BOEKAANKONDIGING: “VRYE NATUURMENSE TOT SLAWE “

Home » blog » Khoi Kultuur » BOEKAANKONDIGING: “VRYE NATUURMENSE TOT SLAWE “

DIE ONUITBLUSBARE VLAM VAN DIE SUID-AFRIKAANSE KHOI

Met trots en eerbied kondig ek dat my eerste boek ‘VRYE NATUURMENSE TOT SLAWE – DIE ONUITBLUSBARE VLAM VAN DIE SUID-AFRIKAANSE KHOI‘ binnekort gepubliseer gaan word. Hierdie werk, wat bestaan uit 45 kortverhale oor sowat 250 bladsye, is nie net ‘n literêre onderneming nie—dis ’n hartsprojek, ’n poging om stemme van die verlede ’n plek in die hede te gee. Ek gaan die volgende twee weke drie van die verhale op my blog plaas, lees dit asb en deel u mening in die ‘comment’seksie.

In hierdie versameling stories probeer ek ’n brug bou tussen die verlede en die hede, tussen die aarde waarop ons staan en die geeste van hulle wat voor ons geloop het. My inspirasie kom uit die sagte maar kragtige stem van my oumagrootjie, Mieta ‘Ogies’ Witbooi, wie se oë by die vuur geblink het terwyl sy met hartseer en liefde die verhale vertel het wat haar eie ouers en grootouers aan haar oorvertel het. Verhale wat gebrand het soos ’n vlam wat nie uitgeblus kan word nie.

Nadat ek in Julie 2020 na Nederland, en later na Doesburg verhuis het, het ek onverwags op mense afgekom wat my bewus gemaak het van die werk van die bekende Antropoloog Robert Jacob Gordon (1743 – 1795). Sy fyn waarnemings en gedetailleerde aantekeninge oor die Khoi-mense het ’n tweede vuur in my aangeblaas—’n intellektuele drang om meer te verstaan, te grawe, te leer. Hierdie twee invloede—die intieme familieherinneringe én die historiese bronne—het saam my kreatiwiteit gewek.

Die verhale in hierdie boek is nie net fiksie nie; dit is weefwerk van feite, kultuur, emosie, ervaring vemeng met kreatiwiteit. Ek noem dit Kreatiewe/nie-fiksie. Ek het grondige navorsing gedoen en met respek en sorg die bronne gebruik en erken wat hierdie werk moontlik gemaak het.

Ek nooi jou uit om saam met my rondom die vuur te kom sit. Om die stemme van my voorouers te hoor fluister, sing, en soms huil. Ek hoop hierdie boek dien as ’n herinnering aan die ryk en komplekse geskiedenis van die Khoi, maar ook as ’n uitnodiging aan nuwe geslagte om te ontdek, te leer en weer trots te wees.

Laat jou gedagtes en indrukke asseblief in die kommentaar – ek sien daarna uit om jou stem by hierdie gesprek te voeg.

Met dankbare groete,
Obe Phillips

Skrywer van “VRYE NATUURMENSE TOT SLAWE”

2 thoughts on “BOEKAANKONDIGING: “VRYE NATUURMENSE TOT SLAWE “”

  1. Good evening, really interested to read and learn more about our history,our people, would love to attend a book launch or your visit to a book club.

Comments are closed.