SIEKTE EN GEBED REEKS: IS GEBEDSGENESING MOONTLIK?(6)

Home » blog » Siekte » SIEKTE EN GEBED REEKS: IS GEBEDSGENESING MOONTLIK?(6)

SIEKTE EN GEBED OORDENKINGS SATERDAG 3 AUGUSTUS 2024

Ons teks bevestig dat gebedsgenesing deel is van die koninkryk van God wat Hy op aarde gevestig het. Ons vind egter dat ons dikwels gebid het vir genesing, maar nie die uitkoms gesien het waarvoor ons gehoop het nie. Dit bring baie vrae na vore: Hoekom laat God al die vreeslike siekte hoegenaamd  toe? Waarom genees God nie altyd nie? Beteken dit dat ons geloof te kort skiet of dat God nie hoor nie? Hierdie vrae kan twyfel oor God se bestaan en Sy goedheid kweek. Dit is belangrik om te erken dat ons dikwels nie ten volle verstaan hoe en wanneer God werk nie.

Daar is tye wanneer ons geloof getoets word deur die afwesigheid van die verwagte genesing, wat ons tot diep teleurstelling kan lei. Dit is verstaanbaar dat ons in sulke oomblikke wonder oor die krag en beloftes van gebed. Dit is hier waar ons dieper moet kyk na ons geloof en vertroue in God. Terwyl ons aanhou bid vir genesing, moet ons onthou dat God ons gebede hoor, selfs al is ons geloof klein en onvolmaak. Ons moet ons vrese, teleurstellings en verwagtinge voor God neerlê en vertrou dat Hy, in Sy wysheid en tyd, sal optree. Ons moet altyd die Onse Vader gebed onthou inons gebede as die voorbeeld van gebed. LAAT U WIL GESKIED… behoort die mees belangrike sin van ons genesingsgebed te wees. Ons moet die belofte van genesing vashou, wetende dat die volle openbaring van God se koninkryk nog moet kom, maar dat ons nou reeds dele daarvan mag ervaar.

Die kern van die Evangelie is dat Jesus red, wat baie meer behels as net die redding van ons siele vir die hemel. Dit sluit die heelheid van liggaam, gees en siel in. Ons sien uit na die dag wanneer Hy alles nuut maak. Tot daardie tyd wil Hy deur Sy Gees ons staande hou, en ons ‘n voorsmaak gee van wat kom, soms selfs deur fisiese genesing. Ons moet volhard in gebed en verwagting, wetende dat wat nou nie gebeur nie, eendag in volheid sal kom. Ons hoop en vertroue is gewortel in die sekerheid van God se beloftes ….

GEBED Hemelse Vader, ons kom na U met nederigheid en verwagting. Ons erken ons twyfel en teleurstellings wanneer ons gebede vir genesing nie beantwoord word soos ons gehoop het nie. Help ons om ons vertroue in U te behou, selfs wanneer ons nie verstaan nie. Here, versterk ons geloof, en gee ons die moed om aan te hou bid en om u beloftes vas te hou. Laat ons as U kinders saamstaan in gebed en voorbidding vir dié wat siek is, en laat ons U krag en helende hand sien werk in ons midde. Here, ons dank U dat U luister na ons, selfs ons onvolmaakte gebede, en dat U in alle dinge ons redding en heelheid najaag. Ons vra dit alles in die naam van Jesus Christus, ons Here. AMEN