SATERDAG 10/5/2025 – 6 PRAKTIESE WENKE OM JOU LERAAR TE WAARDEER – MET HART én HAND

Elke herder het ook ‘n hand op die skouer nodig. Elke dominee, hoe geestelik sterk ook al, dra ’n las – geestelik, emosioneel, en dikwels finansieel – wat maklik nie deur sy gemeente raak hoof gesien word nie. ‘Pastor Appreciation’ is ‘n waardevolle dankbaarheids eerbewys aan ons Dominees met liefde, respek en waardering. Hier is ses praktiese wenke hoe jy dit kan doen:
1. Bemoedig Jou Leraar Persoonlik
“Ag hulle baie hoog in liefde ter wille van hulle werk.” – 1 Tessalonisense 5:13
Jou leraar het nie net ‘n rol nie – hy het ‘n hart. En daardie hart het bemoediging nodig. ‘n Eenvoudige geskrewe kaartjie, ‘n koffiedatum, of selfs ‘n vriendelike SMS met woorde soos “Dankie vir wat jy beteken vir my” kan ’n enorme verskil maak. Laat hom weet dat hy vir jou meer as net ‘n prediker is – hy is ’n geliefde leier van die geloofsfamilie.
2. Erken Hom Openlik
“Gee erkenning aan dié wat onder julle werk en julle in die Here lei…” – 1 Tessalonisense 5:12
Eer het krag wanneer dit hardop gesê word. ’n Kort publieke dankie vanaf die verhoog op ‘n Sondag, of selfs ’n foto en erenota op sosiale media, versterk nie net jou leraar nie, maar bou ook ‘n kultuur van eer binne die gemeente. Dit bring vreugde aan die hele gemeenskap en eer aan God. Dank die Heer ek kry nog weekliks sulke boodskappe uit my gemeente van 19 jaar terug.
3. Seën Hom Tasbaar
“Die een wat onderrig ontvang, moet al sy goeie dinge met die een wat onderrig gee deel.” – Galasiërs 6:6
Goeie bedoelings is kosbaar, maar praktiese sorg maak dit sigbaar. ‘n NaWeek weg vir hom en sy gesin, ‘n spaarkosmandjie, ’n liefdevolle geskenk – alles spreek van tasbare waardering. Paulus sê in 1 Timoteus 5 vers 17 dat leraars wat hard werk, dubbele eer waardig is – en daardie “eer” het ’n finansiële dimensie. Finansiële sekuriteit help jou leraar om met vrymoedigheid te dien sonder vrees vir sy gesin se toekoms. Ek onthou hoe ek altyd ’n blikkie Tab en toebroodtjie op die kansel gekry het – veral by begrafnisdienste ….
4. Neem Die Inisiatief
“Gaan voor in die bewys van eer aan mekaar.” – Romeine 12:10
Wag nie dat die kerkraad iets reël nie – begin self. Stel ‘n waarderingsprojek voor, koördineer ’n kaartjie-insameling of reël ’n familie-ete. Wanneer jy in geloof stap en leiding neem, volg ander. Dink aan Aaron en Hur wat Moses se arms opgehou het – jou steun maak die verskil tussen moedeloosheid en volharding.

5. Versamel ’n Bonus of “Liefde-offer”
’n Ekstra Jaarlikse bonus, 14de tjek of spesiale liefde-offer is ‘n betekenisvolle manier om jou waardering finansieel te wys. Dalk op sy verjaardag, ’n gemeentelike mylpaal, of net omdat… Laat elke lidmaat deelneem – groot of klein – en sien hoe ’n eenvoudige gebaar ‘n diepe indruk maak.
6. Betaal ’n Markverwante Salaris
“As iemand nie vir sy eie mense sorg nie… is hy erger as ’n ongelowige.” – 1 Timoteus 5:8
Net soos Skoolhoofde, Dosente en gesondheidswerkers het leraars formele opleiding – gewoonlik 5 jaar of meer – agter die rug. Tog ontvang baie ‘n salaris ver onder die markwaarde. ’n Leraar wat finansieel onder druk leef, sukkel om sy roeping voluit uit te leef. ’n Kerk wat verantwoordelik en regverdig vergoed, betoon nie net respek nie – dit is goeie rentmeesterskap. Dalk is dit tyd om die vergoeding te herevalueer volgens wat ‘n Adjunkdirekteur in die Suid-Afrikaanse staatsdiens ontvang – dis billik en eerbaar.
SAMEVATTING: Maak Jou Waardering Sigbaar
Elke leraar droom nie van applous nie, maar van getrouheid – in God se oë én sy mense s’n. Jou eenvoudige dade van waardering hou ewigheidswaarde in. As jy vandag nog iets kleins doen – ’n oproep, ’n briefie, ’n liefdesoffer – kan dit die vonk wees wat jou leraar weer inspireer om met passie en vreugde te bedien. Mag ons die kultuur van eer en dankbaarheid herstel – want ’n gewaardeerde herder is ‘n sterk herder. En ’n sterk herder lei ’n gesonde kudde.
“Moenie jou leraar as vanselfsprekend aanvaar nie. Sien hom as ’n gawe van God, en behandel hom met daardie eer.” – Obe Phillips
1 thought on “DAGSTUKKIE 10 MEI 2025: WAARDEER JULLE DOMINEES, PASTORE EN ANDER GEESTELIKE LEIERS”
Baie dankie ds Obe, ek sal hierdie met ons gemeentelede deel.
Geniet jou Saterdag.
Comments are closed.