KERSETE MET FAMILIE – VREDE OF ONVREDE

Home » blog » KERSETE MET FAMILIE – VREDE OF ONVREDE

DINSDAG 23122024: DIE GESKENK VAN SELFBEHEERSING

“Want God het ons nie ‘n gees van vreesagtigheid gegee nie, maar van krag en liefde en selfbeheersing.” 2 TIMOTEUS 1 VERS 7

Selfbeheersing is ’n vrug van die Gees, maar dit is nie altyd maklik om toe te pas nie, veral tydens gesinsbyeenkomste waar emosies hoog kan loop. Paulus moedig ons aan om vrede en opbouing na te streef, wat dikwels begin met selfbeheersing.

Wanneer ’n familielid iets kwetsend, venynend, seermakend of uitdagend sê, is ons natuurlike reaksie dalk om terug te kap of onsself te verdedig. Maar Jesus roep ons na ’n hoër standaard. In plaas daarvan om uit frustrasie te reageer, neem ’n oomblik om te stop, asem te haal en te bid. Vra God vir die wysheid om met genade te reageer eerder as met woede.

Selfbeheersing beteken ook om te weet wanneer om weg te stap. As ’n gesprek warm raak, is dit goed om verskoning te maak en ’n oomblik te neem om jou kalmte te herwin. Onthou, stilte is nie swakheid nie—dit is dikwels ’n Geesbegeesterde bewys van sterkte en nederigheid.

Om selfbeheersing te beoefen, beteken nie om jou gevoelens te onderdruk nie, maar om te kies om dit aan God oor te gee. Laat Hom jou woorde en dade lei sodat jy Sy vrede na jou gesinsbyeenkoms kan bring.

GEBED: Hemelse Vader, dankie vir die geskenk van selfbeheersing deur U Gees. Help my om met genade en liefde te reageer, selfs in die mees uitdagende, frusterende en moeilike oomblikke. Laat my woorde en dade vrede bring en ander opbou. In Jesus se Naam. AMEN