BELOFTE MAAK SKULD DONDERDAG 27 MAART 2025

Home » blog » Beloftes » BELOFTE MAAK SKULD DONDERDAG 27 MAART 2025

27 MAART 2025 DONDERDAG  WAT BETEKEN DIT OM ’N BELOFTE TE MAAK?

Prediker 5 VERSE 1 tot 6 “Laat jou mond nie,  jou laat sondig nie…”

Sommige mense belowe nie om jou opreg te dien as jy vir hulle stem nie, maar om hulleself beter te laat voel. Hulle hou daarvan om soos helde te lyk – maar sonder die dade wat daarmee gepaard gaan. Hierdie tipe beloftes is bedrog – en laat dié wat vertrou het, verward en geknak agter.

Prediker waarsku teen oorhaastige geloftes. Hy sê: “Laat jou mond jou nie laat sondig nie” (Pred. 5:5). God wil eerlikheid en toewyding hê – nie groot woorde sonder dade nie. Leë beloftes, veral voor God, is nie net onsensitief nie, maar ook sondig en selfgesentreerd.

Party mense gebruik beloftes asof hulle verslaaf is aan beloftes maak “Ek belowe ….” – hulle kry ‘n emosionele “high” deur ander se verwagtinge aan te wakker. Wanneer hulle iets belowe, voel hulle goed, belangrik en nodig. Maar sodra die tyd kom om te doen, verdwyn hulle, draai hulle die gesprek, gee hulle ander die skuld of gee skuld aan jou vir “te veel verwag”.

Hierdie tipe ‘belowe’ gedrag lyk op die oppervlak soos vrygewigheid, maar is in werklikheid selfgesentreerde manipulasie. Die persoon belowe dalk om te help, te ondersteun of betrokke te wees – maar dit is alles net vir die show. En as jy hulle daaroor konfronteer? Dan verdedig hulle hulself, word kwaad, of draai alles om sodat jy skuldig voel.

Dis veral pynlik wanneer so iemand ’n vriend, geliefde, of selfs ’n geestelike mentor is. Jy voel verwerp en begin twyfel aan jouself. Die waarheid is: hul woorde was nooit bedoel om nagekom te word nie. Dit was bedoel om goed te lyk, nie goed te doen nie.

Ware berou – wat die Bybel noem “goddelike droefheid” – lei tot verandering. Nie net woorde nie, maar dade. As iemand hul beloftes breek, maar nie hul gedrag verander nie, is daar geen ware berou nie – net wêreldse spyt wat net die skuld probeer afskud.

Die wêreld is vol mense wat eerder goed wil voel as goed wil doen. Maar God roep ons tot waarheid, opregtheid en verandering. Beloftes is nie vir selfbevrediging nie – dit’s ‘n saak van karakter. Moenie leë beloftes maak nie – en moenie daardeur mislei word nie.

 Twee lesse:

  1. Mense se beloftes wys nie altyd hul hart nie – kyk na hul dade.
  2. Goddelike berou bring verandering – wêreldse verskonings hou net die patroon in stand.

GEBED: Here, help my om te onderskei tussen ware integriteit en valse voorwendsels. Maak my ‘n mens van waarheid – nie net in wat ek sê nie, maar ook in wat ek doen. Beskerm my hart teen die seer van leë beloftes, en leer my om grense te stel waar nodig. En as ek self faal, bring my tot ware berou en transformasie. Mag my lewe U eer in woord én daad. AMEN