6/3/2025 DEURSETINGSVERMOE DAGSTUKKIES

Home » blog » deusettingsvermoe » 6/3/2025 DEURSETINGSVERMOE DAGSTUKKIES

DONDERDAG 6 MAART 2025 –  MOED OM VORENTOE TE BEWEEG

JOSUA 1 vers 9: “Ek self gee jou die opdrag. Wees sterk, wees vasberade. Moenie skrik nie, moenie bang wees nie, want Ek, die Here jou God, is by jou oral waar jy gaan.”

Josua het voor groot uitdagings gestaan – die Jordaanrivier, die onbekende beloofde land, vyandige volke. Hy moes sonder sy leier, Moses, vorentoe beweeg. God se belofte was duidelik: Hy sou by Josua wees. Net so is God vandag by ons wanneer ons deur moeilike tye gaan.

Ons almal ervaar tye van verlies, onsekerheid en moedeloosheid. Dalk is dit die dood van ‘n geliefde, die onsekerheid van ‘n nuwe fase in die lewe, of ’n uitdaging waarvoor jy bang is. Net soos Josua oorweldig gevoel het, voel ons soms verlore en twyfel ons of ons die toekoms kan aanpak.

Maar God het Josua aangemoedig om sterk te wees. Nie omdat hy self sterk was nie, maar omdat God saam met hom sou gaan. Dit geld ook vir ons! Wanneer ons oor die “Jordaan” van onsekerheid moet beweeg, kan ons weet dat God ons nie alleen laat nie. Ons hoef nie in vrees vasgevang te bly nie – ons stap in geloof, want God lei ons, gee ons krag en help ons deur te volhard.

WENKE VIR DEURSETTINGSVERMOË

  1. Onthou God se beloftes – Hy het belowe om altyd by jou te wees, selfs in die moeilikste tye.
  2. Neem een stap op ‘n slag – Fokus nie op die hele pad vorentoe nie, maar op die volgende tree wat jy in geloof moet gee.

GEBED Here, gee my moed soos Josua om vorentoe te beweeg. Help my om op U te vertrou en deursettingsvermoë te hê wanneer ek twyfel. Lei my met U krag en wysheid. AMEN