DINSDAG 27 AUGUSTUS 2024
Antieke Rituele tot Moderne Uitdagings
Alkohol het ‘n veelkantige geskiedenis wat duisende jare terugstrek, tot die vroegste beskawings van die wêreld. In antieke tye het mense die kuns van fermentasie ontdek, wat hulle in staat gestel het om alkoholiese drankies soos wyn en bier te produseer. In China is daar bewyse dat reeds in 7000 vC ‘n primitiewe vorm van alkohol gemaak is, terwyl Egiptiese muurskilderye van sowat 3500 vC mense uitbeeld wat feesvier met alkoholiese drankies. Hierdie vroeë beskawings het gou besef dat alkohol nie net ‘n drankie was nie, maar ook ‘n magtige stof wat in rituele en godsdiens gebruik kon word. Die Babiloniërs het selfs ‘n godin van wyn vereer, en in Indië is alkohol gemaak van rys in die vorm van ‘n drankie genaamd “sura.”

In die Griekse en Romeinse tydperke was wyn ‘n integrale deel van die samelewing. Dit het nie net as ‘n daaglikse drank gedien nie, maar was ook verweef met kulturele en godsdienstige rituele. Bacchus is die Romeinse god van wyn, dronkenskap, vrugbaarheid, en feeste. Hy is dikwels vereenselwig met die Griekse god Dionysus, wat ‘n soortgelyke rol in die Griekse mitologie vervul het. Bacchus is bekend vir sy invloed op wynproduksie, wingerdstokke, en die viering van lewensvreugde en ekstase deur feesvieringe. Die Grieke het wyn beskou as ‘n geskenk van die gode, maar hulle het ook gewaarsku teen die gevare van oormatige gebruik, soos in die geskrifte van filosowe soos Plato en Aristoteles te sien is. Gedurende die Middeleeue, toe drinkwater dikwels besoedel was, het mense bier gesien as ‘n veiliger alternatief. Veral die Monnike het in die kloosters bierbrouery gedoen as gevolg van die vuil water. Die proses van brouery het vinnig ontwikkel, en teen die sestiende eeu het alkohol ook ‘n belangrike rol begin speel in die mediese veld, waar dit gebruik is vir sy antiseptiese eienskappe.


Die agtiende en negentiende eeue het ‘n tyd van groot veranderinge in die gebruik van alkohol ingelui. In Brittanje het die parlement wetgewing goedgekeur wat die gebruik van graan vir die distillering van alkohol aangemoedig het, wat gelei het tot ‘n oorvloed van goedkoop spirits. Hierdie maklike toegang tot sterk drank het tot ‘n toename in alkoholmisbruik gelei, wat wydverspreide sosiale probleme veroorsaak het. Hierdie probleme het uiteindelik gelei tot die ontstaan van die temperance-beweging, wat gemik was op die bevordering van matigheid en later totale verbod op alkohol. In die Verenigde State het hierdie beweging gelei tot die Prohibisie-era van die 1920’s, wat uiteindelik in 1933 beëindig is, toe die verbod op alkohol opgehef is.
Omdat die aanvraag vir alkohol steeds hoog gebly het, het misdadigers begin om alkohol onwettig in te voer, te vervaardig en te verkoop. Bekende figures soos Al Capone in Chicago het groot fortuine opgebou deur die bedryf van sogenaamde “speakeasies” (geheime kroeë ons noem dit shebeens) en die smokkel van alkohol, bekend as “bootlegging”. Hierdie groepe het uitgebreide netwerk van korrupsie, geweld en intimidasie gebruik om hul bedrywighede te beskerm en uit te brei.

Die winsgewendheid van die onwettige alkoholhandel het gelei tot wydverspreide korrupsie. Polisiemanne, politici en ander openbare amptenare was dikwels omgekoop om die aktiwiteite van georganiseerde misdaadgroepe te ignoreer of selfs te ondersteun. Die Prohibisie-era het ‘n permanente en strukturele verandering in georganiseerde misdaad in die Verenigde State teweeggebring. Misdaadorganisasies het nie net groot hoeveelhede geld gemaak nie, maar het ook gesofistikeerder en beter georganiseer geraak. Na die einde van Prohibisie in 1933 het hierdie misdaadgroepe hul operasies na ander onwettige aktiwiteite verskuif, soos dobbelary, prostitusie, en dwelmhandel, en het hulle steeds ‘n groot invloed gehad in die kriminele onderwêreld van Amerika.
SAMEVATTING
Alkoholiese drank (later ook dwelms) het dus nie net gelei tot ‘n tydperk van grootskaalse misdaad en korrupsie nie, maar het ook ‘n blywende impak gehad op die ontwikkeling en volhoubaarheid van georganiseerde misdaad (bendes) regoor die wêreld. Klink baie bekend vir die Kapenaars en omstreke … My advies is stop met gebruik van die wortel van omtrent alle kwaad …. Alkohol!!!