22/2 WIE DIE LAASTE LAG – DAAGLIKSE OORDENKINGS: 17 TOT 23 FEBRUARIE 2025

Home » blog » 22/2 WIE DIE LAASTE LAG – DAAGLIKSE OORDENKINGS: 17 TOT 23 FEBRUARIE 2025

SATERDAG 22 FEB 2025 –  OM TE LAG IS BYBELS …

GENESIS 21 VERSE 1 – 5

Het jy geweet dat die Bybel self plek-plek humor bevat? Van grappige speletjies met woorde tot ironiese situasies, ons sien dat lag deel van God se skepping en plan vir ons lewe is. Sommige Dominees hou ook daarvan dat mense lag, miskien het jy al gehoor van die begrafnis versoek …  

Dominee: ‘Hoekom so hartseer broer?’ Broer LekkerJan: ‘My hond is dood. Sal Dominee hom begrawe asseblief?’ Dominee: ‘Nee broer, ons begrawe nie diere nie. Probeer die AGS oorkant die straat.’ Broer LekkerJan: ‘Goed, dink dominee die Pastoor sal ‘n fooi van R50 000 aanvaar?’ Dominee: ‘My magtig Broer LekkerJan ek bedink my nou, kom sit, pleks jy sê dis ‘n NG hondjie!

Lag is ‘n gawe van God. Dit is nie net ‘n natuurlike reaksie op iets snaaks nie, maar ‘n manier om gesondheid, genesing en vreugde te bevorder. God wil hê dat ons ‘n lewe van blydskap en ligtheid moet leef. Hy het ons met die vermoë geskape om te lag, en dit is ‘n belangrike deel van ‘n vervulde lewe.

Spreuke 17:22 sê: “‘n Vrolike hart bevorder die gesondheid; ‘n verslae gees laat die gebeente uitdroog.” Wetenskap ondersteun dit – lag help met stres, versterk die immuunstelsel en verbeter jou gemoed. Lag verminder spanning en kan selfs help om pyn te verlig. Dit is asof God vir ons ‘n natuurlike medisyne gegee het deur lag! Filippense 4:4 sê: “Verbly julle altyd in die Here; ek herhaal: Verbly julle!” Ons geloof is nie net bedoel om swaarmoedig te wees nie. Dit is vol vreugde!

Lag is ‘n manier om moeilike tye met ‘n ligter gemoed te benader. Dit beteken nie dat ons probleme ignoreer nie, maar dit help ons om dinge in perspektief te sien. Spreuke 15:13 sê: “‘n Vrolike gesig maak die hart bly, maar deur kommer van die hart word die gees verslae.” Mense wat maklik lag en vreugde uitstraal, trek ander aan. Jesus het gelag saam met mense. Hy het fees gevier, by bruilofte en etes teenwoordig gewees, en Hy het kinders omhels. Lag bring families en vriende bymekaar. Dit breek spanning en help ons om mekaar se geselskap te geniet.

God het ons met lag geseën om ons gesondheid, verhoudings en geloof te versterk. Dit is ‘n gawe wat ons help om ligter deur die lewe te gaan en God se goedheid te waardeer. Maak lag deel van jou geloofslewe!

Wenke vir ‘n blye hart:

  1. Vind elke dag iets om oor te lag. Luister na ‘n grappige storie, kyk na ‘n kind wat speel, of sien die humor in alledaagse situasies.
  2. Gebruik lag om ander se harte ligter te maak. Deel vriendelike woorde, moenie te ernstig wees oor klein dinge nie, en wees dankbaar vir God se geskenk van vreugde.

GEBED: Here, dankie vir die gawe van lag. Dankie dat ons vreugde in U kan vind, selfs in moeilike tye. Help ons om nie net lag as iets oppervlakkigs te sien nie, maar as ‘n manier om gesondheid, hoop en geloof te bevorder. Mag ons lag met blydskap oor U beloftes, soos Sara gelag het toe Isak gebore is. Mag ons lag met oorwinning, soos die dissipels gelag het toe U uit die dood opgestaan het. Vul ons harte met U vreugde! AMEN     

1 thought on “22/2 WIE DIE LAASTE LAG – DAAGLIKSE OORDENKINGS: 17 TOT 23 FEBRUARIE 2025”

  1. Heerlijk Obe,

    Een mooi begin van de dag met dat NG hondje
    Als kind genoot ik van de Rooms Katholieke Marie.
    Ze maakte een ochtend in de week schoon bij ons.
    Zij vertelde grappen over Petrus aan de hemelpoort
    Dar mocht eigenlijk niet van mijn moeder.
    Ik kon niet wachten tot het weer woensdag was.
    Ze had elke week wel eer een nieuwe grap

Comments are closed.