AANVAAR DIE UITNODIGING NA DIE FAMILIE DINEE

Home » blog » AANVAAR DIE UITNODIGING NA DIE FAMILIE DINEE

PREEK SONDAG 2 JUNIE 2024 – FAMILIE ETE

DIE WAARDE VAN SAAM EET

INLEIDING

“Het Familiediner” (Die Familie ete)  is ‘n gewilde Nederlandse televisieprogram wat fokus op die herstel van gesins- en familieverhoudings wat deur konflikte, misverstande of langdurige rusies versuur is. Iemand van die TV omroep (Bert) speel die rol van bemiddelaar en probeer om gebroke bande te herstel deur twistende familielede aan te moedig om aan ‘n gemeenskaplike ete deel te neem. Die proses begin wanneer ‘n gesinslid, wat hoop op versoening het, ‘n beroep op die TV omroep doen. Bert, die progamleier, neem dan die taak op hom om die betrokkenes te kontak en hulle te oortuig om deel te neem aan ‘n gesamentlike ete. Die simboliek van die ete speel ‘n sentrale rol: deur saam aan tafel te sit, kan mense die eerste stappe na vergifnis en herstel neem. Dit is ‘n gebaar van goeie trou en bereidheid om konflik agter te laat. Elke episode dokumenteer die emosionele reis van die gesin, van die aanvanklike kontak tot die uiteindelike ete. Soms slaag die poging, en soms nie, maar die program toon die krag van versoening en die belangrikheid van gesinsbande. “Het Familiediner” beklemtoon hoe belangrik dit is om verhoudings te herstel en die genesende krag van saam eet as ‘n gebaar van versoening.

SAAM EET AS GEBAAR VAN VERSOENING

Vandag wil ek na die betekenis van saam eet as ‘n gebaar van versoening ondersoek. Ons gaan kyk hoe Jesus se dade en leringe ons lei om versoening met God en mekaar te vind. Laat ons die uitnodiging aanvaar om aan hierdie hemelse tafel te sit, waar ons geestelike voeding en gemeenskap in oorvloed ervaar.

Ons het almal al daardie wonderlike ervaring gehad van saam eet, saam aan ‘n tafel sit, stories deel, en smake proe. Dit is ‘n eenvoudige, maar betekensvolle handeling wat ons almal in ons daaglikse lewens beleef. In die Bybelse konteks, sien ons dat Jesus voortdurend hierdie daad gebruik om ‘n groter waarheid oor God se koninkryk en versoening te illustreer.

Jesus het orals geëet. En waarom? Omdat Hy gekom het om gemeenskap te stig. Hy het mense bymekaar en by God gebring. Jesus het gekom om die skeiding op te hef tussen ‘ons’ en ‘hulle’, tussen ‘ons soort mense’ en ‘die vreemdes’. Vir Hom is daar net een soort mense: God se mense, Sy skepsels. Mense wat almal hul foute het, mense wat almal van genade moet lewe, mense wat God nodig het. En juis dié wat volgens ander nie by hoort nie, gee Hy ekstra aandag.

Jesus dinee met Levi

Dink byvoorbeeld aan die verhaal van Levi, die tollenaar. Jesus sit by Levi se tafel, saam met tollenaars en sondaars. En Hy sê: “Ek het nie gekom om regverdiges te roep nie, maar sondaars tot bekering.” Hier lê die kern van Jesus se sending: bekering, ‘n nuwe begin. Dit beteken om uit jou eie, dikwels ek-gesentreerde lewe te kom en jou oop te maak. Oop vir God se roepstem, en dan ook oop na ander toe. Jesus sê ‘te roep tot bekering’. Interessant is, dat in die Grieks, die woord ‘roep’ ook gebruik word vir die uitnodiging na ‘n maaltyd. Jesus roep mense vir die groot maaltyd in God se koninkryk!

SAAM EET AS PASTORAAT

‘n Maaltyd, om saam eet, is nie net ‘n beeld nie. Dit pas presies by hoe die Here God die lewe wil hê. ‘n Maaltyd, dit is gemeenskap. Dit is gerig wees op mekaar, luister en vertel. As jy met ‘n paar mense uiteet, let maar op: een vir een kom die dinge ter sprake wat die gaste tans besig hou, wat hulle besig hou, wat hulle vrolik maak, wat hulle pla. Eet is deel van ons bestaan, dis deel van die jou lewe. As daar in ‘n besigheid of organisasie spanbou gehou word, sal daar meestal ’n formele maaltyd en hoog waarskylik ’n braai wees. Dit werk beter as ‘n praat sessie in ‘n kring op ‘n kantoor!

God se koninkryk as ‘n groot maaltyd – ’n besonder beeld. God en mense in vrede saam. ‘n Maaltyd staan ook vir versoening. As die rusie bygelê is, kan jy weer saam eet. Hierin sien ons die erns van Jesus se bediening. Hy nooi ons almal, ongeag ons agtergrond, foute of status, na die tafel van gemeenskap en genade. Hy bring ons bymekaar, herstel verhoudings en bou nuwe gemeenskappe van liefde en omgee. Dit is die uitnodiging wat Jesus aan ons rig: om ons lewens oop te maak vir God se roepstem, om ons harte oop te maak vir ander, en om saam aan die tafel van versoening en gemeenskap te sit.

AANVAAR DIE UITNODIGING NA DIE FAMILIE DINEE

Die gemeenskap aan die tafel was ‘n kernonderdeel van Jesus se bediening. Hy het dikwels saam met tollenaars en sondaars geëet, en selfs ‘n slegte naam daarvoor gekry. Maar juis deur hierdie dade het Jesus God se bedoeling vir die wêreld duidelik gemaak: by Hom word niemand afgeskryf nie! Hy het grense deurbreek en mense het God se liefde deur Hom ervaar.

Ons is ook genooi na Sy tafel, as ons die Heilige Nagmaal vier. Hierdie uitnodiging roep ons op om ook in ons daaglikse lewens oop te wees na alle mense. Ons moet ons lewe deel en so God se liefde versprei. Eet en drink saam met Jesus aan Sy tafel, en daarom ook met die mense om ons heen. Nooi iemand vir ete, of nog beter: maak dit ‘n gewoonte! Deel jou lewe, deel God se liefde. Laat ons tafel die tafel van Jesus weerspieël totdat Hy terugkom, en die groot maaltyd in die Koninkryk van God begin!

SAMEVATTING

Laat ons hierdie uitnodiging aangryp. Laat ons mekaar uitnooi, ons harte en huise oopmaak, en die gebaar van saam eet gebruik as ‘n middel tot versoening en gemeenskap. Mag ons, deur ons dade, die beeld van God se groot maaltyd hier op aarde weerspieël.

GEBED: Hemelse Vader, Ons dank U vir die voorreg om saam met familie en vriende by ‘n tafel te mag aansit. Dankie vir die liefde en genade wat U aan ons betoon het deur U Seun, Jesus Christus. Help ons om hierdie liefde en genade uit te dra na die mense rondom ons. Gee ons die moed en die wil om ons lewens en ons etes te deel met ander, sodat ons U liefde kan weerspieël in ons daaglikse bestaan. Laat ons tafel ‘n plek van versoening en gemeenskap wees, net soos Jesus ons geleer het. Mag ons met oop harte en oop hande mense verwelkom, en so ‘n bietjie van U Koninkryk hier op aarde laat sien en proe. Ons sien uit na die dag wanneer ons saam met U aan die groot maaltyd in U Koninkryk kan aansit. In Jesus se naam bid ons dit. AMEN