DIE KAMEELPERD EN DIE SKILPAD
Obe se KHOI KINDERFABELS
Met lekker vars aaskoeke en borde vol heerlike steenbok !tjomvleis het die kinders weer eens in ‘n kring gesit, hul gesigte verlig deur die helder Kalahari Maanlig. Kaptein Ghaap, hul wyse Khoi leier, het sy plek ingeneem en begin praat. “Vanaand, kinders, vertel ek julle ‘n storie van slimheid en oorlewing, met Langnek die Kameelperd en Skillie die Skilpad.”

Eendag, terwyl die son hoog in die lug tieng gestaan het, het ou Langnek die Kameelperd en Skillie die Skilpad mekaar op Niekerkshoop se stofpad ontmoet. Ou Langnek die Kameelperd het neergekyk na die klein Skilpad en gesê, “Ek kan jou enige oomblik doodtrap.” Skillie, wat baie bang was, het gedink stil bly is die beste antwoord. Die Kameelperd het toe gesê, “Ek kan jou sommer dadelik insluk.”
Die Skilpad het hierop geantwoord, “Wel, ek behoort aan die familie wat gewoond is om ingesluk te word.” Toe het die Kameelperd die Skilpad ingesluk. Maar toe die Skilpad deur die Kameelperd se keel af beweeg het, het dit vasgehaak. Die Kameelperd kon die Skilpad nie insluk nie en het uiteindelik verstik. Ou Langnek die Kameelperd het op die grond neergeval en sy laaste asem uitgeblaas. Die Skilpad, ongeskonde en veilig, het uit die Kameelperd se liggaam gekruip en na sy ma gegaan. Hy het aan haar vertel wat gebeur het.
Die Skilpad ma het gesê, “Skillie ek gaan jou met boegoe ontsmet. Die Skilpaaie het vir ‘n hele jaar lank van die oorskot van die Kameelperd geleef.
Kaptein Ghaap het na die kinders gekyk en gesê: “Die les van hierdie storie is dat slimheid en geduld jou kan red uit selfs die gevaarlikste situasies. Die Skilpad was klein en swak in vergelyking met die groot en sterk Kameelperd, maar dit was sy slimheid en geduld wat hom uiteindelik gered het. Onthou altyd, kinders, dat dit nie altyd die sterkste is wat oorleef nie, maar die wat die slimste en mees vindingryk is. Gebruik jou verstand en bly kalm in moeilike tye, en jy sal maniere vind om uitdagings te oorkom.”