SIEKTE EN GEBED OORDENKINGS: VRYDAG 2 AUGUSTUS 2024
HEBRëERS 12 VERS 6 “My kind, ag die tugtiging van die Here nie gering nie en beswyk nie as jy deur Hom bestraf word nie;…”
Met my beroertes het ek besef God gebruik soms siekte op maniere wat ons nie onmiddellik verstaan nie. Miskien is siekte ‘n manier waarop God ons aandag trek en ons stilmaak in ‘n besige lewe. Miskien is dit ’n kans om te dink oor jou lewe, veral oor jou sonde, daar in die ICU (Arnhem Hospitaal) het ek dae en nagte in stilte gedink, dan flits jou lewe verby jou….. Ons kan so maklik in ‘n patroon van voortdurende aktiwiteit verval dan dink ons, dat ons alles kan hanteer en dat ons onvermoeid is. Dan, skielik, word ons gekonfronteer met ‘n gesondheidsprobleem wat ons dwing om stil te staan en na te dink oor ons lewenstyl en prioriteite.

Siekte kan ‘n manier wees waarop God ons “regstel.” Dit is ‘n moeilike konsep om te aanvaar, maar soms moet iets gebreek word om reggemaak te word. Ek glo God kan siekte gebruik om ons te heroriënteer, om ons te herinner aan wat werklik belangrik is. Dit is ‘n geleentheid om ons verhouding met Hom tot ’n hoër vlak te vat. Dan word jy stil en, om te luister na sy stem en om ons lewens weer op koers te bring volgens sy wil. Hierdie proses is nie maklik nie, maar dit kan lei tot geestelike groei en ‘n sterker geloof.
Selfs wanneer ons gesond is, moet ons onthou dat gesondheid nie die uiteindelike doel is nie. Ons word geroep om te leef tot eer van God, soms selfs deur lyding en opoffering. Deur ons ervarings van siekte en genesing kan ons leer om meer afhanklik van God te wees en om ander met groter deernis en begrip te dien. Laat ons bid vir wysheid en insig om God se plan met ons lewens te verstaan, selfs in tye van siekte, en om te vertrou dat Hy ons deur elke uitdaging sal lei en gebruik tot sy eer.
GEBED Laat ons bid vir wysheid en insig om God se plan met ons lewens te verstaan, selfs in tye van siekte, en om te vertrou dat Hy ons deur elke uitdaging sal lei en gebruik tot sy eer. Gebruik hierdie siekte om my geloof te versterk En my te lei na ’n meer intense verhouding met U. Ek vertrou op U genesing, maar ook op U leiding, Wetende dat U my deur elke uitdaging sal dra. Laat my lewe U verheerlik, in gesondheid en siekte, En gebruik my om ander met U liefde te dien. AMEN