FLEKSIBILITEIT! –  BLOGAANKONDIGING DAGSTUKKIES 26 MEI – 1 JUNIE 2025:

Home » blog » Fleksibiliteit » FLEKSIBILITEIT! –  BLOGAANKONDIGING DAGSTUKKIES 26 MEI – 1 JUNIE 2025:

NUWE DAGSTUKKIE REEKS – “FLEKSIBILITEIT!” (26 MEI – 1 JUNIE 2025)

Die bekende uitdrukking “When in Rome, do as the Romans do” is oorspronklik deur St. Ambrosius, ’n biskop van Milaan in die vierde eeu, geskryf. Hierdie wysheid klink dalk eenvoudig, maar dit dra ’n waardevolle boodskap: ware aanpasbaarheid beteken om te leer leef met verandering, sonder om jou kernwaardes te verloor. In Handelinge 22 sien ons hoe Paulus meesterlik hiermee omgaan – ’n briljante voorbeeld van geestelike en sosiale buigsaamheid.

Vyf jaar gelede het ek my grootste lewensverandering tot nog toe aangedurf – ek het van Suid-Afrika na Nederland geïmmigreer. As iemand van Khoi-afkoms het ek gou besef dat ek nie net my tas moes inpak nie, maar ook my ingesteldheid. Om suksesvol te integreer in ’n nuwe kultuur verg iets baie belangriks: fleksibiliteit. Ek kon nie verwag om in Europa soos ’n Khoi te leef sonder om ook ruimte te maak vir die Nederlandse manier van doen nie. Maar terselfdertyd het ek geweet ek hoef nie my wortels prys te gee nie – ek moes leer om balans te vind.

Ek nooi jou graag uit om saam met my op ’n nuwe geestelike reis te gaan met die dagstukkie reeks “FLEKSIBILITEIT!” wat plaasvind vanaf Maandag 26 Mei tot Sondag 1 Junie 2025. Hierdie reeks kyk na die waarde van aanpasbaarheid in elke aspek van ons daaglikse sosiale lewe – van verhoudings tot werk, immigrasie, en selfs skielike lewensveranderende gebeure.

Wat word daagliks behandel?

Elke dag se dagstukkie fokus op ’n unieke aspek van sosiale interaksie waar buigsaamheid noodsaaklik is:

Maandag (26 Mei): Verhoudingsbou – Wat kan jy verander, en wat nie?
Ons ondersoek hoe gesonde verhoudings gebou word op die bereidwilligheid om aan te pas – sonder om jouself te verloor.

Dinsdag (27 Mei): Balans tussen werk en sosiale lewe
Hoe hou ’n mens balans in ’n wêreld wat jou voortdurend in verskillende rigtings trek?

Woensdag (28 Mei): Fleksibiliteit en sosiale struktuur / identiteit (Immigrasie)
Wat beteken dit om jou identiteit te behou terwyl jy in ’n nuwe kulturele konteks aanpas?

Donderdag (29 Mei): Aanpassing by onverwagte gebeure
’n Kykie na geestelike gereedheid wanneer die lewe sy eie planne het.

Vrydag (30 Mei): Innerlike groei deur buigsaamheid
Waarom buigsaamheid nie net ‘n taktiek is nie, maar ’n teken van geestelike volwassenheid.

Saterdag (31 Mei): Verhoudings in kompleksiteit
Hoe buigsaamheid ons help om konflik te hanteer en begrip te bou.

Sondag (1 Junie): Fleksibiliteit as geloofsdaad – ’n les uit Paulus se lewe
Ons sluit af met ’n preek oor aanpasbaarheid, hoekom dit nie ‘n swakheid is nie, maar geloof.

 Hoekom is hierdie tema belangrik?

Ons leef in ’n tyd waar verandering vinniger as ooit gebeur.  Fleksibiliteit beteken om jou denke, gedrag en planne te kan aanpas sonder om te wankel in jou geloof of waardes. Dis nie toegeeflikheid nie – dis wysheid. Soos Henri Nouwen skryf:

“Fleksibiliteit is ’n belangrike deug. Wanneer ons vashou aan ons eie standpunte en nie bereid is om effens beïnvloed te word deur ander se idees of aksies nie, loop ons maklik die risiko om gebreek te word.”

Net soos riete wat buig in die wind, maar nie breek nie, moet ons leer om te beweeg met die winde van tyd – sonder om ons wortels in Christus te verloor.

Deel dit asseblief! Ons moedig jou aan om hierdie dagstukkie reeks te deel met: Jou gemeente; Regtegroepe wat werk met sosiale aanpassing en immigrasie; Jou familie en vriende en Jou sosiale media-groepe en netwerk.

Besoek my webwerf vanaf 26 Mei. Elke dag bring nuwe insig, ’n toepaslike Bybelteks en praktiese leiding vir jou persoonlike reis. Laat ons saam leer om buigsaam (Fleksibel) te wees – nie omdat ons swak is nie, maar omdat ons sterk genoeg is om aan te pas.

Wanneer jy in Rome is… doen soos die Romeine – maar doen dit met wysheid, geloof en sonder om jou waardes te verloor. Deel gerus en nooi ander saam!

Die ongeletterdes van die 21ste eeu sal nie dié wees wat nie kan lees en skryf nie, maar dié wat nie kan leer, afleer, aanpas en weer leer nie.

1 thought on “FLEKSIBILITEIT! –  BLOGAANKONDIGING DAGSTUKKIES 26 MEI – 1 JUNIE 2025:”

  1. This could serve as an eye opener for many. I love reading your articles al is dit in Afrikaans.
    Baie danki Obe

Comments are closed.