BLOGREEKS: BRIEWE AAN MY TIENERS KINDERS! DONDERDAG SEPTEMBER 2024
Liewe Kinders,

Ek wil vandag met julle gesels oor iets baie belangrik: respek. Het julle al ooit gewonder wat die woord “respek” regtig beteken? Dit kom van die Latynse woord respicere, wat “weer kyk” beteken. As ons hieraan dink, verstaan ons dat respek nie net gaan oor om iemand vir die eerste keer te waardeer nie, maar ook oor om elke dag nuut na mense te kyk – asof jy hulle weer vir die eerste keer sien.
Stel jou voor hoe anders ons verhoudings kan wees as ons elke dag mense met nuwe oë sou kon sien, sonder om oordeel of verlede kwessies saam te bring. Ons almal het soveel gedeeltes van onsself wat ander dalk nie altyd sien nie, en respek gaan daaroor om daardie gedeeltes van mekaar raak te sien, oor en oor, sonder om vas te klou aan wat ons dink ons reeds weet.

Wanneer ons nuwe mense ontmoet, het ons ‘n geleentheid om hulle regtig met ‘n oop hart en sonder vooropgestelde idees te leer ken. Maar hier is die uitdaging: kan ons dit doen met mense wat ons al lank ken? Kan ons mekaar elke dag weer of her ontmoet, met dieselfde oopheid en respek?
Goeie verhoudings – of dit nou by die huis of in die skool is – begin altyd by liefde en respek. Ons is almal mense, met baie van dieselfde bekommernisse en vrese, selfs al wys dit op verskillende maniere. En weet julle wat? Die vinnigste manier om vertroue tussen twee mense te bou, is om mekaar te sien vir wie ons regtig is, sonder oordeel.
Respek beteken ook om vinnig te vergewe en altyd ‘n nuwe kans te gee. As iets in ‘n verhouding nie werk nie, neem verantwoordelikheid vir jou kant en probeer om dit reg te maak. Soms is al wat dit vat ‘n eenvoudige vraag soos: “Hoe gaan dit regtig met jou?”

Ons is almal verantwoordelik vir ons deel in die verhoudings in ons lewe. As dinge moeilik raak, moet ons onthou dat liefde en respek die fondament is om dit reg te maak.
Met liefde en respek, Papa