BLOGREEKS: BRIEWE AAN MY TIENERS KINDERS! DINSDAG 10 SEPTEMBER 2024
Liewe Kinders,
Soos julle ouer word en die wêreld om julle begin verander, voel ek dit is nou die regte tyd om met julle oor iets baie belangriks te gesels: vryheid. Vryheid is ‘n mooi geskenk wat jy aan jouself kan gee, maar dit bring ook verantwoordelikheid saam. Dit is belangrik dat julle hierdie fase van julle lewe aanpak met wysheid, selfliefde en die wete dat ek, as julle PaPa (natuurlik Mam ook), altyd hier sal wees om julle te ondersteun.

Eerstens wil ek vir julle sê: wees julleself. Moenie probeer wees wie die wêreld sê julle moet wees nie. Ontdek wie julle werklik is, sonder enige maskers of toneelspel. Daar is krag in egtheid, in die persoonlikheid wat natuurlik na julle toe kom. Julle hoef nie hard te probeer om iemand anders te wees nie. Wees trots op wie julle is, want dit is wat regtig saak maak. Wat die wêreld van jou dink, is onbelangrik – wat jy van jouself dink, is wat jou rigting in die lewe sal bepaal.
Wanneer dit by vriendskap kom, onthou: ware vriende aanvaar jou presies soos jy is, sonder om eise te stel of voorwaardes te hê. Dit is die mense wat by jou sal staan, deur dik en dun, sonder dat jy iets hoef te verander. Kies sulke vriende, want hulle is skaars en kosbaar.
Ek besef dat hierdie die tyd is waar julle meer onafhanklikheid en vryheid begin begeer. Julle wil dinge op julle eie manier doen, en ek verstaan dit. Tog, soms sal julle en ons, as ouers, verskil oor wat reg en wat verkeerd is. Ons raad kom uit liefde en besorgdheid vir julle welstand, en ek weet dat dit nie altyd lekker is om te hoor nie. My versoek aan julle is eenvoudig: moenie ons raad haat nie. Luister asseblief en hou die kommunikasie met ons oop. Eendag, wanneer julle ouer is, sal julle verstaan hoekom ons gesê het wat ons gesê het.

Vryheid beteken nie net dat jy kan doen wat jy wil nie; dit beteken ook dat jy verantwoordelik is vir jou dade. Met hierdie nuwe vryheid kom regte en verpligtinge. Geniet dit, maar wees wys daarmee. Ons vertrou dat julle dit reg sal gebruik, en dat julle sal leer hoe om dit in balans te hou.
Hierdie fase in julle lewe is ook een van groot drome. Moet nooit bang wees om groot te droom nie. Daar is geen beperking aan wat julle kan bereik nie – as julle hard genoeg daaraan glo en bereid is om die werk in te sit, is alles moontlik. Onthou, die verskil tussen suksesvolle mense en dié wat nie hul drome verwesenlik nie, is harde werk en dissipline. Mense wat hul drome voed met toewyding en volharding, bereik dit; terwyl dié wat net droom, sonder werk, dit misloop.

Ek weet dit is nie maklik om dissipline in hierdie tyd van jou lewe te hê nie. Jou gedagtes beweeg soos ‘n vlinder van een blom na die ander, en dit kan moeilik wees om gefokus te bly. Maar wanneer jy jou groot droom vasgryp en regtig begin werk daaraan, sal dissipline natuurlik na jou toe kom.
Dit is nou die tyd waarin julle ook julle liggaam en gees moet versorg. Eet goed, slaap genoeg, speel en oefen. ‘n Gesonde liggaam huisves ‘n gesonde gees. Neem dit ernstig op, want hierdie is die fondasie wat julle vir die res van julle lewe bou.
Onthou ook: jou familie is altyd hier vir jou. Ons is hier om na jou te luister, om jou vrae te beantwoord, maak nie saak hoe simpel of ongemaklik dit mag voel nie. Ons wil graag ons ervarings met jou deel, om jou te help om jou eie pad in die lewe te vind.
Ek wens julle alles van die beste toe in hierdie opwindende fase van julle lewe. Dis ‘n tyd van ontdekking, avontuur en groei. Mag julle elke oomblik daarvan geniet en mag julle elke droom wat julle droom, verwesenlik.
Met baie liefde en beste wense,
Jul PaPa