ONGEWONE UITSPRAKE – DAAGLIKSE OORDENKINGS: 24 FEB TOT 2 MAART 2025

Home » blog » ONGEWONE UITSPRAKE – DAAGLIKSE OORDENKINGS: 24 FEB TOT 2 MAART 2025

DINSDAG 25 FEB 2025 – VLEIS IN OORVLOED!

NUMERI 11 VERSE 18 & 19

Die Bybel is vol ongewone uitsprake, wat ons dikwels met ‘n nuwe perspektief oor God en ons eie lewens laat. Een so ‘n uitsonderlike gebeurtenis is die verhaal van die Israeliete wat moeg geraak het vir manna en kla vir vleis. God antwoord op ‘n manier wat hulle nooit sou kon voorsien nie.

 “As ons maar net ‘n stukkie vleis kan kry!” het die Israeliete gemor. “In Egipte het ons al die vleis geëet wat ons wou hê… Dink aan die komkommers, die waatlemoene, die preie, die uie en die knoffel wat ons gehad het!” (Numeri 11:1-5). Hulle klagtes klink dalk kinderagtig, maar as ons eerlik is, is ons nie anders as hulle nie. Hoe meer ons kry wat ons wil hê, hoe minder waardeer ons dit! Dink maar net aan begrafnisse, ons spog eintlik met die hoeveelheid vleis …

Die voortdurende gekla van die Israeliete maak Moses moedeloos. Hy roep uit na God en sê hy kan nie langer hierdie klomp hardkoppige mense hanteer nie. Waar moet hy genoeg vleis kry vir almal?  God antwoord dramaties en sê vir Moses om die volk te vertel: (Numeri 11:18-19).

Dit is asof God sê: “Julle kla altyd dat julle nie kry wat julle wil hê nie, so ek gaan vir julle gee wat julle wil hê in oorvloed! Dan sal julle leer dat net My voorsiening werklik genoeg is.”

God stuur ‘n oorvloed kwartels, maar die mense raak so gulsig dat hulle siek word en baie sterf. Hierdie plek word selfs Kibrot-Hattaäwa genoem, wat beteken “Grafte van Begeerte”.  Dit is ‘n harde les: wat ons begeer, kan ons vernietig as ons dit bo God se wil plaas.

So dikwels smag ons na dinge wat ons dink ons gelukkig sal maak – ‘n beter werk, meer geld, ‘n perfekte lewe. Maar as ons hierdie begeertes bo God plaas, lei dit tot teleurstelling. Net Hy kan ons ten volle vervul. Ware vervulling lê nie in wêreldse dinge nie, maar in ‘n verhouding met God. Mag ons Hom bo alles soek en vertrou.

Wenke:

  1. Dink na oor wat jy tans die meeste begeer en vra jouself af of dit in lyn is met God se wil vir jou lewe.
  2. Bestee tyd in gebed en Bybelstudie om God se plan vir jou te verstaan en te aanvaar wat Hy vir jou wil gee.

GEBED: Here, dankie dat U weet wat ons werklik nodig het. Vergewe ons wanneer ons soos die Israeliete kla en smag na dinge wat ons nie nodig het nie. Help ons om U voorsiening te vertrou en te besef dat net U ons ware vervulling gee. Lei ons om te smag na U teenwoordigheid bo enigiets anders. AMEN