BENDEGEWELD OORDENKING: SATERDAG 27 JUNIE 2024
Matteus 10:28 – “Moenie vrees vir die wat die liggaam doodmaak, maar die siel nie kan doodmaak nie; maar vrees Hom liewer wat die siel sowel as die liggaam kan verderwe in die hel.”

Normale vrees beskerm ons; abnormale vrees verlam ons. Normale vrees motiveer ons om te werk aan ons individuele en gemeenskaplike welstand; abnormale vrees vergiftig en vervorm ons innerlike lewens voortdurend. Ons hoef nie te streef om vrees heeltemal te verloor nie, maar eerder om dit in toom te hou en te beheer. Hoe beheer ons dan vrees? Ons vrees bendes en hul wapens. Eerstens moet ons nie terugdeins om ons vrese regstreeks in die oë te kyk nie en onsself afvra waarom ons bang is. As ons ons vrese sien vir wat hulle is, sal ons ontdek dat hulle dikwels meer ingeprent as werklik is.
Moed is die krag van die menslike gees om vrees te oorkom. Moed is die vasberadenheid om nie bang te wees vir bendes nie en stel ons in staat om teen elke vrees op te staan. Die kragte wat die lewe bedreig, moet tegemoet getree word met die moed om die lewe te bevestig, ten spyte van alle onsekerhede van die lewe. Hiervoor is dit nodig dat ons ons oefen in ‘n kreatiewe wil, wat ons in staat stel om uit ‘n berg van wanhoop ‘n klip van hoop te kap. Hierdie moed kom nie van onsself nie, maar van ons geloof in ‘n groter krag.
Vrees word oorkom deur geloof. Ons probleem is eenvoudig dat ons probeer om vrees sonder geloof aan te pak. Die God wat ons aanbid is groter as die bendes. ‘n Positiewe godsdienstige oortuiging gee ons nie die illusie (wanbeeld) dat ons gespaar sal bly van pyn en lyding nie, en bied ons ook nie die idee dat die lewe ‘n toneelstuk is van onverstoorde gemak en sorgeloosheid nie. Geloof vul ons met ‘n innerlike balans waarmee ons die moeilikhede, laste en vrese, wat onvermydelik op ons pad kom, kan hanteer, en verseker ons dat die heelal betroubaar is en dat God daarin betrokke is.

GEBED Here Jesus, ons kom na U met ons vrese en onsekerhede. Ons vrees bendes en die geweld wat hulle bring, maar ons weet dat U groter is as enige vrees wat ons in die gesig staar. Help ons om ons vrese in die oë te kyk en dit te oorkom deur ons geloof in U. Gee ons die moed om op te staan teen die vrees en die lewe te bevestig ten spyte van die dreigemente om ons. Vul ons met die sekerheid dat U altyd by ons is en dat U ‘n plan het vir ons lewens. Ons vertrou U en plaas ons hoop en vertroue in U. In Jesus se naam bid ons, AMEN