Preek 3de Sondag na Paasfees

Jesaja 61: 1 – 3 “Die Gees van die Here my God het oor my gekom; die Here het my gesalf om ‘n blye boodskap te bring aan die mense in nood, Hy het my gestuur om dié wat moedeloos is, op te beur….”
Romeine 8: 18 – 30 “Die Gees staan ons ook in ons swakheid by: ons weet nie wat en hoe ons behoort te bid nie, maar die Gees self pleit vir ons met versugtinge wat nie met woorde gesê word nie.”
INLEIDING
Ek wil begin met ‘n verhaal wat my diep geraak het. Ek het in my dienstyd as Dominee van die VGK Eersterivier Kaapstad, ‘n versoek ontvang om ‘n weduwee te besoek wat ‘n behoefte aan ‘n gesprek gehad het. Tydens die besoek, het sy ‘n hele verhaal gedeel oor haar bekommernis vir haar dogter. As weduwee het sy gevoel dat dit moeilik was om haar storie met ander te deel, want volgens haar het mense net voorstelle en wenke gegee wat sy nie nodig gehad het nie. Sy het gehoop vir iemand wat werklik sou meelewend luister, omdat die situasie nie onmiddellik oplosbaar was nie. Na ons gesprek het ek haar gevra of sy weer wil praat, en sy het volmondig ingestem. “Dit is wonderlik om jou hart te kan uitstort,” het sy gesê.

Hierdie ontmoeting het my herinner aan die behoefte wat soveel mense het aan ware meelewing en ondersteuning, veral in moeilike tye. Dit is hierdie soort teenwoordigheid wat ons in die konsep van die “Parakletos” – die Trooster – vind. Wat is die betekenis van die Trooster in ons lewens en hoe lei die Heilige Gees ons is in tye van nood. Ek hoop die preek gaan ons almal inspireer en bemoedig om mekaar met liefde en begrip te ondersteun.
JESUS ONDERWEG

As die Bybel die Heilige as die Parakleet beskryf, wat bedoel hulle daarmee? Parakleet is die naam wat Christus aan die Heilige Gees gegee het. Die oorspronklike woord is Parakletos, en beteken Advokaat, ‘n verdediger, helper, versterker, sowel as trooster. In die preek fokus ek op die troos funksie van die Heilige Gees as Parakleet. Troos is in die eerste plek nabyheid. Om by die ander te wees in hul oomblikke van hartseer en rou. In die bekende verhaal van Job, kom sy drie vriende na hom toe en sit sewe dae by hom en treur saam met hom. Hulle praat nie, maar is teenwoordig en deel in sy verdriet. Verdriet, van watter aard ook al, isoleer mense in hul gewone daaglikse lewe. Veral by ‘n onverwags sterfte lyk dit of die wêreld steeds voortgaan terwyl dit vir diegene wat geraak is, stil staan.
Tydens die oomblikke van verdriet is dit vertroostend om te weet dat jy nie alleen is nie. Daar is iemand wat saam met jou stil staan en in jou hartseer deel. Dit is een van die moeilikste aspekte van die lewe om sulke tye alleen te wees. Ons is nou tussen Opstanding en Pinksterfees, ‘n tyd wanneer ons die werking van die Heilige Gees vier. Jesus verwys na die Heilige Gees as die Een wat na Hom sal kom om die troos taak voort te sit. Jesus self was die eerste trooster, en deur Sy werk in lewe, kan ons die werk van die Gees as trooster beter verstaan.
MESSIAS VOL VAN DIE GEES

In ou Joodse geskrifte is daar reeds veel verwysings na die Messias. Hierdie geskrifte beskryf hoe die Messias, gestuur deur God, as ‘n trooster sal optree. Jesaja skryf oor die Messias as die dienaar van die Here wat gekom het om mense in hul verdriet by te staan. Jesaja beklemtoon dat hierdie dienaar vol is van die Gees van God (Jesaja 61). Die Gees en die dienaar is dus nou verwant aan mekaar. In hierdie hoofstuk word die troos van God bespreek as die einde van ballingskap en die herbou van Jerusalem. God bring troos deur weer naby te wees en sy heilige Tempel te herstel. Op hierdie manier het die rabbi’s in Jesus se tyd oor die Messias gespreek.Die Gees is ‘n ander trooster as die Messias, maar Hy troos op dieselfde manier. Eerstens troos die Gees deur teenwoordig te wees. Paulus beskryf dat die Gees in ons is, selfs wanneer ons nie woorde het nie. Wanneer ons nie die krag het om iets te sê of te dink nie, bly die Gees steeds teenwoordig in ons. Dit beteken dat ons nie alleen is in ons verdriet nie, maar dat die Gees ons laat weet dat Hy by ons is. Die Gees hou ook ons kontak met God, selfs wanneer ons self nie daartoe in staat is nie.

DIE GEES GEE NUWE PERSPEKTIEF
Die Gees troos ook deur ons ‘n ander perspektief op die lewe te gee. Die algemene siening is dat alles eindig met die dood, maar die Gees help ons om te besef dat as ons in Christus sterf, dat ons gaan leef in die nuwe wêreld van God se koninkryk. Die Bybel beskryf die moeite en verdriet wat ons in hierdie wêreld ervaar as die “weë” wat nodig is om God se koninkryk te laat kom. Dit plaas ons verdriet in ‘n ander perspektief en kan ons daardeur troos gee. Soms troos die Gees ons deur werklike veranderinge in ons lewens te bring. Mense word genees, kry ‘n nuwe doel of deel wat die leemte in hul lewens vul, of vind weer vreugde in hul lewens. Die Gees bring weer lewe en moontlikhede. Mense ervaar die krag wat Christus opgewek het, werk ook in hulle.
Die laaste manier waarop die Gees troos bring, is deur ons aan te spoor om God in alle aspekte van ons lewens te loof. Soos die profeet Habakuk skryf, is dit belangrik om God te aanbid, selfs as alles rondom ons afbrokkel. Dit rig ons lewe op die Gever van die lewe en plaas ons lewe in ‘n ander perspektief.
SAMEVATTING
Gemeente, mag ons die troos van die Gees ervaar en ons lewens daarop afstem, sodat ons innerlike vrede en vreugde mag ervaar. Mag ons die teenwoordigheid van die Trooster in ons lewens erken en ons hoop op God stel. AMEN
Almagtige God, ons Hemelse Vader, Ons kom vandag voor U met ‘n nederige hart, dankbaar vir die wonderlike gawe van die Heilige Gees, ons Trooster. Jesus U het die Gees by ons gelaat om ons te lei en te versterk in ons tye van nood. Ek wil bid vir die werking van die Heilige Gees in ons lewens. Heilige Gees, wees vir ons ‘n bron van krag en moed wanneer ons deur moeilike tye gaan. Help ons om te jubel en te juig in God, ons Redder, al sou ons ook deur uitdagings en ontberings gaan. Vul ons harte met geloof, sodat ons in U kan vertrou, ongeag die omstandighede. Gee vir ons voete soos dié van ‘n ribbok, sodat ons met vasberadenheid en stabiliteit op die gevaarlike plekke van die lewe kan loop. Lei ons in ons daaglikse besluite, en laat ons altyd die liefde en genade van Jesus Christus weerspieël in ons dade en woorde. Mag ons deur U Gees vervul word en in U bly. AMEN