DIE GEVEG OM DIE KAPTEINSKAP

Home » blog » DIE GEVEG OM DIE KAPTEINSKAP

KHOISTORIES (4) WIE GAAN DIE GEVEG WEN

Ghaap, aangedryf deur die woorde van sy oorlede Vader, Plaaitjie “Ghaap jy moet die Griekwa volk lei, wees altyd regverdig en kalm..” het kalm gebly in die klem van Boegoe se wurggreep. Hy wou net oorgee toe hy vir Pa Plaatjie in ’n dag droom sien, met ’n oerkreet het hy homself uit Boegoe se klem gewurm. Die twee het ’n paar sekondes geneem om asem te skep en ’n bietjie fontein water van hul aanhangers te drink. Ma Katrina het haar rug op hulle gedraai en stil geween, albei is immers haar kinders! Kaaitjie het aan almal vertel dat sy die wenner as !ntjatsie vat… nogal, voor hulle vroue!!!

Met ‘n vasberade wil om hulself te bewys, het die twee opnuut met onwrikbare vasberadenheid geveg. Boegoe het vir Ghaap vol op die krop geslaan dat Ghaap asem soek. Hy het net betyds vir Boegoe ontglip wat die genadeskoot wou toedien, toe die momentum vir Boegoe vorentoe trek steek hy voet uit om pooitjie. Hy kry toe kans om sy asem terug te kry. Alhoewel albei ewe sterk was, het Boegoe begin besef dat die gety teen hom draai. Ghaap se rustigheid en kalmte het gehelp want Boegoe het met ’n angstige begeerte geveg. Die stryd het voortgegaan, die stof wat om hulle draai was die keer nie as gevolg van Rieldans nie.

In ‘n beslissende oomblik het Ghaap daarin geslaag om die oorhand te kry en Boegoe op die grond vas te pen. Hy het sy broer se regterarm  met sy knie teen die grond gehou terwyl hy die linkerarm tot byna brekens getrek het. Boegoe was magteloos maar wou nie oorgee nie, sy gesig deurdrenk van pyn, sy vrou smeek hom oor te gee, maar nimmer niet. Die menigte het stil geword. Boegoe, met sweet-doordrenkte hare en ‘n diep geroggel, hoor sy broer sê “Boegoe asseblief gee op, een pluk en ek skeur jou arm. Skielik met n sagte stem, amper fluisterend … “Ek gee op,” het Boegoe sy nederlaag erken. Ghaap sy broer was nou die onbetwiste Kaptein van die Griekwas!

Met Boegoe se verklaring het die oudstes Ghaap gevra om in die middel van die kring te staan terwyl die volk spontaan begin Rieldans. Oom Klaas Beesvel die skeidsregter kondig toe aan dat Boegoe die wenner is. Die Griekwa gemeenskap het uitgebars in ‘n mengsel van toejuigings en applous, want die langdurige geskil was uiteindelik opgelos.

Ant Sanna die vroedvrou van Niekerkshoop se dogter Saai kom die aand daaraan met die donkiekar. Sy wou vir Ghaap en oom Klaas Beesvel spreek, sy wou vertel wat haar moeder op haar sterfbed vertel het. Sy vertel: “My ma Sanna het vir Ghaap en Boegoe gevang, en sy het iets belangrik vertel met haar laaste asem.” Ek het dit heeltemal vergeet tot ek die niewies kry van die stry oor die kapteinskap”. Oom Klaas antwoord ongeduldig “Toe nou wat het sy gesê, jy is net so langdradig soos Niekerkshoop se mense.” Saai het net gelag en verder vertel: “As Boegoe of Ghaap ’n moedervlek op die linkerstert het, wat soos ’n steenbok lyk is hy die oudste”.

Hulle roep toe vir Boegoe en die ander oudstes en kom ooreen dat die uitslag van die geveg nie meer saak maak nie, hulle linkerstert sal nou die bepalende faktor wees. Albei se linkersterte word toe deur Klaas Beesvel ondersoek en daar sien hy die kleine steenbok moedervlek ….

Môre op wie se stert was die Moedervlek … ?