IKHABA RÂ. DONDERDAG 26 SEPTEMBER 2024
Goeienaand almal, my mense, jong en oud, ek groet julle met ‘n swaar hart, maar ook met ‘n groot verantwoordelikheid. Ek staan vandag hier voor julle, nie net as !Sugani Fortuin, die Askoek Slaner van Griekwastad nie, maar as ‘n stem van ons voorouers. Ons Leier, Kaptein Ghaap, het my gevra om met julle te praat oor iets wat vir ons volk van groot belang is – die Ikhaba râ. Dit is nie net ‘n dans nie; dit is ons geskiedenis, ons identiteit, en ons trots.

IKHABA RÂ
Nou kyk, ek is al 92 jaar oud, en ek kan nie meer self die Ikhaba râ dans soos ek destyds kon nie. Maar ek dra die stories van ons mense, en dit is wat ek vir julle wil oorvertel. Dit is belangrik dat ons nie toelaat dat ons ryk tradisies verwar word met die van ander volke nie. Vandag sien ek hoe ons eie mense die Ikhaba râ begin noem as die ‘Rieldans’. Nou vra ek julle, hoekom moet ons ‘n dans, wat al baie langer bestaan as enige iets uit Skotland, die naam gee van ’n volk se dans wat ons nie eens ken nie? Ons was nooit in Skotland nie, en ons dans het niks te doen met hul ‘Reeldance’ nie. Ons dans se naam is Ikhaba râ!
“Ikhaba râ!” skreeu die mense. “Ikhaba râ! Ikhaba râ! Ikhaba râ!”
Ja, die naam alleen het betekenis. Ikhaba râ beteken ‘Hoed van Springbokvel’. Hierdie dans is deel van ons storie, ons maniere om liefde en die lewe te vier, en dit is ‘n groot deel van ons kultuur hier in die Noord-Kaap, die Karoo en Namakwaland – en ook verder, in dele van Namibië.
Die Ikhaba râ is vinnig, vol passie en trots, en met ‘n styl wat nie maklik geklop kan word nie. Ons beweeg ons voete soos die diere van die veld: ons maak soos die vlinder, die bok, die bobbejaan en die meerkat. Ons boots ook die flirtende (vlerksleep) bewegings van voëls soos die pou, hoenderhaan, kalkoen, en volstruis na. Dit is ons manier om die liefdespel tussen man en vrou te wys – die man sal sy baadjie of hoed gebruik om die vrou uit te nooi na die dans, en sy sal hom antwoord met haar eie grasie en styl.

Ons is bekend vir die bokspring en die kapperjol – dis daardie energieke spronge en voetwerk wat maak dat die stof so staan. En natuurlik, die beroemde askoek slaan – waar ons die regtervoet bo-op die linkerknie plaas en die as van die skoek afklop, soos ons voorgeslagte dit gedoen het by die vuur.
Toe ek jonk was, het ons hierdie dans geleer deur te kyk na ons ouers en grootouers, soos hulle op die ritme van hul storievertelling beweeg het. Hulle het vir ons gewys hoe die Ikhaba râ nie net ‘n dans is nie, maar ‘n manier om stories oor ons verlede, ons jagtogte, en ons werk op die land te vertel. Ons het dit gedoen om te herinner, om ons kultuur lewendig te hou, en om die band tussen ons mense en die natuur te vier.
Ons ou mense het gesit om die vuur, hulle het ons geleer hoe die regte ritme en koördinasie belangrik is in die dans. Die bewegings moet in harmonie wees, die voete moet saam beweeg, en elke tree begin en eindig op dieselfde tyd. Dit was altyd belangrik dat die storie wat ons deur die dans vertel, duidelik en struktuur het. As jou storie chaoties en deurmekaar is, dan verloor jy jou plek in die dans – en dit is hoe ons oumense ons geleer het om respek vir die kultuur en die dans te hê.

Maar ek staan vandag hier, nie net om terug te kyk na die verlede nie, maar om te sê: Moet nie toelaat dat ons dans en ons kultuur verlore gaan nie. Dit is ons plig om die Ikhaba râ reg te noem en reg te hou. Dit is ons eie, ons erfenis. Ons moet dit met trots dans, sodat die jongmense weet waar hulle vandaan kom en dat hulle nie verwar raak deur vreemde name en invloede nie.
Laat ons nie vergeet wie ons is nie, en dat die Ikhaba râ die klop van ons harte is, net soos die stof onder ons voete is. Dans, my kinders, dans, maar onthou – dit is nie net ‘n dans nie. Dit is ons verhaal. Ikhaba râ! Laat ons voortgaan om ons geskiedenis met trots te vier!
“Ikhaba râ! Ikhaba râ! Ikhaba râ! Ikhaba râ!” skree die mense weer met een stem, terwyl die jongmense hul plek in die sirkel inneem en met nuwe ywer begin dans. Oom !Sugani glimlag, tevrede dat die ware tradisie nog lewendig is.