PREEK 12/7/’26 DIE CHRISTEN EN KORRUPSIE – JY KAN SUKSESVOL WEES SONDER OM JOU SIEL TE VERKOOP
GEBED VOOR DIE SKRIFLESING
Here Jesus, ons kom vandag na U toe net soos ons is. Ons vra dat U ons harte sal oopmaak vir U Woord. Help ons om vandag te hoor wat U vir ons wil sê, of ons nou jonk of oud is, skoolgaan of al lank werk. Gee vir ons die krag om opreg en eerlik te lewe in ’n wêreld waar baie mense net vir hulleself lewe. Reinig ons harte van selfsug en gierigheid. AMEN.
SKRIFLESING 1 Timoteus 6:6–10; Jesaja 1:23; Jeremia 22:13–17 “Jou vorste is in opstand teen My, hulle is kop in een mus met diewe. Hulle is almal versot op korrupsieen is agter omkoopgeskenke aan. Hulle laat nie reg geskied aan weeskinders nie, hulle behartig nie die regsake van weduwees nie”
PREEK
Inleiding
Bloglesers, as ons vandag die nuus kyk of op sosiale media kyk, hoor ons kort-kort die woord “korrupsie”. Dit klink na ’n groot, ingewikkelde woord wat net vir die politiek of groot besighede bedoel is. Maar die Bybel wys vir ons dat korrupsie eintlik op ’n baie persoonlike plek begin – reg binne-in die menslike hart. In 1 Timoteus 6 vers 10 staan daar baie duidelik: “Die geldgierigheid is die wortel van allerhande kwaad.”
Korrupsie beteken bloot dat iemand oneerlik is om deur die self ryker of belangriker te maak. Dit begin wanneer ons nie meer tevrede is met wat ons het nie en altyd meer te wil hê. Begeertes vir groter huis, ’n weelderige kar, kinders by duur privaatskole en so meer. Dit kan met enigeen van ons gebeur – by die skool, by die werk of by die huis. As ons dink dat geld en mooi dinge vir ons ware geluk gaan gee, raak ons blind vir wat reg en verkeerd is. Paulus herinner ons daaraan dat ons niks in hierdie wêreld ingebring het toe ons gebore is nie, en ons kan niks saamvat as ons eendag doodgaan nie. Ware rykdom is om tevrede te wees met dit wat die Here vir ons gee.
Wanneer die een wat hulp beloof, self die dief word
In die tyd van die profeet Jesaja was daar ook groot probleme met die leiers. Jesaja skryf dat die amptenare en die leiers van die volk saam met diewe loop. Hulle was gek na omkoopgeskenke en het net agter geld aan gehardloop. Dit is die hartseer ding van korrupsie: die mense wat eintlik veronderstel is om ons te help en te beskerm, word soms die mense wat van ons steel. Dit is ook mense wat alreeds buitensporige salaris pakette het!
Dink byvoorbeeld aan ’n polisiebeampte wat mense moet veilig hou, maar dan omkoopgeld vat om ’n oortreder te laat loop. Of ’n onderwyser wat min punte of juis punte byvoeg geld of seksuele gunsies. Wanneer leiers oneerlik word, verloor mense geloof in mekaar en in hul land. Dit maak die Here baie hartseer en kwaad, want Hy het leiers juis aangestel om na mense om te sien en ’n goeie voorbeeld te stel, nie om hulleself ryk te maak ten koste van ander nie.
Die slagoffers van korrupsie is die kwesbares
As iemand steel of oneerlik is, dink hy dikwels hy doen niemand skade aan nie. Maar korrupsie het altyd ’n slagoffer. Dit tref veral die mense wat hulleself nie kan verdedig nie. Jesaja sê die leiers het nie omgegee vir die regte van weeskinders en weduwees nie. En in Jeremia waarsku die Here ’n koning wat ’n groot, luukse paleis bou, maar weier om sy werkers se loon te betaal.
Vandag sien ons presies dieselfde. Wanneer geld wat vir hospitale, skole of paaie bedoel is, in mense se eie sakke verdwyn, ly die armes die meeste. Daar is nie medisyne vir die siekes nie en die skole het nie goeie boeke nie. Dit gebeur ook wanneer ’n werkgewer sy werkers te min betaal net sodat hy self ’n groter motor kan ry. Die Here haat hierdie soort onreg. Vir ’n Christen is korrupsie nie net ’n ekonomiese probleem nie; dit is ’n saak van naasteliefde.
