Van Paasfees na Hemelvaart

Die Nederlandse uitdrukking “As Pasen en Pinksteren op een dag val” het sy oorsprong in die vaste datums waarop hierdie Christelike feeste gevier word. Pasen of Paassondag herdenk ons die opstanding van Jesus Christus uit die dood en val altyd op die eerste Sondag na die eerste volle maan van die lente. Pinkster (Pentecoste in Grieks beteken 50) val dan weer op die sewende Sondag (50 dae) na Paasfees. Die uitdrukking beteken of suggereer dus dat iets absoluut nooit sal gebeur nie, omdat die datum van Pinkster afhanklik is van die datum van Eerste Paasdag, en dit dus onmoontlik is vir Paasfees en Pinkster om op dieselfde dag te val.

Binne die Christelike geloof word Paasfees gevier ter herdenking van die opstanding van Jesus uit die dood, terwyl Pinksterfees die neerdaling van die Heilige Gees op die apostels en ander gelowiges herdenk, wat die begin van die Christelike kerk aandui.
Die uitdrukking is ‘n lewendige deel van die taal en word gebruik om die onwaarskynlikheid van ‘n gebeurtenis te beklemtoon. In ander tale kom ‘n soortgelyke uitdrukking voor, soos in die Duits: “Wenn Ostern und Pfingsten auf einen Tag fallen”.
Ek gaan die volgende week (7 – 13 April 2024) my oordenkings fokus met die spreukwoord as tema, maar met ’n klein verskil: Wat nou as Paasfees en Pinkster tog op een dag val.