DIE STILTE NA DIE BLOEDBAD AAN DIE KRUIS

Home » blog » DIE STILTE NA DIE BLOEDBAD AAN DIE KRUIS

STILLE SATERDAG 30/03/2024

Hierdie dag is gevul met stilte en verslaenheid, soos ‘n waas van rou oor die land. Josef van Arimathea, ‘n man van moed en medelye, het die voorreg gehad om initiatief te neem deur Pilatus te versoek om Jesus se liggaam te begrawe. Saam met Maria – die moeder van Jesus – en Magdalena sorg hy vir die liggaam en plaas dit in die graf. Dit was ’n klein begrafnis in ons Afrika terme beslis. Hierdie klein groepie mense, gewond en gemartel deur verdriet, bly agter by die graf, oorstelp as gevolg van ‘n gevoel van verlies en leegte. In stilte ween hulle met verlatings verdriet.

Môre is dit Paas Sondag, ‘n dag van hoop en vernuwing. Dit herinner ons daaraan dat die dood nie die laaste woord het nie. Selfs te midde van ons rou en gemis, hou ons aan die hoop vas dat lig uiteindelik die duisternis sal verdryf. Dat Hy gesterf het, in die graf lê en opgestaan het om dit moontlik te maak dat ons kring weer vol sal raak. Eendag weer, Eendag weer..! Laat ons in hierdie tyd, ondanks ons verdriet, bid vir almal wat na ure, dae, maande, jare steeds met verlies en pyn worstel.

Gebed: Liefdevolle God, op hierdie Stille Saterdag kom ons tot U met swaar harte en verslane geeste. Troos asseblief almal wat die pyn van verlies en gemis ervaar, veral in hierdie tyd van beperkinge en afsondering. Gee ons die krag om vas te hou aan die hoop van die opstanding, en om te glo dat u liefde en lig die donkerste oomblikke sal verlig. Amen