OORDENKING – 17 JUNIE 2024 (1)
DIE SIMBOLIEK VAN DIE PRIESTERLIKE SEËNBEDE
Numeri 6 Verse 24-26: “Die Here sal julle seën en julle beskerm; die Here sal tot julle redding verskyn en julle genadig wees; die Here sal julle gebede verhoor en aan julle vrede gee!”

Die seën bestaan uit drie sinne, elk met ‘n toenemende aantal woorde en letters: die eerste sin het drie woorde en 15 letters, die tweede sin vyf woorde en 20 letters, en die derde sin sewe woorde en 25 letters. Hierdie toename in lengte skep ‘n gevoel van ‘n groeinde golf, wat die intensiteit en volheid van God se seën simboliseer. In die Bybel dui die getal drie dikwels op intensiteit. Wanneer iets drie keer gesê word, of in drie dele, dra dit ‘n besondere krag.
Die naam JAHWE – Hierdie naam, wat die tweede woord in elke sin is, herinner ons aan die konstante teenwoordigheid en beskerming van God. Die herhaling van Jahwe se naam beklemtoon sy getrouheid en sy verbintenis aan sy volk. Dit wys dat God self die bron van die seën is en dat Hy intiem betrokke is by die lewe van sy kinders.
Die hoogtepunt van die seën is die woord “shalo̱m,” wat vrede beteken. Hierdie woord is die laaste in die derde sin en dien as ‘n samevatting van God se wil vir sy volk. Dit is nie net ‘n afwesigheid van konflik nie, maar ‘n vrede wat volheid van lewe bring. Dit is betekenisvol dat Jesus, na sy opstanding, sy dissipels begroet met “Vrede sy met julle.” Dit wys dat Jesus, as die hoogste Priester, die vervulling van hierdie seën is. Die shalo̱m van God, deur Jesus Christus, verteenwoordig God se liefde vir ons.

GEBED: Mag die Here julle seën en julle beskerm, en Sy onuitputlike goedheid oor julle uitstort. Mag die Here sy lig oor julle laat skyn en julle redding bring, en met sy oneindige genade by julle wees. Mag die Here julle gebede verhoor en Sy vrede aan julle gee, en julle harte en geeste vervul met sy rustige teenwoordigheid.