TAPOE WIL VASMAAK MET TROOI!

Home » blog » TAPOE WIL VASMAAK MET TROOI!

KHOI KORTVERHALE (8)

DOEKGOED DEEL EEN

Op ’n lekker koel somersaand het Tapoe besluit dat die tyd aangebreek het om sy liefde vir Trooi op die mees spesiale manier te wys. Hy het ‘n plan beraam om haar na die Vlei by die fontein te neem, ‘n plek wat vir hulle albei vol herinneringe was. Kaaitjie het daar haar hokmeisie diploma ontvang en hulle het dikwels daar gaan stap, die fontein was ook ‘n plek waar hulle altyd kon ontspan en die sterre bewonder.

Tapoe het die vars blomme strategies versteek en vuurtjie aangesteek om die atmosfeer romanties te maak. Toe Trooi daar aankom, was sy verras en beïndruk deur die skoonheid van die plek en die geur van haar bos blomme. Die maan het helder geskyn met genoeg lig om mekaar se oë te sien, terwyl die fontein se water heerlik geklots het.

Tapoe het haar hand vasgehou en in haar oë gekyk. Met ‘n glimlag op sy gesig en liefde in sy oë, het hy voorgestel dat hulle ‘n lewe van avontuur en vreugde saam kon hê. Hy het sy hand in sy sak gesit en ’n Khoi belofte krale armband uitgehaal, en toe het hy voor Trooi gekniel. “Trooi, jy is die liefde van my lewe. Ek kan my lewe nie sonder jou voorstel nie. Sal jy met my trou en saam met my hierdie reis van die lewe deel?” Trooi se oë vol trane maar met ’n glimlag van geluk het met trilling in haar stem geantwoord, “Ja, Tapoe! Ek sal met jou trou!”

Die twee het mekaar omhels, en lank stil gesit om die vreugde van die oomblik so lank as moontlik vas te hou. Die dorp Griekwas was gevul met vreugde toe die nuus van hul troubelofte versprei het.

Die Griekwas het ‘n unieke tradisie en rituele wanneer dit kom by die toestemming vir ’n huwelik wat hulle noem die DOEKGOED tradisie. Tapoe se familie hou eers vergadering waar hulle besluit wie gaan deelneem aan die DOEKGOED onderhandelinge en wie moet sorg dat die Trou-vra goed reg is en voldoen aan die tradisie van die Khoi. Dan kom hulle die afgesproke middag eers by Ghaap se huis bymekaar om strategie te bespreek. Ghaap weet dat Trooi se familie Hom nie as Kaptein gaan behandel nie maar as Tapoe se pa.

DOEKGOED Word vervolg ….