VRYDAG 9/5/2025: “DOMINEE SE BALANS TUSSEN GESIN EN GEMEENTE”
1 Timoteus 5 vers 8 : “Maar as iemand nie vir sy eie mense sorg nie, en veral vir die lede van sy huisgesin, het hy die geloof verloën en is erger as ’n ongelowige.”
Dominees is geneig om te gee – áltyd te gee. Hulle gee hulle tyd, aandag, energie en hart vir mense. Maar wat gebeur as hulle soveel vir ander gee, dat hulle niks oor het vir hul eie gesin nie? Hierdie dagstukkie gaan oor ‘n saak wat dikwels agter geslote deure afspeel: die stryd om balans te vind tussen bediening en gesinslewe.

Ek onthou ‘n week waar ek ná middernag ’n noodoproep ontvang het van ’n man in ’n krisis. Die volgende dag moes ek twee begrafnisse en ’n huwelik hanteer, en daarna kerkraads- én sinodale werk. Ek het myself betrap dat ek nie eers ordentlik kon fokus nie. Selfs in die kansel kon mense aanvoel dat ek nie heeltemal daar was nie. My vuur het begin dof raak – nie van ongeestelikheid nie, maar van oor moegheidbelasting.
Dis tyd dat ons eerlik praat oor hierdie spanning. Hoe kan ‘n dominee sy gemeente getrou dien, sonder om sy gesin prys te gee?
Bybelse Konteks
Die Woord van God stel gesin bo bediening. Paulus sê onomwonde dat wie nie vir sy eie gesin sorg nie, die geloof verloën. En ons teks benadruk dat ’n geestelike leier eers sy huis goed moet bestuur voordat hy die kerk kan lei.
Hierdie prioritisering is nie net ’n praktiese voorstel nie – dit is ’n geestelike vereiste. Die huisgesin is die toetsgrond vir karakter, selfdissipline, liefde en leierskap. As ’n dominee nie sy vrou en kinders met sorg en aandag hanteer nie, hoe kan hy met geloofwaardigheid ander geestelik lei?
Jesus self het tyd gemaak vir rus, vir vriende, en vir stilte – selfs wanneer mense Hom nog gesoek het. Hy het geweet wanneer om weg te stap van die menigte en Sy Vader te soek. ’n Dominee wat nooit grense trek nie, minag eintlik sy eie menslikheid – en stel sy gesin en gemeente bloot aan sy uitputting en uitbranding. God vra nie van geestelike leiers om alles te doen nie – Hy vra dat ons getrou sal wees met wat Hy ons gegee het, en dat ons die regte dinge eerste sal stel.
Toepassing
In vandag se bediening leef baie predikante met ‘n onuitgesproke druk: wees altyd beskikbaar. Sê nooit nee nie. Doen ál die werk. Maar hierdie benadering is nie net ongesond nie – dit is onbybels.
My ervaring leer my dat bediening maklik alles kan oorneem. Selfs wanneer ek by die huis is, is ek nie altyd emosioneel of geestelik teenwoordig nie. Wanneer ek elke nood as ‘n prioriteit sien, stuur ek ‘n onbewuste boodskap aan my vrou/man en kinders: “Julle is minder belangrik as ander mense se krisisse.”
Ons moet onsself toelaat om grense te hê. ’n Dominee wat sy foon afsit tydens aandete, of wat ‘n vergadering uitstel om op na die mall saam met sy kind te gaan, is nie lui nie – hy is gehoorsaam. Hy bou iets wat ewig sal hou.
Gemeentelede moet ook hul verwagtinge aanpas. Ja, ’n dominee is ‘n herder, maar hy is ook ’n vrou/man, ’n pa/ma, ‘n eggenoot. As hy daardie rolle goed vervul, sal sy prediking kragtiger wees en sy hart helderder skyn.
Ware waardering vir ‘n dominee beteken dat ons hom help om sy gesin nie te verloor terwyl hy die kerk probeer red nie.
Twee Wenke
- Gee jou leraar toestemming om “nee” te sê: Moenie aanstoot neem as hy nie altyd beskikbaar is nie. Eerder, bemoedig hom om grense te trek sodat hy volhoubaar en met vreugde kan bedien.
- Herken die waarde van ‘n gesonde huis: Eer jou dominee se gesinslewe. Vra hoe dit gaan. Bid vir sy huwelik en kinders, en moedig hom aan om prioriteit aan hulle te gee.
SAMEVATTING
Dominees is roepingsmense – hulle het ‘n passie om te help, te lei, te dien. Maar hulle is nie superhelde nie. Wanneer hulle balans verloor, is dit dikwels nie as gevolg van swak prioriteite nie, maar as gevolg van ‘n kultuur wat geestelike diens bo gesin plaas.
Ware geestelike gesag begin by die huis. As ons regtig ons dominees wil waardeer, moet ons nie net kyk na hul preke of pastoraat nie, maar na hul prioriteite – en hulle aanmoedig om gesonde keuses te maak wat beide hul gesin en hul bediening dien.
“Moenie jou gesin vir die kerk opoffer nie. As jy jou gesin verloor, het jy reeds jou bediening verloor.” Obe Phillips
2 thoughts on “DAGSTUKKIE 9 MEI 2025: “WAARDEER JULLE DOMINEES, PASTORE EN ANDER GEESTELIKE LEIERS”
More Ds Phillips ek vertrou dit gan goed daar in di buiteland mt u en gesin.Baie dankie v hierdie treffende uitlegging.Ek stem volkome saam mt wat u noem in gelese gedeelte.Ek sou dit graag mt di kerkraad v my gemeente wil deel.Gan beslis deel mt CVB lede.Groetnis Sr Sandra Daniels.Vgk Eerste Rivier-Suid.
Baie dankie Ds. Ek is nog vars in die bediening, en sukkel met Balans. Meer so omdat ek deeltyds is. Dankie die dagstuk, op my geboortedag help.
Comments are closed.