ORDE VAN DIE EREDIENS: KYRIEGEBED EN STILGEBED

Home » blog » gebed » ORDE VAN DIE EREDIENS: KYRIEGEBED EN STILGEBED

WAAROM ONS DIE KYRIEGEBED EN STILGEBED IN DIE EREDIENS BID

Wanneer die gemeente van die Protestantse kerk van Nederland (waar ek lidmaat is) op ’n Sondagoggend saamkom, is daar oomblikke van stilte en ootmoed wat vir my Geestelike betekenisvol is. Twee sulke belangrike elemente in die erediens is die Kyriegebed en die stilgebed. Hierdie gebede gee uitdrukking aan ons menslike nood, ons afhanklikheid van God en ons begeerte om Hom werklik te ontmoet – nie net met ons verstand nie, maar met ons hele hart.

1. Bybelse agtergrond

Die Kyriegebed kom van die Griekse woorde “Kyrie eleison” wat beteken: “Here, ontferm U oor ons.” Hierdie uitdrukking kom reeds voor in die Ou Testament se gebede om barmhartigheid, en in die Nuwe Testament roep mense Jesus herhaaldelik aan met hierdie woorde (bv. Matteus 15:22; Markus 10:47).

Stilgebed het ook ’n Bybelse wortel. In Habakuk 2:20 lees ons:

“Maar die Here is in sy heilige tempel – laat die hele aarde voor Hom stil wees.”
En in Psalm 46:11:
“Wees stil en weet: Ek is God.”

Hierdie gebede roep ons op tot stilte, eerbied, en ’n diepe afhanklikheid van God se genade en teenwoordigheid.

2. Hoekom ons dit vandag nog doen

In die Sondagoggend-erediens van baie Nederlandse kerke is daar twee besondere gebedsmomente: die Kyriegebed en die stilgebed. Hierdie gebede help ons om eerlik voor God te wees oor die wêreld se nood, ons eie gebrokenheid, en ons afhanklikheid van sy genade. Selfs vandag, in ’n wêreld vol pyn, geweld, gebrokenheid en onsekerheid, het die Kyrie sy plek behou. Dit is ’n eerlike, kollektiewe roep tot God om in te tree – vir die wêreld, vir ander, en vir onsself. Die gemeente antwoord daarop saam: “Here, ontferm U.” Dit het mettertyd bekend geword as die “Gebed vir die nood van die wêreld.”

Die Kyriegebed het ’n lang geskiedenis. Reeds in die vyfde eeu is die Griekse woorde “Kyrie eleison” (Here, ontferm U oor ons) in die liturgie gebruik. Hierdie gebed was oorspronklik gerig aan Christus as die een wat hoor, ontferm en red. Dit het later deel geword van die Protestantse liturgie as ’n gebed vir die wêreld se nood en ’n teken van ons afhanklikheid.

Stilgebed is net so belangrik. Dit gee elkeen die ruimte om persoonlik by God stil te raak, te bely, te luister en sy/haar eie gebed in stilte te bring. Saam vorm hierdie gebede ’n heilige stille oomblik aan die begin van die woor verkondiging.

3. Geestelike waarde

Beide gebede plaas die fokus nie op onsself nie, maar op God. Die Kyrie help ons om in solidariteit met die wêreld se pyn na God te roep. Stilgebed leer ons om met gedagtes te bid eerder as praat. Dit maak ruimte vir die Heilige Gees om in ons werk te doen – om ons te vertroos, te oortuig, en te versterk.

4. Aktuele voorbeeld van Kyriegebede

Here, ons bid vir die mense van Oekraïne, wat reeds so lank onder geweld en vernietiging ly. Ons bid vir kinders wat hul ouers verloor het, vir soldate en burgers wat moeg is vir geweld. Ons dra ook Gaza, Soedan en Kongo aan U op – streke waar dood, chaos en wanhoop heers. Bring vrede waar daar vrees is, en hoop waar alles donker lyk.
Here, ontferm U oor hulle.
1 Minuut vir Stilte Gebed

Christus, ons bid vandag vir almal wat swaar dra aan siekte en pyn.
Ons dink spesifiek aan ( Naam) , wat kankerbehandeling ondergaan, en aan ( naam), wat herstel ná ’n beroerte. Wees ook naby aan die familie van (Naam), wat haar man verloor het. Troos dié wat treur, en dra dié wat nie meer kan nie. U is die Groot Geneesheer – genees, versterk en omarm. Christus, ontferm U.
1 Minuut vir Stilte Gebed vir persoonlike gevalle

Here, ons bring vanoggend die wêreld se lyding voor U –
die geluid van koeels en glimmende messe, die gehuil van kinders, die trane van moeders, die hartseer van verkragting slagoffers.
Ons eie harte is ook moeg, vol vrae, bekommernisse en stilte.
Hoor ons as ons roep uit ons eie nood, en uit solidariteit met ander.
Ontferm U oor die skepping wat sug en verlang na verlossing.
Here, ontferm U oor ons almal.
1 Minuut vir Stilte Gebed

Christus, ons dank U vir mense wat ander dra: dokters, vrywilligers, vredemakers,
en diegene wat lig dra waar alles donker is.
Ons bid vir hulle, wat elke week by siekes besoek aflê, en vir hulle, wat hulp verleen aan noodlydendes.
Gebruik hulle, Here, as hande van troos.
En gebruik ook óns – maak ons gereed om U liefde te leef.
Christus, ontferm U oor hierdie wêreld.
1 Minuut vir Stilte Gebed

Almal sing Kyrie Eleison

5. Slotopmerkings

Die Kyriegebed en stilgebed is nie net liturgiese gebruik of ritueel nie – dit is geestelike momente waarin die gemeente saam na God roep, stil raak voor Hom, en Hom vertrou om teenwoordig te wees. In ’n wêreld vol pyn, is hierdie gebede ’n anker van geloof, hoop en liefde. Hulle herinner ons: ons is nie alleen nie – God hoor, God ontferm Hom, en God is naby.