WAGTYD 50 DAE 14 April 2024
HANDELINGE 1 : 1 – 8 ” … maar om te wag op die belofte van die Vader …”
INLEIDING

Wagtyd is ‘n ervaring wat almal ken. Of dit nou is om ‘n afspraak af te wag, te wag vir die taxi of trein, wagtyd voel altyd langer as dit werklik is.Veral as ons ‘n volle skedule het en ‘n gevoel van tydverlies ervaar. Wag is iets wat ons as ‘n vermorsing van tyd beskou. Ons is dikwels besig en wagtyd pas nie in by ons aktiewe lewens nie. Maatskappye en selfs die regering probeer wagtyd so veel as moontlik beperk. Telefoniese oproepe wat na ‘n menu lei om die regte afdeling te kry, of die afspraak-sisteem wat by die mediese dokters geïmplementeer is, dit is alles om die proses doeltreffender te maak. Miskien is dit goed om af en toe te wag, ‘n bewuste tyd vir nadenke. Miskien is wag nie so nutteloos as wat ons dalk dink nie. Maar of ons nou wag waardeer of nie, daar is een ding wat die wagtyd aanvaarbaar maak: as daar iets moois voorlê. As ons ‘n week moet wag vir ons dogter wat huis kom vir die Universiteit vakansie, of as ons die dae aftel vir ons verjaardag, troudag, of ‘n ander geleentheid waarop ons met genoegdoening wag, dan voel die wag heel anders. Wag word positief, ‘n verwagting as daar ‘n belofte of iets is waarop ons sterk hoop. Dit wat kom, maak die wag aangenamer en gee ‘n ander perspektief daarop.
DIE DISSIPELS MAG WAG
Dit is presies wat met die dissipels gebeur het. Die Here Jesus het aan hulle beveel om in Jerusalem te wag, sonder om te sê hoe lank dit sou duur nie. Dit sou selfs ‘n geruime tyd wees. Vyftig dae om presies te wees. Ons weet dit nou. Veertig dae tussen die opstanding en die hemelvaart. Tien dae tussen hemelvaart en die uitstorting van die Heilige Gees. ‘n Totaal van vyftig dae. Maar die dissipels het dit op daardie oomblik nog nie geweet nie. Vyftig dae is ‘n lang tyd. Stel jou voor: iemand belowe om iets te gee of jou te besoek, en jy moet nog vyftig dae wag. Dit is nie lekker nie. Dit voel te lank. Maar daar is een ding wat die wag van die dissipels anders maak. Jesus het hulle ‘n belofte gegee. Die belofte van die Vader. En Jesus vat daardie belofte in vers 8 saam: “maar julle sal die krag van die Heilige Gees ontvang wat op julle sal kom, en julle sal my getuies wees”. Hierdie belofte was reeds in die Ou Testament deur God aangekondig. Soos in Jesaja: “Want Ek sal my Gees op jou nageslag uitgiet en my seën op jou nakomelinge” (Jes. 44:3). En Joel oor die uitstorting van die Gees op alle vlees (Joel 2:17-21). En oor die Huis van Dawid en die inwoners van Jerusalem, sal Ek die Gees van genade en gebed uitstort” (Sag. 12:10). Jesus herinner sy dissipels aan daardie belofte. Wag in Jerusalem, want God sal daardie ou beloftes laat waar word. En daardie belofte maak alles anders. Wag het verander in verwagting.
WAGTYD
Die belofte begin nie by die krag nie, maar by die Gees. Julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom. Eers is daar die Gees, dan die krag wat die Gees gee. Dit word letterlik gesê dat die Gees ‘oor hulle’ sal kom. As die Bybel sê dat die Heilige Gees op iemand kom, beteken dit dat Hy kom om te bly. Dit is waarom ons na Pinkster praat van die inwoning van die Heilige Gees. Die dissipels sal die Heilige Gees ontvang. Hy sal oor hulle kom. Hy sal hulle heeltemal met Sy teenwoordigheid deurdrenk. Dit word met die woord doop veronderstel.
Die Gees sal op die volgelinge kom en hulle meeneem in die beweging van die koninkryk. ‘n Beweging van Israel, waar dit begin, na die eindes van die aarde. Hy sal hulle met Goddelike krag vervul. Dit is opvallend dat Jesus hier nie praat van wysheid, of moed, of vrymoedigheid nie, wat hulle ook al nodig het; Hy praat ook nie van die gawes van die Gees nie, wat ook onontbeerlik is. Maar Jesus praat van krag. Waarom doen Hy dit? Wanneer het ons krag nodig? As ons swak is. Presies. Die belofte van Jesus veronderstel dit dus. Dat die dissipels wat uitgaan, swak mense is. Dat daar allerlei situasies sal kom waarin hulle aangewese is op die krag van God. Jesus weet dit en vooruit sê Hy hulle dat God hulle krag sal gee.
WONDERWERKE
Dit is nog iets in die belofte wat ons aan die dink sit. Die woordjie ‘krag’ word verder in die boek Handelinge verbind met wonderwerke. Daar moet hier aan die krag gedink word wat in wonderwerke uitkom wat verder in Handelinge beskryf word en wat dien as bevestiging van die getuienis wat die dissipels van Jesus bring’. Die Griekse woord dynamis wat hier gebruik word, het dus ook daardie betekenis van tekens en wonderwerke van genesing en bevryding, wat die boodskap van die evangelie krag byset. Dit is ook ‘n lyn wat ons in die Nuwe Testament vind. Waar die evangelie van Christus gepreek word, breek die Koninkryk van God deur, en sien ons ook tekens wat by daardie koninkryk hoort.
Ek glo dat daardie wonderwerke heeltemal daarin inpas. Dat God Homself nie sonder antwoord sal laat nie, en iets van Sy majesteit kan wys as die evangelie van Sy Seun verkondig word. Vergifnis, genesing en bevryding staan immers sentraal in Sy Seun se prediking.
SAMEVATTING
Wag kan soms voel as verlore tyd, maar in werklikheid is dit nie. Juis in die tyd van wag kan ons groei in ons geloof en ons verhouding met God verdiep. Onthou gebed is ‘n noodsaaklike deel van die wag. Deur te bid, bly ons in kontak met God en wys ons Hom dat ons ons vertroue op Hom stel. Dit kan ook ‘n tyd van korreksie wees. Miskien is daar areas in ons lewens wat gekorrigeer moet word voordat Jesus terugkom. Dit kan beteken dat ons moet bekeer van sonde of ons houding moet verander. En laastens kan wag ‘n tyd van onderrig wees. God gebruik dikwels die wagtyd om ons te onderrig en te vorm, sodat ons gereed is vir Sy koms. AMEN