EENSAAMHEID: ALLEENHEID IS ’N PYNLIKE SEER

Home » blog » Eensaamheid » EENSAAMHEID: ALLEENHEID IS ’N PYNLIKE SEER

OORDENKINGS MAANDAG 8 JULIE 2024 (1)

Die Bybel neem al op die eerste bladsye stelling teen eensaamheid: die eerste mens, Adam, soek na iemand wat by hom pas, iemand met wie hy kon praat, iemand wat hom verstaan. God sien dat dit is wat die mens nodig het en sê: “Dit is nie goed dat die mens alleen is nie.” God was alleen en het die mens geskep as sy ewebeeld. Die mens was alleen, maar nie vir eensaamheid geskep nie; Adam en Eva het mekaar aangevul. Dit het ‘n lang heilsgeskiedenis geneem om die idee te laat groei dat ons as mense nie alleen is nie. Selfs al voel ons soms deur God verlaat, soos Jesus in sy sterwensuur, is daar ‘n God wat ons dra. Die mens het ander mense nodig, het die nabyheid van God nodig, hy is nie geskape om alleen te wees nie.

Dit beteken egter nie dat die tema van eensaamheid daarna nooit weer in die Bybel voorkom nie, inteendeel. Eensaamheid as “alleen wees met God” word as positief beskou. In navolging van Henog, wat “met God gewandel het,” het baie vroeë Christene die eensaamheid (stilte tyd) opgesoek om hul band met God te versterk. Hierdie tyd van afsondering en meditasie het hulle gehelp om geestelik te groei en nader aan God te kom. Die eenheid met God in eensaamheid is ‘n seëning wat innerlike vrede en krag kan bring.

Maar eensaamheid as “verlatenheid,” as ‘n totale op jouself aangewese wees, word in die Bybel gesien as ‘n volledige verstoring van die goeie lewe. Die sanger van Psalm 25 bid: “Keer U tot my en wees my genadig, ek is alleen en ellendig.” Om alleen te wees en dan ook nog deur God verlaat te voel, is die ergste wat ‘n gelowige kan oorkom. Dit word ervaar as ‘n pynlike seer. Eensaamheid, in hierdie sin, is ’n pleit roep vir God se teenwoordigheid en genade, ‘n roep vir herstel en verbondenheid.

GEBED: Here God, U wat altyd naby ons is, In tye van eensaamheid en verlatenheid, draai ons harte na U toe. Ons voel soms verlore en alleen, maar ons vertrou op U belofte dat U ons nooit sal verlaat nie. Gee ons die krag om u teenwoordigheid te voel, selfs in ons donkerste oomblikke. Verbind ons met ander mense, en help ons om ‘n bron van liefde en ondersteuning vir mekaar te wees. Here, vul ons lewens met u vrede en lei ons op die pad na herstel en verbondenheid. In Jesus se Naam, AMEN