17 – 23 MAART 2025 DAGSTUKKIE REEKS NARSISME
WAT IS NARSISME?

Narisme word gekenmerk deur ‘n oordrewe gevoel van eie belang, ‘n gebrek aan empatie vir ander, ‘n behoefte aan buitensporige bewondering en die oortuiging dat JY ALLEEN uniek IS en spesiaal behandel moet word. Mense met sterk narsistiese neigings stel hulself altyd eerste en gebruik ander om hul eie doelwitte te bereik. Hulle soek altyd erkenning, maar het innerlik ‘n leemte wat nooit gevul kan word nie.
My pa het ons altyd vermaan dat ons minder EK moet sê en meer ons. Die week gaan die tema aanraak wat nou wêreldwyd daagliks in die nuus is, dis nie goeie nuus vir die opvoeding van die volgende geslag nie! Dis gewoon gevaarlik dat ons kinders voorbeeld van narsistiese leiers wat hulself so verheerlik ongeag of die miljoene mense vernietig. Ek gaan kyk na Bybelse waarskuwings en wysheid oor hierdie tema, met die doel om ons harte nederig en oop voor God te hou. Deel asseblief hopende dat die mense sal stop om narsiste te verheerlik ….
Maandag 17 Maart – Liefhebbers van hulleself
Narsiste plaas hulself in die sentrum van die heelal en verwag dat ander hul egos voed. Hulle soek mense wat hulself aanpas by hul behoeftes en manipuleer situasies om hul eie voordeel te bevoordeel. Die Bybel waarsku ons teen hierdie soort selfliefde wat nie met ware goddelike liefde ooreenstem nie.
Dinsdag 18 Maart – Geld as die valuta van goedkeuring
Vir ‘n narsis is geld nie net ‘n manier om mag te verkry nie, maar ook ‘n manier om ‘n beeld van grootheid te skep. Narsiste is dikwels behep met rykdom en sal selfs ander uitbuit om hul eie belange te dien. As Christene word ons geroep om ‘n gesonde verhouding met geld te hê en dit te sien as ‘n hulpmiddel, nie ‘n afgod nie.
Woensdag 19 Maart – Die grandiose aard van narsisme

Narsiste straal ‘n oordrewe selfvertroue uit, maar agter die masker is hulle onseker en leeg. Soos die towenaar in The Wizard of Oz, is hul beelde ‘n illusie. Ons word geroep om ware nederigheid te beoefen en ons identiteit in Christus te vind, eerder as in ‘n valse beeld van grootsheid.
Donderdag 20 Maart – Trots en arrogansie
Spreuke waarsku ons herhaaldelik oor trots. Dit is ‘n fundamentele oortuiging dat ‘n mens niemand nodig het nie, nie eers God nie. Narsiste verwerp ware verhoudings en gebruik mense eerder as pionne. Jesus se woorde oor die Fariseërs is ‘n duidelike waarskuwing vir ons om trots en selfverheerliking te vermy.
Vrydag 21 Maart – Godslastering en selfaanbidding
Sommige narsiste leef asof hulle hul eie gode is. Hulle kritiseer die kerk en God, of sien hulleself as die enigste bron van waarheid. Die Bybel leer ons dat ware wysheid in nederigheid lê, nie in arrogante oordeel of selfverheerliking nie.
Saterdag 22 Maart – Die ondankbare hart van ‘n narsis
Narsiste is nooit tevrede nie. Hulle sien mense as bronne om te gebruik en misbruik, eerder as as mede-beelde van God. Hulle leef in ‘n konstante toestand van ontevredenheid. Ware goddelike tevredenheid kom deur ‘n hart van dankbaarheid en ‘n lewenswyse van aanbidding.
Sondag 23 Maart – Die gevaar van narsisme in die laaste dae
Paulus se waarskuwing in 2 Timoteus 3:1-5 oor mense wat liefhebbers van hulleself, geldgierig, trots en ondankbaar is, is ‘n profetiese blik op ons wêreld vandag. Ons word geroep om anders te wees – om ‘n lewe van ware godsvrug, nederigheid en diensbaarheid aan God en ons naaste te lei.
‘n Uitnodiging tot Nederigheid
Hierdie week is ‘n geleentheid om in die spieël van God se Woord te kyk en te vra: Is ek besig om my eie eer te soek, of leef ek tot eer van God? Kom ons kies nederigheid bo trots, liefde bo selfverheerliking en diensbaarheid bo selfgesentreerdheid. Deel hierdie toewydingsreeks met jou familie, vriende, kerk en gemeenskap. Mag ons almal leer om soos Christus te wees – die ware nederige Koning wat gekom het om te dien, nie om gedien te word nie.
Geseënde week van toewyding!