DONDERDAG 29 MEI 2025 FLEKSIBILITEIT IN UITDAGENDE SITUASIE
1 KORINTIËRS 9 VERS 23 “En dit alles doen ek ter wille van die evangelie, sodat ek daaraan deel kan hê.”
INLEIDING
Fleksibiliteit is meer as net aanpasbaarheid; dit is ’n ingesteldheid wat verandering omarm, kreatiewe oplossings soek en vasberadenheid bou te midde van onsekerheid. In uitdagende situasies is ons dikwels geneig om terug te val op ou gewoontes – dit wat in die verlede gewerk het. Maar nuwe krisisse vra nuwe reaksies. Hier kom die sogenaamde aanpasbaarheidsparadoks (teenstrydigheid): wanneer ons dit die nodigste het om aan te pas, val ons terug op ou gewoontes wat nie meer werk nie. Ware fleksibiliteit beteken dat jy met Deliberate Calm – doelbewuste kalmte – reageer: jy neem ’n stap terug, dink bewustelik oor jou reaksie, en kies doelgerig ’n beter benadering. Dit is nie passief nie – dis ‘n aktiewe keuse tot selfbeheer, aanpassing en groei. In ’n wêreld vol verandering is fleksibiliteit nie net ’n oorlewingstrategie nie – dis ’n geestelike vaardigheid.

BYBELSE KONTEKS
In 1 Korintiërs 9 wys Paulus ons ’n meesterklas in fleksibiliteit. Hy sê: “Alles doen ek ter wille van die evangelie…” Hy het geleer om homself aan te pas by elke situasie – nie om goedkeuring te kry nie, maar om mense te bereik. Hy pas sy styl en benadering aan sonder om sy kernboodskap of identiteit prys te gee. Dit is ware geestelike volwassenheid: om in verskillende kulture, omstandighede en mensegroepe die regte toon te tref sodat Christus bekend gemaak word.
Paulus illustreer hier dat aanpasbaarheid nie swakheid is nie, maar diensbaarheid. Dit beteken om jouself te ken en jou doel duidelik te hou, selfs terwyl jy jou metode verander. Só kan ons vandag ook leer: wanneer ons konfronteer word met spanning, verandering of selfs weerstand, kan ons met wysheid en buigsaamheid optree – altyd ter wille van God se koninkryk.
KONTEKSTUELE TOEPASSING
Die lewe gooi gereeld krom balle – ‘n aflegging, ‘n diagnose, ‘n onverwagte verandering in verhoudings of finansies. Ons instink is om harder vas te klou aan bekende oplossings, maar soos navorsing toon, werk dit dikwels teen ons. Wat jy nodig het, is Deliberate Calm – ’n doelgerigte, kalm en bewuste reaksie op druk.
Die eerste stap is leerbaarheid (teachable): om te besef jy het nie al die antwoorde nie en daarom met ‘n oop gemoed nuwe maniere probeer. Dit vra ’n groei-ingesteldheid – nie alles is vas nie, ek kan leer. In plaas van paniek, stel vrae soos: “Wat het hierdie situasie werklik nodig?” en “Wat kan ek anders doen?”
Tweede is emosionele selfregulering: herken jou emosies, erken hulle, maar laat hulle nie jou optrede oorheers nie. As jy spanning ervaar, neem ‘n oomblik. Skryf neer wat jy voel en hoekom. Só kry jy perspektief en kan jy rasioneel optree.
Derdens is dubbele bewussyn: jy kyk na wat binne-in jou aangaan én na wat die situasie vereis. Jy leer om jouself objektief waar te neem in aksie. Jy vra: “Is my reaksie gepas vir hierdie situasie?” Só kry jy beheer oor jou reaksies, en nie andersom nie.
In die praktyk lyk dit soos ’n leier wat ’n moelike spanvergadering met kalmte benader, vrae vra in plaas van bevele gee, en ruimte skep vir ander om by te dra. Of ’n ouer wat, wanneer ’n kind se gedrag verander, eers luister voordat hy straf. Dit beteken jy neem leiding oor jou denke en emosies, en dit lei tot nuwe oplossings.
Fleksibiliteit is nie net om aan te pas nie – dis om doelgerig, met kalmte en insig, te groei deur moeilike situasies.

SAMEVATTING
Ware fleksibiliteit in moeilike tye is nie om net dinge maklik te laat voel nie – dis om met doelgerigte kalmte, leerbaar en selfbeheer situasies aan te pak. Dis om te sê: “Ek mag nie alles weet nie, maar ek kan leer. Ek mag gespanne wees, maar ek hoef nie reaktief te wees nie.” 1 Korintiërs 9 leer vir ons dat ons aanpasbaarheid nie net vir onsself is nie – dit dien die evangelie, dit dien ander, dit bou die Koninkryk. Wanneer jy leer om op hierdie manier te leef, word uitdagings geleenthede vir groei, en onsekerheid ’n plek van ontdekking.
PRAKTIESE WENKE
Begin jou dag met ’n aanpasbare ingesteldheid.
Sê vir jouself: “Ek gaan elke uitdaging vandag met ’n oop hart en leerbare gees benader.” Dit herlei jou fokus van beheer na groei.
Herken jou emosionele aanstekers en reageer bewustelik.
Skryf jou reaksies neer na spanningsituasies en evalueer dit. Jy sal sien waar jy kan verbeter – dit is self evaluering in aksie.
GEBED Here, leer my om nie vas te klou aan ou gewoontes wat nie meer werk nie. Help my om in moeilike situasies stil te staan, na U te luister en met wysheid aan te pas. Vorm in my ’n gees van kalmte, insig en liefde. AMEN
“Ware buigsaamheid is nie om jou vorm te verloor nie, maar om bewus te wees van wanneer en hoe jy moet verander sonder om jouself te verloën.”
1 thought on “DAGSTUKKIES DAG 29 MEI 2025: FLEKSIBILITEIT!”
Baie dankie ds Obe. Ek geniet dit nog. Die inhoud laat jou reg op sit en dink.
Daar is nog Baie vir my en ander om te leer.
Comments are closed.