstelling, by die VGK Acacia Park. Elke geleentheid het sy eie karakter gehad, en ek het uitgesien na die mense en gesprekke wat hier op ons gewag het. En dit het beslis nie teleurgestel nie.

My goeie vriend en mentor, Averell Rust, het alles gereël en ons hartlik ontvang voordat hy ons in Neville Goliath se bekwame hande gelaat het. Neville was ’n uitstekende seremoniemeester. Hy het die verrigtinge met gemak gelei en elke aanwesige belangrik laat voel. Ná my aanbieding het hy met my ’n deeglike onderhoud gevoer en deurgaans kontak met die gehoor behou. Sy hantering het ’n atmosfeer geskep waarin mense gemaklik kon luister en deelneem.

In die gehoor was mense met ervaring in traumaberading, en hul vrae het dié agtergrond weerspieël. Dit was weer aangrypend om te luister na mense wat reeds soveel verliese beleef het. Hul deelname het die temas van die boek verder oopgemaak en my eie vertelling met ander se lewenservarings verbind. Ek het telkens besef dat ’n boekbekendstelling ook ’n plek kan word waar mense hul eie verhale met nuwe woorde probeer verstaan.

Die volgende oggend, Sondag 4 Oktober 2026, het ’n besondere plek in die reis ingeneem. Ek het die preek vir dié oggend reeds drie maande tevore voorberei. My bedoeling was om die dankfeesbasaar te verbind met die omstandighede waarbinne ’n mens jou dank betuig. Wat beteken dit om dankbaar te wees wanneer jou lewe anders verloop as wat jy gehoop het? Jy kan die preek hier lees https://www.obephillips.com/blog/preke/dankfees-basaar/
My eie omstandighede, en veral die gestremdheid ná my beroerte, het vanselfsprekend ’n rol in die voorbereiding gespeel. Ongeag my fisieke toestand het ek immers soveel waarvoor ek dankbaar kan wees: ’n wonderlike vrou, fantastiese kinders, ’n vriendskapsnetwerk van duisende liefdevolle mense en die vermoë om deur my skryfwerk steeds pastorale bediening te doen.
Ek het Habakuk 3:17–19 as Skrifgedeelte gebruik, met sy “ongeag-geloof” as tema vir ’n lewe van dankbaarheid. Ongeag jou brose gesondheid, jou sosiale omstandighede of jou ekonomiese uitdagings, bly die geloofsuitspraak staan: nogtans sal ek in die Here juig en jubel. Ek het dié gedagte soos volg op ons eie omstandighede van toepassing gemaak:
Nogtans sal ek jubel
Al sou my geldsake sleg lyk,
al sou my inkomste opdroog,
nogtans sal ek in die Here jubel.
Al sou ek nie meer soos voorheen kan loop nie,
al sou my liggaam my in die steek laat,
nogtans sal ek in die Here jubel.
Al sou my planne misluk,
al sou my toekoms anders verloop,
nogtans sal ek in die Here jubel.
Al sou mense my teleurstel,
al sou ek alleen voel in my pyn,
nogtans sal ek in die Here jubel.
Al sou ek verloor wat vir my kosbaar is,
al sou my hart oorloop van seer,
nogtans sal ek in die Here jubel.
Nogtans bly die Here my God my krag;
aan Hom bly ek in geloof vashou.
U maak my voete soos dié van ’n ribbok;
U lei my veilig oor die hoogtes heen.
Dankie dat U my bly dra.
Met elke tree is U by my, Heer.
Daardie oggend het ek beleef hoe die Heilige Gees my heeltemal uit my gemaksone neem. Die gewoonlik ingetoë grappige Obé is meegevoer op ’n profetiese reis, met Habakuk as medepassasier en die Parakleet (Heilige Gees) aan die stuur. Die boodskap wat ek maande tevore voorberei het, het opnuut persoonlik en lewend geword.
Ná dié erediens het Habakuk se woorde lank by my ge ego: nogtans sal ek jubel. Die boodskap van dankbaarheid te midde van broosheid het my eie reis opnuut saamgevat. Later daardie dag sou ek weer voor ’n gehoor staan, hierdie keer vir die amptelike boekbekendstelling by die VGK Eersterivier.





Vervolg in Deel 4