DAGSTUKKIE  8 MEI 2025: “WAARDEER JULLE DOMINEES, PASTORE EN ANDER GEESTELIKE LEIERS 

Home » blog » Pastors appreciation » DAGSTUKKIE  8 MEI 2025: “WAARDEER JULLE DOMINEES, PASTORE EN ANDER GEESTELIKE LEIERS 

DONDERDAG 8/5/2025:  DIE LERAAR SE WERK AGTER DIE SKERMS

1 Konings 19:15: “Daar het hy onder ‘n besembos gaan sit en gewens hy gaan dood. Hy het gesê: “Nou is dit genoeg, Here! Neem my lewe, want ek is niks beter as my voorvaders nie.” Toe gaan hy lê en hy het daar onder die besembos aan die slaap geraak. Toe hy hom weer kom kry, skud ‘n engel aan hom en sê: “Word wakker! Eet!”

As jy Sondagoggend kerk toe gaan, is alles gereed: die liturgie is voorberei, die musiek pas, die preek is kragtig, en die atmosfeer is verwelkomend. Maar wat jy dalk nie sien nie, is alles wat agter die skerms gebeur. Die werk van ‘n leraar eindig nie by die kansel nie. Dit is veel meer. mense se grootste nood, agter tralies, in hospitale, by NGO’s en in hul eie worstelinge.

Ek onthou een spesifieke Saterdag in die oggendure om 01:00 toe ek ’n oproep kry van ’n man wat dreig om sy vrou te skiet. Ek moes met hom praat, hom kalmeer, en die situasie persoonlik hanteer. Ek het ’n uur lank gepraat en toe dreig hy steeds “Ek gaan haar skiet as Ds nie na my huis kom om te sien hoe dronk sy is!” Ek het maar opgestaan en gegaan – net ure voordat ek twee begrafnisse en ’n huwelik moes lei daardie Saterdag. Dit is die agter-die-skerms-werk wat selde gesien of verstaan word.

In vandag se dagstukkie kyk ons na Elia se ontmoeting met God ná sy uitbranding – en wat God hom toe opdrag gee. Net soos Elia, word leraars gestuur om te dien – selfs vanuit hul eie stukkendheid.

Bybelse Konteks

1 Konings 19 gee vir ons ’n ontroerende blik in die hart van ’n geestelike leier wat moeg, bang en moedeloos is. Elia het net ’n groot oorwinning op Karmel behaal, maar kort daarna vlug hy vir sy lewe en beland hy onder ’n besembos. Daar bid hy dat hy mag sterf. Hy sê: “Dit is genoeg, Here.”

God antwoord nie met veroordeling nie. In plaas daarvan gee Hy vir Elia slaapplek, kos, en dan – ’n sagte stem. En in daardie sagte fluistering gee God vir Elia ’n nuwe opdrag: “Gaan terug op jou pad…” (v. 15)

Dit is die hernude roeping wat baie pastore en Dominees ervaar – selfs wanneer hulle moeg of leeg voel. Soos Elia, dra hulle emosionele laste, angs, verantwoordelikhede wat min verstaan, en die geestelike gewig van ander se sonde. Hulle bid en huil dikwels vir gemeentelede wat self nie eens oor hul eie geestelike lewe bekommerd is nie.

Die Here herinner Elia (en vandag se Leraars): Jy is nie alleen nie. Ek het nog ander wat nie gekniel het voor Baäl nie (v. 18). God gee nie net opdragte nie – Hy gee perspektief, versterking en ‘n pad vorentoe.

 Toepassing

Die werklikheid is: die meeste mense weet nie wat hulle leraar regtig deurmaak nie. ’n Sondagoggend-preek is net die punt van die ysberg. Onder die oppervlak is daar ure se voorbereiding, intense emosionele betrokkenheid, geestelike aanvalle, en praktiese diens aan die gemeenskap.

Ek weet hoe dit voel om uitgeput te wees. Buiten daardie nagtelike krisis-onderskeiding, die begrafnisse en die troue, moes ek nog kerkraadswerk, sinodale verantwoordelikhede en gemeenskapsprojekte hanteer – alles met ’n glimlag. Ek het later besef ek funksioneer net op outopilot. Ek kon nie meer konsentreer nie. My vuur het begin uitgeblus raak.

Dis hoekom hierdie tema so belangrik is: Wie sien raak wat agter die skerms gebeur? Wie vra vir die dominee hoe dit gaan met sý siel? Wie bied ’n skouer, ‘n gebed, of net ‘n luisterende oor? Wie waardeer hom/haar? Wie sorg dat hy Gesin goed finansieel versorg?

Pastore en Dominees dra dikwels alleen sware laste. Hulle moet sterk wees vir almal, maar wie is sterk vir hulle? Gemeente, as jy jou leraar regtig wil waardeer, begin deur te vra, te luister, te bid – en soms net te sê: “Jy mag ook rus.” Jy mag ook finansieel minder laste dra! Want ja – God gebruik dominees om ander te bedien, maar Hy het nie bedoel dat hulle hulself moet uitbrand nie.

 Twee Wenke

  1. Wees ‘n veilige plek vir jou leraar: Vra gereeld hoe dit werklik met hom/haar gaan – nie net oor bediening nie, maar as mens. Skep ruimte vir eerlike gesprek en herstel.
  2. Waadeer agter-die-skerms werk: Waardeer die bedienings wat jy nie sien nie – besoeke, berading, gemeenskapsdiens, laatnag-oproepe. Bemoedig jou leraar doelbewus in hierdie stille opofferinge.

SAMEVATTING

Elia se storie leer ons dat geestelike leiers, soos almal, soms uitgeput raak. Hulle het ook ‘n engel nodig wat vir hulle sê: “Staan op en eet.” Ons dominees is mense met emosies, uitdagings en ‘n sielelas wat nie altyd sigbaar is nie. Tog, dag na dag, staan hulle op en gaan hulle weer “terug op die pad”.

Wanneer ons hul agter-die-skerms-werk begin raaksien, begin ons hulle werklik waardeer. Nie net as predikers nie, maar as mense – as herders wat liefhet, dien, opoffer, en soms ook huil, Vandag roep ek jou op: wees die engel vir jou leraar. Bid, vra, dien, ondersteun. Laat hulle weet: hulle werk is nie onsigbaar nie, en hul opoffering is nie tevergeefs nie.

2 thoughts on “DAGSTUKKIE  8 MEI 2025: “WAARDEER JULLE DOMINEES, PASTORE EN ANDER GEESTELIKE LEIERS ”

  1. Dus nie n maklike roete nie, maar n roete wat lei tot die Ewigheid.
    Dankie Ds Obi 🙏❤️

Comments are closed.