BLOGAANKONDIGING – 5 TOT 11 MEI 2025 NUWE DAGSTUKKIE REEKS: “WAARDEER JULLE DOMINEES, PASTORE EN ANDER GEESTELIKE LEIERS”

Home » blog » Pastors appreciation » BLOGAANKONDIGING – 5 TOT 11 MEI 2025 NUWE DAGSTUKKIE REEKS: “WAARDEER JULLE DOMINEES, PASTORE EN ANDER GEESTELIKE LEIERS”

 ’N WEEK VAN LEIERSKAP WAARDERING, HERSTEL EN EERBIED

Liewe bloglesers, Ek is opgewonde om ‘n splinternuwe dagstukkie reeks aan te kondig wat Maandag, 5 Mei 2025 afskop! Hierdie reeks, getiteld “… ’n WEEK VAN LEIERSKAP WAARDERING, HERSTEL EN EERBIED”, is ’n roep tot terugkeer na Bybelse waardering en eerbied – veral teenoor die leiers wat God oor ons aangestel het.

Ek bid dat hierdie 7-dae reeks ‘n tyd van oordenking, berou en vernuwing sal wees – nie net vir individue nie, maar ook vir bedieningskommissies, gemeentes en gesinne. Deel dit asseblief wyd met jou gemeente, sosiale media groepe, vriende en familie – dit is eg van imeratiewe belang dat ons weer leer om met waardering en eer te wandel.

Hebreërs 13:17 herinner ons: “Gehoorsaam julle geestelike leiers en onderwerp julle aan hulle gesag. Hulle waak oor julle siele en sal rekenskap moet gee. Laat hulle dit met vreugde doen en nie met gesug nie, want dit sal vir julle geen voordeel hê nie.”

Ek weet uit persoonlike ervaring wat gebeur wanneer jou harde arbeid vir God se gemeente vervang word met afskrywing, klagtes, oordeel en ondankbaarheid vir elke fout wat jy maak. Ek het die gevolge daarvan gevoel. Was ek altyd reg? Nee, glad nie daarvoor is ek te mens, te sondig. Maar dit was nie nodig om my so baie te laat huil nie.  Ons is geroep om te eer. Daarom is ek ‘n voorstander van ‘n ‘Pastors Appreciation Service’.

My model? Jesus self. Hy het Homself voortdurend onderwerp aan die Vader se wil. Hy het in elke oomblik na die Gees van God binne Hom geluister. Sy lewe was een van nederigheid, oorgawe en eer. En dis hoekom hy waardeer was met Palmtakke. .

Hier is die tema’s vir elke dag van die week:

🔹 Maandag 5 Mei – Dominees, Pastore en ander Geestelike leiers dra ‘n heilige roeping
Ons leiers het ‘n buitengewone verantwoordelikheid: om oor ons siele te waak. Dit is ‘n gewig wat hulle met getrouheid en dikwels met groot persoonlike opoffering dra.

🔹 Dinsdag 6 Mei – Hulle werk eindig nooit regtig nie
Selfs wanneer hulle huis toe gaan, bly hulle aan diens. Krissise wag nie vir kantoorure nie, en ons Dominees en pastore bly beskikbaar – dikwels ten koste van hul eie rus.

🔹 Woensdag 7 Mei – Hulle dra ons laste stil-stil
Soveel van hul pyn sien ons nooit. Hulle ween dikwels meer oor ander se gesondheid, familie leed en sondes as wat daardie mense self ooit doen. Hulle dra geheime pyn – terwyl hulle ons opheffend dien.

🔹 Donderdag 8 Mei – Hulle werk agter die skerms
Ons sien hulle op die kansel, maar prediking is net ‘n fraksie van hul bediening. Daar is ure van gebed, studie, berading en mentorskap – alles ter wille van die liggaam van Christus.

🔹 Vrydag 9 Mei – Hulle streef na balans tussen gesin en gemeente
Dis nie maklik om gemeente en gesinslewe te balanseer nie. Baie pastore se gesinne betaal ‘n prys, al probeer hulle met alles in hulle om balans te handhaaf.

🔹 Saterdag 10 Mei – Hulle dra die gewig van die Woord én kritiek
Hulle preek die Woord met vrees en bewing, bewus van die verantwoordelikheid om dit reg te hanteer. En dan… kry hulle ook kritiek – soms regverdig, dikwels nie. En tog reageer hulle met genade.

🔹 Sondag 11 Mei – Hulle deel in al ons lewensmomente
Van geboorte tot dood, en alles tussenin. Hulle stap saam met ons deur elke mylpaal – doop, troues, begrafnisse, seëninge én seisoene van pyn. Net hulle dra daardie unieke eer én las.

Liewe leser, wanneer jy enige leier – geestelik of andersins – ontereg oordeel, kritiseer, of oneerbiedig hanteer, stap jy buite die hart van God. Maar daar is genade. Vandag kan jy omdraai. Jy kan eer herstel. Maak reg met God, en as nodig, met jou leier.

Mag hierdie week vir jou ’n keerpunt wees. Kom ons kies eer – vir die eer van God. Kom ons wandel in eer, soos Jesus dit gedoen het.

Deel asseblief hierdie reeks met almal wat jy ken. Mag dit ’n kultuur van waardering, eenheid en Heilige Gees-beweeg in ons gemeentes ontketen.

Met liefde en verwagting,