TIENDES SATERDAG 24 AUGUSTUS 2024
LUKAS 14 VERS 33 “ So kan dan ook niemand van julle wat nie afsien van al sy besittings, my dissipel wees nie.”

Wanneer ons oor offerandes praat, vra ons dikwels: “Hoeveel moet ek gee. Dit gaan nie net oor die gee van tien persent nie, maar oor die bereidwilligheid om alles wat ons het aan God te oorhandig. Dit is ‘n oproep tot totale toewyding, waar ons besittings, ons tyd, en ons lewens as geheel aan God behoort. Die vraag is dus nie net hoeveel ons moet gee nie, maar of ons bereid is om alles te gee wanneer God dit van ons vra.
Dink aan die ontmoeting tussen Jesus en die ryk jongman in Lukas 18:22. Die jongman het sy tiendes gegee en die gebooie nagekom, maar Jesus vra hom om alles te verkoop en dit aan die armes te gee. Hierdie oproep onthul dat ware dissipelskap meer as net gehoorsaamheid aan reëls vereis; dit vra ‘n hart wat gewillig is om alles prys te gee vir die koninkryk van God. Dit beteken dat ons besittings beskikbaar moet wees vir God se werk, en dat ons nie te geheg moet wees aan ons aardse rykdomme nie. Alles wat ons besit, behoort reeds aan God (Haggai 2:9), maar Hy verlang dat ons uit liefde gee en nie uit dwang nie.
Om te gee, gaan nie net oor geld nie, maar oor ons hele lewenshouding. Wanneer ons bereid is om ons huise, motors, spaargeld, en selfs ons tyd vir God se koninkryk te gebruik, weerspieël dit ons geloof en ons vertroue in Sy voorsiening. Dit is ‘n uitnodiging om ons lewens op ‘n manier te leef wat getuig van ons toewyding aan God. Mag ons altyd gereed wees om meer as net ‘n tiende te gee, indien God dit van ons vra, en mag ons gee met ‘n hart wat deur liefde gedryf word.

GEBED Hemelse Vader, ons erken dat alles wat ons het van U af kom. Help ons om nie vas te klou aan ons besittings nie, maar om alles wat ons het met ‘n vrygewige hart aan U te oorhandig. Gee ons die moed om alles op te offer wanneer U dit vra, en lei ons om U in alles eerste te stel. Mag ons lewens ‘n weerspieëling wees van ware dissipelskap, waar ons U met ons hele hart, siel, verstand en krag AMEN