VRYDAG 7 MAART 2025 – VASBERADE EN STANDVASTIG MOED OM VORENTOE TE BEWEEG
JOSUA 1 vers 9: “Ek self gee jou die opdrag. Wees sterk, wees vasberade. Moenie skrik nie, moenie bang wees nie, want Ek, die Here jou God, is by jou oral waar jy gaan.”

God gee vir Josua die opdrag om die beloofde land in besit te neem, maar dit sou nie sonder uitdagings wees nie. Hy moes volhard, vertrou en vreesloos wees. Net so word ons vandag geroep om met deursettingsvermoë in geloof te lewe, selfs wanneer die pad moeilik is.
Ons wêreld is vol versoekings en uitdagings wat ons geloof kan laat wankel. Soos die volk Israel moes volhard om die beloofde land in besit te neem, moet ons volhard om standvastig in ons geloof te bly. Vandag is ons grootste uitdaging nie fisiese gevegte nie, maar die konstante stryd om in gehoorsaamheid aan God te leef te midde van ’n wêreld wat dikwels anders glo en leef.
Dit is maklik om te kompromitteer wanneer godsdiensvryheid vanselfsprekend lyk. Ons moet egter, soos Josua, vasstaan en voortdurend oor God se Woord nadink. Ware deursettingsvermoë beteken dat ons ons lewenswyse daagliks aan God se wil toets, ongeag die druk van die wêreld. Ons moet nie bang wees nie – God is met ons!
- Oordink God se Woord daagliks – ’n Sterk geloof verg voortdurende nadenke en toewyding aan God se gebooie.
- Leef jou geloof bewustelik – Wees bewus van elke besluit en rig dit volgens God se wil, selfs wanneer dit moeilik is.
GEBED: Here, gee my die moed en deursettingsvermoë om U getrou te volg. Help my om sterk en standvastig te wees in my geloof, ongeag die uitdagings wat ek in die wêreld ervaar.AMEN.