DEEL 1: Preke Van Hoop, Genade En Liefde, Maar Dade Van Slawerny
VRYE NATUURMENSE TOT SLAWE Die onuitblusbare vlam van die Suid-Afrikaanse Khoi – Kortverhale oor die stryd, identiteit en die voortlewing van die Khoi-kultuur deur middel van storievertelling.

Terwyl die braaivleis geur nog in die lug gehang het, het Evangelis Hans Olyn die jong Khoi kinders nader geroep. Hulle het om hom gesit, in ‘n halfsirkel, met hul oë vol vrae en afwagting. Hans het die Bybel op sy skoot gehad, maar sy oë was op die horison, waar die laaste lig stadig verdwyn het. Hy het die stilte laat intrek, die erns van sy woorde wat hy nou sou deel, alreeds voelbaar.
“Jongmense,” het hy begin, sy stem laag soos die grond onder hul voete, “julle het al baie stories gehoor van die sendelinge se God wat nou ook ons God is. Hulle het hierheen gekom met die Bybel in die hand en het gesê hulle bring lig, waarheid, en redding. Maar daar is ‘n ander kant van die verhaal wat ons nie altyd vertel word nie, iets wat ons moet verstaan om die volle waarheid te ken.” sê Hans.
“Die Europeërs het gekom met die Bybel in die een hand en kettings in die ander hand. Hulle het ons die Christendom voorgeskryf en aangemoedig om te bekeer, hulle het gepreek van hoop, genade en liefde, maar hulle het ons behandel soos diere. Hulle het gesê dat ons sondaars is, dat ons verlos moet word, maar hul dade was nie dié van mense wat God se liefde verstaan het nie. Nee, hulle het ons mense slawe gemaak, en sodoende ons vryheid weggeneem, soos ‘n jakkals wat ’n hoenderhen se kuikens steel.”
Die vuur dans in sy oë. “In die vroeë dae, toe die Vryburgers party van hulle half Khoi half Europees, die besetters van die Kaap, die grense van die wye veld ingetrek het, was daar tye van ‘betreklike vryheid,’ soos die geskiedenisboeke dit noem. Ons mense, die Khoi, het soms as arbeider vir die Europese Besetters gewerk op ons eie grond, gehelp om hul vee te versorg en hul plase te beskerm. Ja julle, dit alles op ons land. Die besetters het ons vaardighede nodig gehad – ons het die land geken, die diere en die waterbronne. Ons het geweet hoe om te oorleef in hierdie ruwe land. Maar stadig, baie stadig, het die vryheid begin verdwyn. Die grond waarop ons ons vee laat wei het, het kleiner geword. Ons vryheid, ons reg om te beweeg, het begin wegraak, soos mis wat verdwyn voor die warm son.”
Die jonges luister stil, elkeen vasgevang in die storie. Hans vervolg, sy stem nou vol van bitterheid. “Teen die einde van die agttiende eeu, het die verhouding tussen ons mense en die besetters ten slegte verander. Dit was nie ‘n vinnige slag wat ons vryheid weggeneem het nie, maar ‘n stadige, sluwe verskuiwing. Besetters het jongmense van ons geneem, hulle ontvoer en as slawe verkoop. Ons oumas en oupas is gedwing om as bediendes te werk, sonder vergoeding, slegs met klere en ‘n stukkie kos. En dan, in 1809, het die sogenaamde ‘Hottentot Proklamasie’ ons vasgeketting. Daardie wet het gesê dat ons toestemming moes vra om van een plek na ‘n ander te reis, asof ons nie mense van hierdie land was nie, maar diere wat beheer moes word.”
Hans kyk na die jonges, sy stem raak sagter. “En tog, selfs toe die Britse regering die slawehandel afgeskaf het, het die Europeërs steeds maniere gevind om ons te hou as ‘menslike eiendom.’ Hulle het ons gedwing om te werk, sonder vergoeding, en ons siel is verneder. Hoe ironies, dat hulle wat van God se genade gepraat het, maar ons soos goedere kon koop en verkoop. Sommige van ons mense het dalk ‘n mate van vryheid gehad, het dalk in ‘n beter posisie gewerk vir die besetters, maar vir die meeste was daar niks anders as lyding nie. Hulle het die Bybel gebruik om ons te oortuig dat ons minderwaardig was en hulle natuurlik meerwaardig, dat ons dankbaar moes wees vir wat ons ontvang het, maar hulle het vergeet dat ons mense, net soos hulle, gemaak is na die beeld van God.”
Die vuur kraak, en Hans sluit sy oë, asof hy die spoke van daardie dae voor hom sien. Nog dieper herinneringe sou volg. Word Vervolg….
Boek Beskikbaar by: Kay Adonis – 072 125 1664 – Bellville, Kaapstad
Northern Cape Printing & Stationery cc – 083 461 7896 – Barkley Road 75, Kimberley