OM DIE “EK” TE VERANDER NA DIE “ONS”.

Home » blog » Konflikhantering » OM DIE “EK” TE VERANDER NA DIE “ONS”.

KOFLIKHANTERING: OORDENKING VRYDAG 5 JULIE 2024

Hierdie woorde herinner ons aan die belangrikheid van vrede en die noodsaaklikheid om konflik op te los. Natuurlik, elkeen se mening is belangrik. Maar wat gebeur wanneer ons menings bots? Ons hoef nie ons eie menings net so op te gee nie, en dit is ook nie wenslik om te vinnig in te gee en ons eie belange opsy te skuif nie. Dit is belangrik om te vra: wat is op die lange duur van groter belang – my eie geluk of ons gesamentlike geluk?

Daar is ‘n verhaal van ‘n rabbi wat besoek ontvang het van ‘n getroude paar wat in konflik was. Die man het sy kant van die storie vertel, en die rabbi het gesê: “Jy het gelyk.” Later het die vrou haar kant van die storie vertel, en die rabbi het ook vir haar gesê: “Jy het gelyk.” Toe die rabbi se vrou hom hiermee konfronteer en sê dat hy nie albei kan gelyk gee nie, het hy vir haar gesê: “Jy het ook gelyk!” Hierdie vertelling wys twee dinge. Eerstens, om jou punt af te dwing is nie altyd die beste vir almal; daar is altyd ‘n ander kant van die storie, ander is ook reg. Tweedens, ter wille van die geluk van almal kan dit nodig wees om jou eie standpunt in te ruil vir gesamentlike geluk – om die “ek” te verander na die “ons”.

Wat ons doel regtig moet wees, is nie die vasklou aan ons eie standpunte nie, maar die bereidheid en moed om ons eie standpunte minder ononderhandelbaar te stel, met die oog op die geheel. Dit is slegs moontlik in die lig van die evangelie, wat ruimte gee en aandui dat daar altyd meer is as net ons eie visie. Bly nie vassteek by gister nie, klou nie vas aan die hier en nou nie, maar kyk saam na die toekoms. SOEK SAAM ‘N TOEKOMSVISIE. KOMPREMEER!

ADVIES

Werk saam om ‘n toekomsvisie te ontwikkel wat die geluk van almal in ag neem. Wees bereid om jou eie standunt minder absoluut of ononderhandelbaar te stel en fokus op die groter prentjie van gesamentlike geluk. Dit vereis moed en bereidheid om jou eie standpunt op te offer vir die welstand van die geheel.

GEBED: Almagtige God, Ons dank U vir die wysheid van U Woord wat ons lei in tye van konflik. Help ons om vredemakers te wees deur ons eie geluk of standpunt te verruil vir die gesamentlike geluk van almal betrokke. Gee ons die moed en wysheid om ons eie standpunte minder absoluut of onderhandelbaar te stel en om die groter prentjie van vrede en eenheid te sien. Lei ons om nie vas te steek in die verlede nie, maar om saam na ‘n hoopvolle toekoms te kyk. In Jesus se Naam bid ons, AMEN

1 thought on “OM DIE “EK” TE VERANDER NA DIE “ONS”.”

Comments are closed.