Die Christelike antwoord is integriteit
Wat moet ons as Christene doen in ’n wêreld waar almal skelm lyk? Die antwoord is een groot, mooi woord integriteit. Dit beteken bloot dat jy eerlik is, selfs as niemand jou sien nie. In Jeremia 22 lees ons van koning Josia wat presies gedoen het wat reg en regverdig was. Hy het omgegee vir die armes en die mense wat swaarkry.
Om met integriteit te lewe, beteken ons weier om saam te speel met oneerlikheid. Vir ’n skoolkind beteken dit om nie af te kyk of vraestele te steel in ’n eksamen nie, selfs al doen al jou vriende dit. Vir ’n volwassene beteken dit om nie omkoopgeld te betaal om vinniger ’n lisensie of ’n kontrak te kry nie. Dit vra moed om “nee” te sê as almal rondom jou “ja” sê. Maar onthou wat Paulus sê: “Die godsdiens is ‘n groot wins as iemand tevrede is met wat hy het.” Tevredenheid bewaar ons van die versoeking van vinnige, oneerlike geld.
Christene moet anders wees
Jesus het vir Sy dissipels gesê hulle is die sout van die aarde en die lig vir die wêreld. Sout maak kos lekker en dit sorg dat kos nie afgaan nie. Lig sorg dat ons nie in die donker stamp en seergekry nie. As Christene kan ons nie maar net maak soos die res van die wêreld nie; ons moet anders wees.
Hierdie “anders wees” moet oral in ons lewens gesien word. In die besigheidswêreld beteken dit ons lewer goeie werk vir ’n regverdige prys. By die skool beteken dit ons sluit niemand uit nie en ons praat die waarheid. In ons families moet ons vir ons kinders wys dat ’n goeie karakter duisend maal meer werd is as baie geld. As almal rondom jou oneerlik is, moet jou lewe soos ’n helder lig skyn wat wys dat daar ’n beter, skoner manier is om te lewe. Jy kan suksesvol wees sonder om jou siel te verkoop.
Samevatting
Broers, susters en jongmense, die boodskap van die Bybel is vandag baie eenvoudig vir ons almal: korrupsie maak mense se harte dood en dit breek ons hele gemeenskap af. Maar God gee vir ons ’n keuse. Jeremia sê om die Here te ken, beteken dat jy doen wat reg en regverdig is. Geloof is nie net iets wat ons op ’n Sondag in die kerk sing nie; dit is hoe ons van Maandag tot Saterdag by die huis, die skool en die werk optree.
Die vraag kom vandag na elkeen van ons: Waar is jy dalk geneig om ’n klein skelm draaitjie te loop? Waar los jy jou integriteit ter wille van ’n bietjie wins of voordeel? Laat ons wegdraai van gierigheid. Laat ons tevrede lewe en opstaan vir die mense wat swaarkry. Dit begin by die klein besluite wat jy vandag neem. Mag ons lewens vir almal wys dat ons aan God se koninkryk behoort. AMEN

GEBED NA DIE PREEK
Here, Ons bid spesifiek teen die korrupsie deur amptenare wat openbare fondse verduister. Bring asseblief herstel in ons regering. Gee ook aan Christen-besigheid mense die radikale moed om alle korrupte procurement en tenders te weier en met absolute integriteit en eerlikheid met die Regering te handel. Beskerm ons gemeenskappe, ons kinders, ons armes en noodlydendes teen die gevolge van korrupsie. Skenk ons leiers wat U vrees en vul ons met U Heilige Gees om daagliks die waarheid te praat. In Jesus se Naam. AMEN
SEËNBEDE
Mag die Here jou seën en jou getrou hou.
Mag Sy regverdigheid jou daaglikse lewenswandel heeltemal rig.
Mag die Here jou vul met goddelike tevredenheid.
Mag Sy Heilige Gees jou die nodige moed skenk.
Mag die vrede van Christus altyd in jou heers. AMEN
2 thoughts on “PREEK SONDAG 12 JULIE 2026 DIE CHRISTEN EN KORRUPSIE – WANNEER GIERIGHEID DIE HART VERGIFTIG”
Dankie Ds Obe
U het die spyker op die kop geslaan. Ja, ek is geroof en dit is so onregverdig. Maar, ek dien ‘n lewendige God. Hy voorsien my met dit wat ek nodig het.
Amen
Baie relevante inligting en handleiding veral in ons huidige situasie in Suid Afrika.Dis baie pynlik om die Kerk so stil te sien juis in n oomblik waar ons die hoop en die skuilplek van hierdie.mense moet wees.Hierdie inligting bied ons hoop en help ons om te verstaan dat God ons leidsman moet wees in ons gebroke wereld.
Ons mense veral die noodlydendes en armes verdien n regering/staat wat na hulle omsien. Hulle wag al jare tevergeefs.