OORDENKINGREEKS VIR TIENERS: DINSDAG 10 SEPTEMBER 2024
SPREUKE 3 VERSE 5 EN 6: “Vertrou volkome op die Here en moenie op jou eie insigte staatmaak nie. Ken Hom in alles wat jy doen en Hy sal jou die regte pad laat loop.”

As tieners begin om ons eie vryheid te soek. Ons wil meer beheer oor ons lewens hê en self besluite neem oor waarheen ons gaan en wat ons doen. Hierdie begeerte is natuurlik en deel van ons grootword proses, ons groei, maar soms kan ons vergeet dat ware vryheid nie net gaan oor die verbreking van reëls of die maak van impulsiewe keuses nie. Vryheid beteken om God toe te laat om ons te lei op die pad wat die beste vir ons is.
Wanneer ons self probeer om alles te beheer, raak ons soms verward of maak verkeerde keuses wat ons sleg laat voel. Ons mag dink dat ware vryheid is om alles op ons eie te doen, maar sonder God se leiding kan ons maklik verdwaal. God vra nie dat ons elke detail van ons lewens beheer nie, maar Hy wil hê ons moet Hom vertrou met ons drome, ons vrese, en ons toekoms. Deur Hom in al ons besluite te betrek, ontdek ons ‘n vryheid wat nie beperk word deur verkeerde besluite of vrees vir die toekoms nie. Dit is ‘n vryheid gevul met vrede en rigting.
As ons onsself toelaat om in hierdie vryheid te stap, sal ons besef dat God ons met liefde en wysheid lei. Hy het ‘n plan vir elkeen van ons, en as ons Hom vertrou, sal ons nie net vryheid vind nie, maar ook vervulling in die lewe. Hierdie vryheid beteken nie dat ons sonder verantwoordelikheid leef nie, maar dat ons die verantwoordelikheid het om God in elke aspek van ons lewens te ken en Sy pad vir ons te volg.
GEBED: Liewe Here, dankie dat U my ware vryheid bied deur U leiding en liefde. Help my om nie op my eie insigte staat te maak nie, maar om volkome op U te vertrou. Lei my keuses en wys my die regte pad vir my lewe. Help my om te verstaan dat ware vryheid nie gaan oor om alles op my eie te doen nie, maar om U toe te laat om my te lei. Dankie dat U altyd daar is, om my te help en lief te hê. In Jesus se Naam, AMEN.