TIENER BLOGOORDENKINGS: HOFLIKHEID

Home » blog » Brieven tieners » TIENER BLOGOORDENKINGS: HOFLIKHEID

OORDENKINGREEKS VIR TIENERS: VRYDAG  13 SEPTEMBER 2024

Hoflikheid gaan oor hoe ons ander mense behandel, en dit is iets waaraan ons as Christene veral aandag moet gee. Die teksgedeelte wat ek gekies het wil dat ons dat ons altyd vriendelik en bedagsaam moet wees, ongeag wie die persoon is of hoe ons voel. Hoflikheid vereis dat ons ons eie trots opsy sit en ander met respek behandel, net soos Jesus mense hanteer het – met liefde en nederigheid.

Hoflikheid begin by klein dade van vriendelikheid, soos om ander se gevoelens in ag te neem, dankie te sê, en met respek te praat. Dit is maklik om hoflik te wees met mense wat ons magtiger of belangrik ag, maar ware hoflikheid kom uit wanneer ons dit wys aan almal, selfs aan diegene wat ons as minder belangrik beskou. Hoflikheid herinner ons daaraan dat elke persoon deur God geskape is en die moeite werd is om goed te behandel. As ons God vra om ons te help om ander soos Hy te sien, sal ons meer geneig wees om hoflikheid en respek te wys, omdat ons hul waarde in God se oë erken.

Maar hoflikheid gaan nie net oor hoe ons ander behandel nie. Dit gaan ook oor nederigheid en diensbaarheid. Wanneer ons hoflik is, toon ons nederigheid – ons stel ander se behoeftes bo ons eie. Dit is ‘n praktyk van liefde, en dit weerspieël Jesus se houding teenoor die wêreld. As ons hoflikheid leef, wys ons die wêreld dat ons verskil, omdat ons harte vol is van God se liefde en genade. Probeer vandag iemand gelukkig maak deur almal wat jy teëkom ’n goeie dag toe te wens … GOEIEMÔRE, GOEIEMIDDAG en GOEDEAVOND … ek doen dit in Doesburg en ek kry soveel warmte terug!

GEBED: Here, leer my om hoflikheid te wys in al my optrede. Help my om ander te sien soos U hulle sien en met liefde, respek en nederigheid op te tree. Verander my hart sodat ek mense kan behandel met die vriendelikheid wat U aan my wys ongeag hoeveel geld of mag hulle het. Help my om U voorbeeld te volg en U liefde te deel deur klein dade van hoflikheid. AMEN