VRIENDSKAP 3-9 FEB 2025 VRIENDSKAP ‘n KOSBARE GAWE VAN GOD

Home » blog » Vriendskap » VRIENDSKAP 3-9 FEB 2025 VRIENDSKAP ‘n KOSBARE GAWE VAN GOD

DONDERDAG 6 FEBRUARIE 2025 – ‘n GETROUE NABYHEID

Spreuke 27:10  “Moet jou vriend en die vriend van jou vader nie verlaat nie; moenie na die huis van jou broer gaan op die dag van jou nood nie. ‘n Naby buurman is beter as ‘n broer wat ver is.”

Ware vriendskap is ‘n seën van God. In ‘n wêreld waar mense dikwels ver van familie af woon, is dit noodsaaklik om sterk vriendskappe te bou. Ek het in relatief kort tyd goeie vriende gemaak in Nederland, wat my alreeds baie gehelp het en ek glo ek kon hulle ook help. Die Bybel leer ons dat ‘n vriend wat naby is, in tye van nood van onskatbare waarde is. Sulke verhoudings moet met sorg gekoester word.

Die waarde van lojale vriendskap is onmeetbaar. In moeilike tye is dit jou ware vriende wat naby jou bly en jou ondersteun. Ons sien in die Bybel hoe vriendskappe soos dié van Dawid en Jonatan seën en krag gebring het. Ware vriendskap is gebou op wedersydse respek, lojaliteit en onselfsugtige liefde.

Moderne tegnologie het ons verbind met mense regoor die wêreld, maar dikwels op ‘n oppervlakkige manier. Dit is makliker om ‘n boodskap te stuur as om werklik tyd saam deur te bring. Daarom moet ons doelbewus vriendskappe bou en onderhou, want dit is hierdie naby-verhoudings wat ons help om swaarkry te verduur en vreugde te deel.

Vriendskap verg belegging. ’n Ander vriend het eendag gesê dit lyk hy koop alleen aandele in die vriendskap niemand belê in hom nie…  Ons kan nie net verwag dat mense daar vir ons sal wees as ons hulle nie gereeld ondersteun en bemoedig nie. Net soos ‘n drievoudige koord nie maklik breek nie (Prediker 4:12), so is ware vriendskap ‘n sterk verbintenis wat gebou word oor tyd. Hierdie tipe vriendskap vereis toewyding, begrip en ‘n opregte bereidheid om vir ander daar te wees.

Ware vriendskap is ‘n kosbare geskenk wat ons moet koester en onderhou. Dit is ‘n bron van vertroosting, wysheid en krag in tye van nood. Soos Spreuke 27:10 sê, is ‘n naby vriend van groter waarde as ‘n broer wat ver is. Bou en koester hierdie verhoudings met liefde en toewyding.

Wenke

  1. Wees doelbewus oor jou vriendskappe – Maak tyd vir persoonlike ontmoetings en gesprekke, nie net aanlyn kontak nie.
  2. Bied ondersteuning en wees ‘n lojale vriend – Wys jou vriende dat hulle op jou kan staatmaak, veral in moeilike tye.

GEBED Here, dankie vir die vriende wat U in my lewe geplaas het. Help my om ‘n lojale en getroue vriend te wees, wat ander ondersteun en bemoedig. Leer my om my vriendskappe met wysheid en liefde te bou en te onderhou. Seën my verhoudings, sodat dit U eer bring. AMEN