BENDEGEWELD – TEN SPYTE VAN CHAOS EN GEWELD…. (1)

Home » Gangster Devotions » BENDEGEWELD – TEN SPYTE VAN CHAOS EN GEWELD…. (1)

BENDEGEWELD: OORDENKINGS – 22 JULIE 2024

Bendegeweld is ‘n hartverskeurende werklikheid wat ons gemeenskappe verskeur en ons jeug se toekoems steel. Hierdie geweld is die werk van georganiseerde groepe wat ‘n sin van samehorigheid het en dikwels gebieds (territoriaal) gebonde is. Hulle skep ‘n atmosfeer van vrees en intimidasie en betrek hul lede in aktiwiteite wat gerig is op die bevordering van die bende se doelwitte, individueel of kollektief. Ons teks herinner ons egter om nie bang en verskrik te wees nie, want die Here ons God is ‘n groot en ontsagwekkende God wat by ons is. Hierdie teks verseker ons dat, ten spyte van die chaos en geweld, God sal ons nie verlaat nie en dat Sy krag groter is as enige vorm van boosheid wat ons in die gesig staar.

Bendes ontstaan dikwels in armoedige, areas wat sosiaal nie gevestig is (na groepsgebiede uitsettings), wat gekenmerk word deur onvoldoende sosiale instellings en waar die inwoners ekonomies benadeel is. Hierdie gemeenskappe het dikwels buitengewone hoë vlakke van skoolverlatings, tienerswangerskappe, openbare gesondheidsprobleme, en dwelmverkope binne hul grense. Dit is in hierdie gebroke gemeenskappe waar ons jongmense voel dat hulle geen ander uitweg het nie en hulself tot bendes wend vir identiteit, familie, en beskerming. Tog, in die aangesig van sulke wanhoop, roep die Here ons op om Sy lig en liefde te wees, om hoop te bring waar daar net donkerte is.

Ons het die geweldige taak om ons jeug te herinner dat hulle nie verlore is nie, dat hulle nie alleen is nie. Ons moet aktief werk om hulle te beskerm en te bemagtig, en hulle te nooi om deel te word van God se familie waar onvoorwaardelike liefde en aanvaarding gevind kan word. Mag ons bemoedig word wetende dat die Here wat ons dien, groot en ontsagwekkend is, en dat Hy by ons is in elke stryd teen bendegeweld. Mag ons altyd Sy instrumente van vrede en herstel wees, en mag ons nooit ophou om vir ons gemeenskappe te bid en te werk nie.

Gebed

Here, wees teenwoordig waar kinders grootword met die geloof dat bendes hulle identiteit, familie, gevoel van behoortheid, beskerming en mag gee. Hulle vind hulleself in ‘n gevaarlike wêreld wat hulle van hul kinderjare beroof en littekens laat wat moeilik genees. Seën dié wat geroep is om met bendelede te werk, en wat U onvoorwaardelike liefde met woorde en dade deel. Beskerm en bemagtig hulle terwyl hulle hierdie verlore seuns en dogters nooi om deel te word van U familie. AMEN.